Bokomo-brekfisbrief; 01/08/09: Mooi vrouens, nav Reusedwerg

  • 0

 

 

Dit laat my onmiddellik dink aan my pêl A iewers doer bo in die noorde van ons land. As student moes ek soms stom toekyk hoe hy die mooiste van die mooies voor mens wegraap. Mens koop nog blomme en teddiebeertjies en skrywe à la Steve op mooi treintjie-skryfblokke vir hulle die mooiste gedigte, dan kom A en praat twee sinne en die girls val soos vlieë voor sy aangesig neer.

Want sien, A is nou regtig nie 'n "oil painting" nie. Nie dat ek een is nie, maar tog. A het mos destyds met 'n trok chicken gespeel. Op sy RZ 50. En toe sleg tweede gekom. Hulle moes sy gesig herbou, en hulle het haastig gewerk. Sy arm en been kon hulle red, maar ook maar net. Ek vermoed die deel wat saak maak, was ongeskonde, dié dat die girls gedurig om hom gehang het. Nee, ek praat van sy brein, of nee, ek praat eintlik van altwee breine, as ek moet eerlik wees.

Nietemin, ons het gedurig vir A gevra of hy 'n goue watsenaam het en hy was baie filosofies daaroor: "Mens het dit, of jy smag daarna." Mmmmmm. Ons gewone manne moet lank en hard werk om 'n mooi vrou te beïndruk. A was sommer baie reguit as hy een teëkom. Nee, ek weet nie wat daar gepraat is nie, maar hulle het gewoonlik 'n ruk lank verdwyn. En die volgende aand moes ons vir die joolkoningin beduie dat A 'n dringende afspraak met een of ander prof het. Die dames het, nodeloos om te sê, altyd daarop aangedring om te wag.

Nou wonder ek weer, Reusedwerg, is dit een of ander magiese aanklank? Ek onthou destyds op Jan Smuts hoe hierdie mooier-as-'n-mens jong dingetjie haar bejaarde man kom aflaai. Ek het gestaan en kyk hoe sy hom uit sy DDM uithelp. En toe wonder ek: Dit kan tog nie net die geld wees nie, kan dit?

Ari het geld gehad. Bronson het die naam gehad. Steve het mooi briefies. Ek en jy het nie een van daai drie nie, en tog ...

En tog kla ons nie, of wat praat ek alles?

Groete uit Oesterland

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top