Bokomo-brekfisbrief; 02/02/09: Zero Bravo

  • 0

 

 

'n Kollega het 'n paar dekades gelede 'n vergadering by die Reserwebank gaan bywoon en met sy terugkeer die volgende storie vertel:

Die ingangsportaal van die gebou het gewemel van sekuriteitswagte en nadat hy die nodige papierwerk ingevul en metaalverklikkers deurwandel het, beduie iemand hom in die rigting van die hyser, wat hy toe in die teenwoordigheid van twee pragtige jong dametjies en 'n sekuriteitswag met 'n walkie talkie bestyg. Die wag is toe die ene paraatheid en terwyl hy kliphard probeer voorgee dat hy nie van die twee meisies se teenwoordigheid bewus is nie, bring hy die radio saaklik tot voor sy mond en brom:

"Zero Bravo. Kom in Zero Bravo."

Net 'n gesuis. En nou kyk almal vir hom terwyl hy bietjie met die volume-knoppie peuter, 'n James Bond-glimlag na sy mede-passasiers flits en met bietjie meer dringendheid sê:

"Zero Bravo! Kom in Zero Bravo!"

Statiese gesuis. Kug-kug. En met 'n half versteende glimlaggie karring hy weer aan die volume-knoppie voor hy (hierdie keer half omgesukkel) lostrek met:

"Zero Bravo!! Kom in Zero Bravo!!"

Aanvanklik weer niks, maar net toe die wag sy kop half vererg begin skud en weer aan die volume-knop wil vroetel, word die gesuis skielik onderbreek deur 'n stem wat buldererend uitbasuin:

"Jý is Zero Bravo, jou P**S!!!!!"

Oom Daan

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top