Ek ponder nou alweer dae lank oor persepsies wat mens het oor mense. Met Paul Newman se dood, net soos laasjaar toe Norman Mailer gesterf het, het ek myself weer betrap dat ek ietwat geskok is dat iemand soos daardie dan soos 'n gewone mens ook sterflik is.
Ek was mal oor Paul Newman. Nie oor sy looks nie, maar oor die man wat ek vermoed hy privately was - as mens die fame nie byreken nie. Op die oog af 'n gewone ou, maar onder die oppervlak heel verrassend. 'n Gelukspakkie vir iemand wat die moeite sou doen om bietjie te delwe. Sulke ouens is skaars en hulle kom in allerhande onverwagte gewade.
Ek onthou vir Paul Newman die heel beste as Cool Hand Luke - die ou wat só carried away geraak het met sy resolve om die system te beat dat hy uiteindelik nie omgegee het om daarvoor te sterf as dit dan al manier was om die stryd wat hy aangepak het deur te sien nie. 'n Rebel wie se cause aan die einde van die dag, toe alle ander causes in hom uitgewoed was, rebellie self geword het.
Dit is volgens die mense wat van sulke dinge weet die fliek waarin Paul Newman se vakmanskap in sy beroep vir die eerste keer waarlik sigbaar geword het. Tóg het hy ten spyte van sy looks en heel respektabele vertonings nooit die screen aan die brand gesteek soos sy tydgenote Marlon Brando en James Dean momenteel gedoen het nie, maar nietemin het hy sy vlam in die openbare lewe meer as 60 jaar lank konstant aan die brand gehou terwyl Brando s'n hoog gebrand, later huiwerig geflikker en toe in kontroversie en vetsug versmoor het, terwyl Jimbo homself jonk-jonk in 'n sportskar teen 'n boom of 'n ding afgeskryf het - na 'n handjievol moewies waarin hy myns insiens nie veel meer gedoen het as om mooi genoeg te lyk om die girls na die odeons te lok en sigaret in die bek te staan en onverstaanbare (vir daardie tyd!) hip-klinkende onsinnighede binnensmonds te mompel nie.
Maar, ai. Paul. Die blou oë en die vinnige karre onthou al ons girls goed. Beter as die acting - as ek moet eerlik wees. En daardie gekeepte kennebak ook nog. Ja ...
Ek het amper vergeet dat Paul Newman 'n nyweraar ook nog was. Wat in minder as twee jaar meer as 250 miljoen dollar uit sy reeks slaaisouse en ander eetgoeters vir welsynsprojekte gegenereer het nadat hy die totale na-belasting netto-inkomste van die Newman's Own kos-label blykbaar net so aan charities uitgedeel het.
Die mees merkwaardige ding omtrent hierdie man bly egter dat hy die resep gevind het om vir meer as 50 jaar vir dieselfde vrou lief te bly. "We have had long, really difficult times, but we have enough lust and respect," he told The New York Times in 1998. "We're lustily respectful, respectfully lustful." Ek weet nie of dit noodwendig almal se geheim vir ewigdurende liefde sal of moet wees nie, maar van Evaskant klink dit as jy my vra ook nie half bad nie. Veral as jy in ag neem dat hy toe reeds 73 jaar oud was!
"He's very good-looking and very sexy, and all of those things," het Joanne Woodward, sy vrou van 'n halfeeu eenkeer glo tydens 'n onderhoud gesê. "But all that goes out the window, finally, and what finally is left is if you can make somebody laugh, then that's what it is."
Dis mos wat ek hoeka al ook sê: looks tel nie. Aan die einde van die dag gaan ons almal anyway moer lelik wees en dan moet daar ander goed in plek wees - soos om met mekaar en deur mekaar entertained te wees. En tevrede. Gekoester. Veilig. Om in enige setting waarlik te kan sê: saam met hierdie mens kom ek niks kort nie.
Onder normale omstandighede het mens pelle en familie wat deel is van die landskap waarbinne jou verhouding bestaan, maar ek glo mens kan selfs onder die mees ideale omstandighede slegs vir 50 jaar by iemand bly wanneer jy weet as julle in 'n woestyn sou wees waar julle die enigste twee mense vir myle omheen is, jy nog steeds die lewe verkwiklik sou gevind het omdat daardie persoon saam met jou daar is. Selfs in daardie dor landskap wat Hollywood genoem word.
Al het hyself gebrag dat om 19de op Nixon se lys van politieke aartsvyande te gelê het, sy grootste prestasie ooit was - 'n akkolade waarop ekself ook nie min trots sou gewees het nie - bly dít vir my Paul Newman se coolste achievement: dat hy reggekry het dat sy lewensmaat vir 'n leeftyd lank by hom verkwik bly voel het.
Krokodil


