Bokomo-brekfisbrief; 01/08/08: Vis, lekker vis!

  • 0

Gerhard lê so behaaglik terug in sy eetkamerstoel en stoot sy bord terug. Hy kan nie meer 'n hap ekstra eet nie. Sulke vars kabeljou doer van die kus af is darem maar lekker op sy tyd so tussen al die gevleisery deur hier in die binneland, en sy vrou wéét mos darem ook hoe om vis gaar te maak. Hy kreun. Hulle nig Daleen van Swakopmund het 'n geleentheid gekry saam met 'n mannetjie wat vanoggend op Swakop weg is binneland toe en dié het die boks met vis sommer kom aflaai ... en saam met die vis het sy sommer die regte speserye ook saamgestuur om dit meer spesiaal vir hulle te maak.

Sy vrou staan op om tafel af te dek en begin om skottelgoed te was en Gerhard staan op en gaan haal die pos op die gang se kas en begin daardeur kyk. Dis net rekenings en rekenings, maar darem ook een wit koevert wat aan beide hom en sy vrou geadresseer is. Dis van einste Daleen van Swakopmund en sy skrywe van die kinders se verkoue en dat die mans so lekker visgevang het en dat sy hoop hulle die vis gaan kry sodra sy 'n geleentheid vind om dit vir hulle te stuur. Verder vra sy of hulle vir tant Bertha, haar buurvrou, onthou wat hulle ontmoet het toe hulle laas by haar op die kus was? Die tante is intussen oorlede en sy is veras. Sy het juis vir haar, Daleen, gevra om vir hulle te vra of hulle nie so bietjie van haar as wil vat en op die plaas uitgooi nie? Daarom het sy sommer die bottel met die as saam met die vis in die boks gesit.

Gerhard het so valerig geword en gemaak dat hy by 'n toilet kom ... dis wat gebeur as die pos so stadig is en die motorkarre te vinnig. Hulle het dié dag toe sommer vir oorle' Bertha so halfpad opgeëet!

NAMIB

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top