Bokomo-brekfisbrief; 02/05/08: Kitsbanke en kasregisters

  • 0

... en nou vir iets heeltemal anders as my gewone klagtes oor die inkonsekwente behandeling van blankes, plaasmoorde of regstellende aksie.

My eerste klagte is 'n versigtige een teenoor Hulle Wat Gehoorsaam Moet Word  - die skoner geslag. Spesifiek hulle gedrag by kitsbanke.

Die tou is lank en jy is haastig.

Sy staan voor in die tou. Sy kry haar geld. Die masjien spoeg die strokie uit. Sy bestudeer die strokie in fyn besonderhede en jy kan sien hoe die wielietjies draai terwyl sy ʼn volledige breinrekonsiliasie uitvoer van alle transaksies sedert 1990. Dit tref haar dat sy haar kaart en kontant in die hand het. Sy maak haar handsak oop. Oeps. Deurmekaar.

Tyd om die handsak reg te pak, en om al die kaarte in haar beursie te herrangskik. Ruk ou strokies uit beursie, bestudeer hulle ook sorgvuldig. Gooi die strokies ouer as 1981 weg. Handsak word 'n paar keer geherrangskik.

Die res van ons trippel van een voet na die ander en hoop sy kry klaar voor die volgende beurtkrag-sessie ons tref.

Mans by 'n kitsbank: kry geld, strokie en kaart. Beweeg weg en gee die volgende een 'n redelike kans tot toegang.

Tweede klagte.

Hedendaagse kasregisters is rekenaarterminale met ʼn skerm wat na die kassiere gedraai is. Die ou soort het 'n deursigtige glasgedeelte gehad, of so 'n groen LED-venstertjie bo-op wat kon omdraai om vir jou te wys wat jy skuld, soos hulle dit opgelui het.

Die nuwes het dit nie.

Jy kom by die kassiere. Sy lui jou items op (of skandeer hulle eintlik, ook 'n proses wat nie sonder sy frustrasies verloop nie – items waarvoor daar nie 'n prys teen die rakke is nie, die skandeerder wat die strepieskode nie optel nie, ten spyte van vyftig kanse wat die kassiere dit gun, en my persoonlike gunsteling: die kode wat nie op die stelsel is nie en 'n 45-minute vertraging veroorsaak terwyl 'n pakker dit luilekker moet gaan soek). Aan die einde van die proses kyk die kassiere jou met afwagting aan, wat gaandeweg verander in irritasie aan haar kant soos jy staan en wonder wat die skade is.

Op daardie punt wil ek my beste John Edward, Marietta Theunissen of Michaela "impression" doen, my vingerpunte teen my slape druk en sê: "Wag, wag, dit kom na my toe ... die bedrag is ... ja ... R331,24!!! Is ek reg of is ek reg?"

Anton B

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top