Bokomo-brekfisbrief; 01/06/09: Naas, my Koevoet-vriend (vir Oester)

  • 0

 

 

Hy was my vriend se ouer broer, groot sterk Naas. Sy van los ek maar, sy familie is nog rou. Dekades later.

Goeie sportman, effe lui met die skoolwerk, maar slim. Baie slim. Altyd effe aan die eenkant, al het hy baie tjomme en girls gehad. Almal het van hom gehou, maar niemand het hom heeltemal geken of verstaan nie. Veral nie sy sielkundige-ma nie. Vir haar het hy, soos sy ander broers, op haar knieë gehou.

Na skool nie seker wat hy wil word nie (En dit uit die huis van briljante ouers). Amper skandalig gewees daai tyd. So slim en so bevoorreg, en tog weet die kind nie waarheen nie.

Besluit toe om poeliesman te word, en "te kyk wat gebeur". Beland by Koevoet. Styg uit, bereik gou leierskapsposisie. Klap koppe, slaan catches soos jy nog nooit gesien het nie. Man van geen genade, trap hulle sommer met die Casspir se lekker groot wiele onder aansporing van sy medelede. Drink saans die oorwinningsbier. Later brannas, want die bier raak met tyd te flou.

Word uiteindelik die hero wat sy ma lankal soek. Kry uiteindelik die erkenning wat hy nooit ooit tuis gehad het nie. Manne om hom praat, selfs in hierdie onverskrokke groep, met bewondering oor Naas. En tog bly hy op die kant.

Kom huis toe, Joburg toe. Meer eenkant as tevore. Stiller as ooit tevore. Brandewyn al soggens, en dan vir die hele dag. Praat nie. En sy ma, wat tevore op haar knieë was, kan nie meer cope nie. Want sy weet .....

Hulle't hom in die mielieland gekry, ou Naas. Mooi jong groot sterk seun. Uit goeie Afrikaner-stock. Met alles vir hom.

Daar het hy sy laaste brandewyn gaan sit en drink. Toe die 9 mil gevat, sneller getrek.

En uiteindelik vrede gevind.

Groetnis

Bobbejaanboer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top