Mense sien nie noodwendig politieke partye meer as die primêre of enigste spreekbuis waardeur hulle hul politieke wil kan uitdruk nie. Dit is 'n onbetwisbare feit. Mense konformeer ook nie meer in alle dinge aan die ideologiese pakket wat die party wat hulle normaalweg in algemene verkiesings steun aan hulle opdring nie. Hulle is nie meer blindelings lojaal aan hulle party en hul leiers nie.
'n Heel nuwe politieke dinamika het spontaan uit die kortpad-vattery van baie drukgroepe en vakbonde ontstaan wat van openbare demonstrasie (of die dreigement daarvan) en ander vorme van massakohesie gebruik maak om hulle stempel op openbare beleid en die politieke proses in die algemeen af te druk. Binne hierdie dinamika is die stemvee nie meer oor al die issues wat hulle lewens raak aan 'n enkele ideologiese voorkeur gebonde nie, want wanneer die gemeenskap strate vat, staan elke saak op sy eie meriete – naak aan ideologie.
Dit is gelyktydig 'n opwindende en gevaarlike verwikkeling, want enersyds hou dit die belofte van vernuwing en dinamika in omdat dit politici die geleentheid ontneem om ons met die behoefte aan 'n politiek korrekte ideologiese verbintenis (wat hulle in ons in geïndoktrineer het) te manipuleer en andersyds bevat dit potensieel 'n ernstige bedreiging vir die voorspelbaarheid en gevolglik ook die stabiliteit van ons gevestigde politieke proses. Dit is, soos met so baie dinge, weer eens bloot maar 'n kwessie van belange en perspektief.
Die punt is dat gewone mense nie meer vir verkiesings elke vyf jaar hoef te wag om hulle voorkeure deur middel van vae en wyd gedefinieerde partybeleid kenbaar te maak en boonop maar te hoop hulle verkosenes respekteer dit vir die duur van die termyn nie. In drukgroep-politiek is die detail gedefinieer en die resultaat gewoonlik tasbaar en onmiddellik.
Partypolitiek het hier, sowel as in die res van die demokratiese wêreld, grootliks gestagneer as gevolg van 'n politiek korrekte draadsittery waar politieke partye ter wille van kort termyn populariteitsgewin hulleself in 'n onhoudbare jukstaposisie in gekompromitteer het, vanwaar beduidende ideologiese vernuwing en dus betekenisvolle beleidsontwikkeling feitlik, nee, eintlik heeltemal onmoontlik is.
Dit is nou aan die man op straat oorgelaat om self die nodige verandering te bewerkstellig deur die politieke establishment te dwing om uit sy gemaklike gematigde comfort zone uit te beweeg. Dit is duidelik dat die stemvee nie meer vir hulle deur partybeleid, catchy slogans elke vyf jaar en ready-to-wear ideologiese pakkette gaan laat ore aansit nie.
Ons leef in 'n era van postmodernistiese politiek met nuwe buzz words soos Diep Demokrasie, gemeenskapsbelang en drukgroep-politiek en, so wil dit voorkom, almal behalwe die keisery weet 'n postmodernistiese kleed kan jy nie van enkeldraad weef nie.
Groetnis uit die voeg.
Krokodil


