Daar is nog hier en daar manne van naam. En hier praat ek nou nie van boys wat naam het nie. Herre, wat sê ek! Ek wil dit nou nie oor manne wat berug of beroemd is nie. Wat in die straat af stap of in die kroeg in wandel en almal raak stil nie. Hier en daar is af en toe ‘n mens man wat stilweg ‘n ding gaan staan en doen wat ons ander manne koud laat worre. Wat jou laat wonder of die bliksem doodeenvoudig stokonnosel is of hy dalk varkie los het en of hy maar net nie die woord bang ken nie. Of dat hy Geloof het. Weet, soos Daniel van ouds.
XX is ‘n soort van aardsboemelaar. Nie boemelaar soos in straat af bedel nie, maar boemelende dat hy sy gat nie
XX het Geloof. Nou nie die soort ‘n KdK’er opgewonde sal maak nie maar nogtans geloof. Hy spandeer byvoorbeeld ‘n paar maande tussen die Boesmans in die woestyn. Doen dinge soos hulle dit doen. Dans. Hol kaalgat rond tussen die duine. Skiet ‘n bok met ‘n mankeliekerige gifpyltjie. Drink kakwater. Praat met Boesmangode asof hulle vrinne is. Word ingelyf as ‘n Boesmanbroeder. Snuif die wind en word primitief. Glo in die ou gode van wie net hy die name ken. Ek het so ‘n vae vermoede hy maak hulle op soos hy boemel. Net ter insae.
So praat hy my om om (Lekker ou Afrikaans die ‘om’!) ‘n paar toeriste te vergesel die wildernis in. Hy is die toerleier. Nie dat hy bekend is as toerleier nie. Hy was die goedkoopste. Ek is net daar vir ‘backup’. Sy Engels is nie te waffers nie. Hy is dan ook nie van die geselserige soort nie. ‘n Stil man. Die idee is om met die bussie tot op ‘n plek te ry en daarvandaan te stap na die kampplek. Die ‘riste is almal van Londen. Gawe mense en ons gesels lekker. Ek dink XX maak hulle effens senuagtig. Hy lyk soos iets wat nou net uit die bos gewandel het. En hy het so ‘n ruikie om hom.
Die kampplek is bloot ‘n reuse wildevy. Nou kyk, dis wilde wêreld. Als wat groter as vyftig kilos is wil aan jou vreet. Leeus, buffels, olifante en renosters. En ‘n spul ander dierasies wat jy nie eens ken nie. Woeswild.
Daar aangekom beduie hy die ‘riste moet bly sit. Hy wil net kyk of dit veilig is. Ek en hy klim uit. Hy stap so in die rigting van ‘n sloot. Ek maak die geweer staan teen die bussie en steek my pyp op. Die ‘riste is beïndruk.
Glo my. Glo my as ek sê ek lieg nie. XX is so tien tree van die sloot af. Duik ‘n leeumannetjie daar uit! So bedonnerd soos net ‘n leeumannetjie
Stil.
Ons moet een van die ‘triste lawe. Hulle weier botweg om uit te klim.
XX krap in die koelkas. Haal ‘n bier uit. Gee my een. Hy knak een vir homself. Sy hand bewe effens. Ek sê niks.
HJ


