Bokomo-brekfisbrief; 02/09/2010: "˜"˜Turkish Delight'' in die oortreffende trap

  • 0

Ons reis het nou gevorder tot in Göreme in Turkye wat werklik 'n "delight" is. Göreme is geleë in die mees uitsonderlike omgewing genaamd Kappadosië. Voordat ons hier aangekom het, het ons nie eers geweet van die bestaan van hierdie besondere landskap met sy ongelooflike natuurskoon nie en was Kappadosië net ’n naam wat iewers in die Bybel genoem is. Aangesien ek nou nie meer deesdae erg met die boekie omgaan nie weet ek nie eers in watter verband dit genoem is nie.

Van Alexandropoulos in Griekeland het ons na die Turkse grens gery en maar gehoop en vertrou dat ons inligting korrek was dat ons visums op die grens kon kry. Daar aangekom het ons ons groen Suid-Afrikaanse paspoorte oor die toonbank geskuif en die norserige beampte het dadelik begin rondblaai vir ons visums. Aangesien ons Turks redelik beperk is, het ons met handgebare aangedui dat ons nog visums móét kry en hy is daar weg met ons paspoorte na sy senior toe. Toe hy glimlaggend terugkom het ons besef dat ons inligting korrek was. Na ’n betaling van 10 Euro per persoon het hy ons in sy baie beperkte Engels baie welkom geheet in sy land en die visums in ons paspoorte aangebring – hy het ons selfs lekkers aangebied!

Vandaar het ons na Istanbul gery en in ’n uiters primitiewe kampplek langs die Swartsee kamp opgeslaan. Die volgende twee dae het ons al die pragtige besienswaardighede in Istanbul besoek en kan ons bevestig dat Istanbul, naas Kaapstad, een van die mooiste stede in die wêreld is. Ons het die beroemde Blou Moskee besoek maar omdat dit Vrydag was en boonop Ramadan kon ons nie ingaan nie. Dit is egter ’n indrukwekkende struktuur en kon ons deur die venster na die biddendes kyk.

Die verkeer in Istanbul is hewig en dit was ’n verligting dat ons vroeg Sondagoggend in baie stil omstandighede die tog deur Istanbul se middestad kon aanpak. Dit was regtig ’n wonderlike ervaring om met ons eie voertuig oor die beroemde hangbrug, wat Europa met Asië verbind, kon ry.

Na ’n rit van meer as 600 km het ons laatmiddag in Göreme in Kappadosië aangekom waar ons  die volgende paar dae sou deurbring. Die een voertuig wat die Land Rover gesleep het se koppelaar het hier die gees gegee en ons verblyf in Göreme het skielik langer geword – iets waaroor ons natuurlik glad nie kla nie.

Kappadosië is bekend vir sy onbeskryflike mooi natuurskoon wat bestaan uit pragtige rotsformasies met die interessantste vorms. Dit voel werklik of jy in ’n sprokiesland rondloop en elke gesig wat jy sien wil jy net afneem omdat alles oorweldigend mooi is.

Hier het ons die geleentheid gebruik om met ’n lugballon die beeldskone omgewing beter te beskou. Hier is ’n magdom lugballon-operateurs en op enige gegewe oomblik vroeg in die oggend is daar ’n stuk of veertig ballonne in die lug.

Sodra die voertuig se koppelaar reg is vertrek ons na Sirië. Ons het gelukkig reeds visums vir Sirië en behoort dit dus geen probleem te wees om toegang tot Sirië te kry nie. Sirië is blykbaar heelwat goedkoper as Turkye (diesel kos R 15 per liter en petrol is bykans R 20 per liter!) en ons sien baie uit na ons tydjie daar.

Ek kry maar min kans om na die skrywes op LitNet te kyk maar dit lyk vir my of ou Kosie nog steeds aan die kdk-praat is. Ek begin nou ernstig na julle almal verlang en hoop om so einde November weer te begin deelneem aan die gesprek. Ek beoog om vir julle meer te vertel van my waarnemings van die veragterlikings-effek van godsdiens op 'n bevolking. Jammer Kobus, jy sal tot dan moet wag!

Groetnis.

Thomas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top