Bokomo-brekfisbrief; 01/08/2010: Spoedhobbels

  • 0

Spoedhobbels het baie stories om te vertel. Eerstens is daar die hoës met die weggee-diep-groewe ná die heuwel ... ’n duidelike bewys van iemand wat te vinnig gery het en lekker deurgeslaan het! Dan is daar die plattetjies wat lyk soos pasteie en wat nie veronderstel is om soos sirkels gebruik te word nie. Ek dink min mense weet dat dit soos ‘n vierrigtingstop gebruik moet word, behalwe waar anders aangedui. Ek is ook nie heeltemal seker nie, want ek het my lisensie al voor die Groot Trek (buiteland toe) gekry, voordat almal soos varke begin ry het!

Die skrikwekkendste op die spoedhobbellysie is dié wat oornag verskyn het op ‘n plek waar jy elke dag ingedagte ry. Skielik doem die swart teerwal voor jou op (natuurlik is dit nog nie geverf nie) en trek jou kar deur die lug soos ‘n gelanseerde vuurpyl. Ongelukkig is die slag terug aarde toe oorverdowend en smoor jou liederlike “O, f&k!” voordat iemand dit kan hoor.

Die aakligste is dié wat in skadu gehul is en net tydens die skepping  daarvan, laas geverf is. Dan is die waarskuwingsbordjie ook nog ingespan as advertensiebord of dis sommer skoonveld … dien seker iewers as stutpaal vir iemand se dak. Die kersie op die koek is wanneer daar reg voor die hobbel ‘n helse slaggat ook is! Hier by ons is ‘n straat waarvan die oppervlak vodde is, maar ‘n maand terug gooi hulle drie spoedhobbels daar en  moet ‘n mens deur die gate maneuvreer om by die hobbels uit te kom! Eish!

Die ergste nog, is die vier-by-viers, taxis en motorfietse wat sommer óp die sypaadjie verby die hobbel jaag. Huiseienaars langs sulke hobbels, probeer vergeefs met klippe, paaltjies en ander stuitmiddels die manne van hul sypaadjie-grasperke afhou, maar daar’s altyd een of ander aap wat dit regkry om ‘n nuwe pad langs die ou ene te maak!

Totdat mense nie selfdissipline aan die dag begin lê nie, sal hierdie noodsaaklike euwel tot die eindtye met ons wees. Sug!

Groetnis,

Perdebytjie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top