Bokomo-brekfisbrief; 02/08/2010: Wewenaar

  • 0

Hier in my geweste is nie so baie wewenaars nie. Baie weduwees wel. Die slim mense het 'n verduideliking oor gene en als en nog wat. Ek dink dis oor mans te veel aanjaag en dan te veel worry of hul uitgevang gaan word dat hul so gou doodgaan. Wel, bygesê, die manne werk darem baie hard (soms) en moet bekommer oor klogoete en skoolgelde en (dikwels) papgeld en sorg vir die spul dat dit dalk uiteindelik uitloop op 'n hartkwaal of een of ander ding wat jou onner die grond laat beland. Die tegniese goete gaan my egter lankal nie meer aan nie. Want dood moet jy tog dood die een of anner tyd, nè?

Of dalk is dit bloot net die eenvoudige: Vrouens leef oor die algemeen langer as mans. Hier in Oesterland in elk geval (en [sug] nee, ek het geen empiriese bewyse hiervoor nie) lyk dit so, want oral is weduwees en die odd wewenaar het 'n rojale lewe. As hy weet wat hy doen en genoeg geld het, bygesê.

So begrawe ons so 'n ruk terug vir tannie Poppie hier bo teen die koppie. Strawwe roker gewees wat toe nie aan longkanker dood is nie. Oom Wiet was 'n gebroke man, maar die lewe moet mos aangaan nè? Dis nou al meer as 'n jaar gelede, en nou lyk dit vir my die ou is oor sy rou.

Want nou spook die spul weduwees. Nie om by te kom nie, om die ou weg te hou. Ek het hom vroeg beduie dat my geliefde moeder buite perke is (hy moet Ra Mavenster se skoene kan volstaan, wat moeilik is, synde sy voete nie inpas nie) so nou knipoog hy nie meer na haar rigting nie. En dra nie meer biltong aan wat ek opeet nie. En so het hy al basies oral in die buurt en ander buurte gekuier en uitgevat en loop dobbel en loop eet by die Spur en soms, as die weduwee meer kieskeurig is selfs by die Cattle Baron of die plekkie doer by die hawe wat laataand outydse musiek speel en mens lekker close kan dans. 

So 'n paar weke of wat terug kom kla die ou hoeka nog oor die "bad luck" wat hy met vroumense het. Want jy weet mos as 'n hond daai deng geruik het en nie kan bykom nie ... Veral as dit hardverdiende pensioengeld is.

So kom hy Maandagaand hier in en ek sien hier kom 'n ding. Want die hare is amper soos destyds: Gebrylcream (I shit you not!). Plat op die kop agteroor gekam om te wys dat hy nog nie bles is ten spyte van sy jare nie. (Genadiglik het hy nie die grys probeer uitkry nie ... ) Syserp (I shit you not!) om die nek. Blink skoene aan en netjiese broek, pienk hemp (Jip!),  die werke. Ek vra hom toe oor die baadjie wat lyk of dit sy skouers agtertoe trek toe hy beduie: "Hel, Oester, ek het hierdie baadjie laas aangehad toe Saartjie aangeneem is. Gedog die ding pas nog ..."

"Maar hoe hou, oom, mens sien jou nie aldag so nie?"

"Ek gaan ouers vra vanaand ... "

"Kannie wesie oom!" Hier rond weet mens mos as Pietie 'n myl ver weg 'n oorryp vleisie geëet het, so hierdie kon eenvoudig nie ongesiens verbygegaan het nie?

"Wie's die ouers, oom? (en sal hulle hoegenaamd nog worry oor hul dogter se aanstaande op hul ouderdom? Ek meen, hulle moes dan mos die Boereoorlog ook oorleef het, verdomp!) Eintlik probeer ek uitvis wie die "gelukkige" antie is.

"Jy sal sien" is al wat hy wou weergee. "Ons gaan die special eet by die casino en as sy iets gewen het dan gaan ek 'n bottel Champagne bestel en dan gaan ek haar vra."

Dis nie lat mens angstig is oor anner mense nie, dis meer 'n geval van: Die ou is erg lonely, en hy verlang na 'n sagte lyf om die spasie vol te maak, so jy wens hy kry nog 'n antie Poppie.

So sien ons die Ford Cortina verbyjaag in dolle vaart die volgende oggend en Duifie beduie: "Die ou het op sy moer gekry" .En toe draai sy om om te loop doen wat sy gewoonlik doen. Wat nie altyd baie is nie.

Later die middag kom koop die ou 'n PS (I Love You) (waar was die goed toe ek nog jonk en puisierig was?) en toe weet ons ... Daai antie het nie gewen nie.

Bleddie Casino!

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top