Die middernagdiens is verby en haar vriende laai haar by die huis af. Die tuin is vol bruinpapiersakke met brandende kerse in sand geanker. Om die huis brand gekleurde stringe liggies. Sy loop verby die dansende mense, verby die donker kombuis waar twee mense in ʼn vurige omhelsing staan.
Sy tel haar boetie wat in die TV-kamer lê en slaap, saggies op en gaan sit hom in sy bed. Eers toe sy op haar eie bed na die plafon lê en staar, besef sy dat dit haar pa in die kombuis was, besig om Auntie Beryl te soen.
Later kyk sy deur haar kamervenster en sien hoe Auntie Beryl haar balans verloor en in die swembad val. Haar chiffonrok dryf op die wateroppervlak. Sy hoor haar ma se gemaak-vrolike stem vanuit die sitkamer.
"Ek haat hom! Ek haat hom! Ek haat hom!" Sy weet hierdie sekerte sal by haar bly tot die dag wat sy doodgaan.
***
Die vrou stap by die kamer in. Sy kyk na die ou man wat vooroorgeboë op die bed sit. Sy verrimpelde hande op sy knieë.
"Hello Daddy, happy New Year," sê sy en buk af om sy skoenveters vas te maak voor sy hom versigtig in die rolstoel tel en hom by die deur uitstoot.
Tweeling


