Beste Angus, Paul, Thomas en Dan
Ek lees met die grootste belangstelling 'n brief aan Lappop, Leon, en Oom Daan van 29-04-2009 deur die kuber-evangelis oor sy beste films ooit, waarin hy konstateer: Ben-Hur en The Ten Commandments met Charlton Heston is absolute juwele ... As ek daarna vra, weet die videowinkels nie eers waarvan ek praat nie". (Ek wonder of hy dalk bedoel Charlton Heston se "familie-juwele"?)
Die vervaardiger van hierdie twee Amerikaanse eposse was mnr Cecil B de Mille, die seun van 'n Episkopaalse "lay reader" en 'n Sefardies-Joodse ma, 'n uitgeslape en suksesvolle sakeman wat daarin kon slaag om sy filmprodukte wat baie seks en geweld bevat, onder die dekmantel van "godsdienstige" temas te verkoop. Op hierdie wyse het hy die sg Heys-kode, of produksiekode (1934), omseil wat punt vir punt neergelê het wat op film vir Amerikaanse gehore welvoeglik sou wees, wat vertoon kon word en wat die publiek mog aanskou. As voorbeeld van hierdie kode: nakedness and suggestive dances are prohibited. Mnr de Mille kon hierdie verbod in The Ten Commandments met die verfilming en vertoning van die orgie tydens die aanbidding van die goue kalf deur die Israeliete omseil.
As ek die film nou in my volwasse jare moet sien, sal ek ongetwyfeld begin lag wanneer "God" met sy Amerikaanse aksent met Moses (Heston het nog altyd vir my met sy aapgesig soos die "missing link" gelyk) begin praat toe hy hom die Tien Gebooie gee. Ek kan nie onthou of daar 'n brandende bos was of nie.
Homoseksualiteit was sedert die opstel van die produksiekode streng verbode in Hollywood films, asook seks oor die kleurgrens.
Wat Ben-Hur betref, kan 'n sterk saak uitgemaak word dat dit een van die grootse "gay" eposse is wat nog ooit verfilm is, waar die liefde tussen die Jood, Judah Ben-Hur, en die Romein Massala, in 'n verhouding van haat verander wanneer die Jood die Romein se liefde vir hom verwerp. Die verdere ontwikkeling van hierdie homo-erotiese verhaal is dan een van wraak, en nie een van versoening, vergifnis of liefde nie. Dus, die moraal van die Ou Testament triomfeer oor dié van die Nuwe Testament en Christus se erfenis. Maar dit pas alles mooi in by wat die kuber-evangelis gereeld op hierdie webwerf propageer.
Ek dink hy moet maar sy twee video's gaan soek op die rakke van "Adult World" wat in hierdie tipe genre spesialiseer.
Beste groete
Pieter Redelinghuys


