Bokomo-brekfisbrief; 02/03/2011: Volkswagen Kombi

  • 0

Vertel P vir my van die dag toe hy by sy voertuig kom, en ek weet regtig nie of hy besig was om net nog ’n stadslegende te begin nie:

Want P ry ’n voertuig wat gesog is waar dit die vervoer van massas mense aanbetref: Volkswagen Kombi. Sonder tekkies maar steeds ’n kombi. Hy beduie vir my dat hy moes in by ABSA (dit kon FNB of enige van die ander skelm banke ook wees) vir ’n transaksie. Wat uitgedraai het op ’n uur of twee se staan en sit by mense wat nie wil of kan help nie. En nie belangstel nie. Want selfs die bankbestuurder se hand is pap en glimlag hang af van hoe groot die rekening is.

Hy sê hy is heel moerig by daai bank uit. En het nie mooi opgelet met die aanstap nie. Besig met papiere en bankstate en syfers wat nie regtig sin maak nie. Mens val mos nie iemand in die rede as hy praat nie maar ek het klaar gedog oor wat kom. Hy sê hy het twee of drie keer by sy eie voertuig verby gestap. Afstandbeheer gedruk en "piep-piep" gehoor en ’n sug van verligting gesmaak soos sovele mense mos maar deesdae doen want jy weet mossie of jou voertuig geBEE is nie, nè?

P sê hy het geweet dis sy voertuig maar kon net nie een en een bymekaar bring nie, want sy voertuig was nie vol mense nie. Sy voertuig was ook blou. Metaalblou, maar hy vervoer kinders as hy met vakansie gaan. Nie passasiers nie. P sê die bankstate was vergete en hy wens hy het eerder meer moeilikheid by die bank gehad. Want sy Kombi het vol mense gesit. Shoprite-pakkies en Edgars-winskopies die lot. Ingeryg soos sardientjies. Reg vir die rit.

Ek was nie daar nie en wens ek kon ’n vlieg teen daardie Volkswagen se dak wees, want dis asof dit uit ’n B-movie is: Hoe verduidelik jy vir 20 of meer mense dat jy nou gaan ry na jou huis toe sonder ompaadjies? Hoe praat jy met mense wat klaar R20 of R30 betaal het om by die huis te kom? Hoe de hel kry jy betalende passasiers uit jou gesinsvoertuig sonder moleste?

Hy sê die eintlike storie het na die tyd uitgekom: ’n Slim enterpreneur het die geleentheid gesien om vinnig ’n paar rand te maak. In plaas van die Kombi te steel het hy bloot die deur gebreek en loop sit agter die stuur, en beduie dat hy nou op pad is na Kwa-watsenaam toe. Buite gestaan en beduie dat hy net R20 of R30 vra vir die rit. Met die kombi vol passasiers het hy beduie dat hy net gou kafee toe wil om te loop blikkie Coke koop vir die senuwees. En dis hoe P die spulletjie gekry het. Wagtende om huis toe gevat te word. En erg moerig oor hul drywer net nie opdaag nie. Want dis verdomp warm as jy gedruk sit in ’n taxi. Met al jou Shoprite-sakke en die lot.

Ek stik van die lag maar vra tog uit oor wat en waar en hoe? P verduidelik dat hy maar die lot huis toe gevat het. Want sonie sou dit tot groot moeilikheid gelei het. Hy moes wel verduidelik hoekom hy so laat was maar hy beduie dat vroulief hom in elk geval nooit sou glo as hy haar die waarheid moes vertel nie.

Die Kombi staan nou en wag tot dit tyd is om die woonwa te sleep. As die bakkie nie beskikbaar is om mee te ry nie dan stap hy maar eerder. P beduie dat dit in elk geval goeie oefening is. En Mammie glo dit, so almal is tevrede. Al vloek hy in sy binneste as hy verdomp in die warme son moet voetslaan dorp se kant toe.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top