Bokomo-brekfisbrief; 02/04/2011: Bruinbrood

  • 0

Hier in ons geweste is daar twee tipes bruinbrood. Soms, so sê die mense, was sommige manne liewer vir die bruin- as die witbrood. Loop steeds rond, in hierdie eeu van kwasi-verdraagsaamheid met die stigma wat aan hul kleef. Oor die brood. Die anner soort brood.

Maar dan het jy die gewone brood. Die ene met die semels in. Die arm man se kos. Die stories loop mos dik oor hoe arm mense destyds was. Van die uitgetrapte skoene wat moes hou vir die tweede en derde kind en met gelap aan die voete moes bly. So kon ons nooit verstaan waarom ons as jongelinge die gesonde bruinbrood met al sy vesel en heilsaamheid en anti-oksidante en als wat ladieda is mog eet nie. Net witbrood is toegelaat.

Baie later sou ons uitvind dat daar 'n spesifieke rede was: Ra Mavenster kon nie bruinbrood verdra nie want dit het hom te veel herinner aan die tye toe daar niks anders was om te eet nie. Bruinbrood en dit wat hierdie geliefde Blou Dam van my kon oplewer. Want geld vir beter was daar nie. En toe wonder ek, want ek moes dikwels dinge beskou wat vreemd op die oog af was. Oop skoene in die openbaar was verbode. Want die matriarg is nooit dorp toe sonder toe skoene en hoed nie. Al was hulle so uitgetrap dat die senings gewys het en net die Nugget die goed aanmekaar gehou het. Want 'n vrou sou tog nooit haar hakskene gewys het vir die wêreld nie, sou sy?

Dis vreemd hoe dinge so vinnig verander het volgens die mode. Doerie tyd was dit 'n teken van armoede as jy 'n bruinbrood of 'n emmer bruinmeel loop koop het. Vandag is dit 'n teken dat jy gesondheidsbewus is en dat jy jou semels wil inkry. Gesond wil wees. Dit wat destyds as arm man se skoene beskou is, is nou hoogmode. Al is beide ewe uitgetrap. Ek sien die arm vrouens wat dorp toe pendel en onwillekeurig kom die liedjie op oor Oudtshoorn se meisies wat met skeefgetrapte skoene loop en mens kan net glimlag.

Wonder hoe sou die nuwe geld se mense oor die weg gekom het as die rolle omgeruil moes word? Ek eet net bruinbrood as ek geen keuse het nie. Dalk is dit hoe ek opgegroei het? Kaviaar was en is nog steeds iets wat jy eet as jy 'n veer voel vir alles en almal rondom jou. Dit is polities veral vandag heeltemal onkorrekte eet. Tog is daar mense wat dit doen, om 'n punt te bewys. Soos Tannie en wilde Salm. En perlemoen, ook destyds die arm man se kos.

Smaak  my bruinbrood sal altyd in die mode wees, want die armes sal jy altyd met jou he, en al word almal skielik ryk, sal jy dit steeds kan verkoop.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top