Bokomo-brekfisbrief; 02/03/09: Rattling your cage

  • 0

 

 

Diereregte is al beskryf as die laaste van die groot vryheidsbewegings. Die ander vryheidsbewegings was natuurlik die bevryding van slawe en vroue, praktyke soortgelyk gewortel in die idee van eienaarskap en gebruiksreg. Vandag het ons name vir hierdie arbitrêre diskriminasie tussen individue op grond van kleur en geslag: rassisme en seksisme. Maar wat van spesie-isme?

Daar is natuurlik ʼn ooreenkoms tussen die slawehandel van destyds en ons beskouing van diere as siellose, ondergeskikte wesens wat daar is om onsself te verryk uit die handel in hul velle, pelse en vleis - ʼn praktyk wat moontlik gemaak is deur die Auschwitz-agtige fabriekplase wat ons daarvoor geskep het.

Let op die ooreenkomste tussen die genadelose praktyk van jag op slaaf en jag op dier: hoe hulle gebrandmerk, vervoer, uit familie-eenhede geruk, opgeveil, geslaan en aan dwangarbeid onderwerp word, uitgelewer aan elke gril en gier van die eienaar. Nes slawe, kan diere gekoop, verkoop en van kant gemaak word nes dit die eienaar behaag.

Het ʼn dier nie ook ʼn fundamentele, onvervreembare reg op ʼn lewe nie? Dood is die hoogste verlies, daarom die ergste moontlike daad teen ʼn dier. ʼn Dier se lewe is vir hom so kosbaar soos joune vir jou. Nes ʼn slaaf het ʼn dier nie regte omdat ons waarde aan sy lewe heg nie; hy het daardie waarde inherent.

As dit nie so is nie, sou die feit dat Adolph Eichmann en Adolph Hitler arbitrêr kon besluit wie vir lewe geskik was en wie nie en hulle mense met verstandelike en liggaamlike gebreke van kant kon maak, nie immoreel wees nie. ʼn Minagting vir die lewende wese wat nie wetlike regte het nie, is ʼn potensiële bedreiging vir alle lewende wesens wat uitgelewer is aan die ideologieë en waardesisteme van die heersers van die dag.

Deur diere soos sjimpansees (wat geneties byna glad nie van ons verskil nie) hierdie fundamentele reg te ontsê, ondergrawe ons ons eie fondasie van menseregte. En so word dit almal se probleem, nie net diere s'n nie. Ons geslag funksioneer in ʼn oudmodiese paradigma wat nie in lyn is met ons siening van ewolusie nie.

Diegene wat hulle vir die regte van diere beywer, kom voor dieselfde probleem te staan as diegene wat hulle destyds vir die regte van slawe en vroue beywer het: konsensus-realiteit. So ʼn realiteit is ʼn kultuur-afhanklike verwysingsraamwerk. Dit is ʼn selfvervullende profesie. Dit ontstaan wanneer die meerderheid oor iets saamstem en so ʼn dominante wêreldsiening daarstel wat as evangelie gevolg word en almal vergeet dat hulle met interpretasie te doen het, eerder as met logiese konstruksies. Selfs al deel almal dieselfde siening, maak dit daardie siening nie eg nie; dit beteken slegs dat almal dieselfde illusie deel.

Dit verg moed om met konsensusrealiteit te breek. Dit verg ook intellektuele energie - dit vra dat jy die auto pilot sal afskakel en die beheer van jou grysstof sal oorneem.

Karien Deneuve

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top