Bokomo-brekfisbrief; 01/05/2010: Dok T se teorie, Gina

  • 0

Dok T is nie net die beste dokter nie, hy is ook nie net 'n legende nie, hy is ook 'n MENS. Iemand wat te veel nonsense opgevreet het om nog steeds sonder om lang vrae te vra elke dag sy mens tot diens te wees. In kort: Daar is te min mense soos hy in hierdie land. En ek het die voorreg om hom nie net VRIEND te noem nie maar ook amper Pa.

Nietemin, oor sy teorie:

Anders as vroeër jare se dokters was dok T nie net dokter en predikant en sielkundige raadgewer nie, maar ook Tandarts. En synde dok T letterlik duisende tanne in sy lewe moes trek neem ek aan hy weet waarvan hy praat.

Dok T het beduie dat hy destyds mense hier rond se tanne sommer gou-gou getrek het. Die goed glip sommer uit sonder moeite. Hy sê dis die waters (ek kom netnou daarby). Die manne en maninne wat van die Karoo se koers af kom tanne trek het was gans en al 'n ander storie. Want jy kry eenvoudig nie daardie tand uit daardie kas uit nie. Soos hy self sê: "Jy sukkel jou gat af om 'n Karoonaar se tanne te trek, want die goed wil nie uit nie, en dis die water wat hulle drink."

En sonder om lang bewyse en empiriese verifikasies en eeue se studies na te spoor maak sy redenasie vir my logies sin:

Hier by ons in Oesterland loop die riviere mos basies van die berg af reguit Blou dam se koers, met hier en daar 'n draai of twee. Die waters het nie veel kans om minerale en ander goeie goete op te neem nie.

Die Karoo is 'n ander saak, want daardie waters lê lank, neem al die goeie goete op en dikwels kom dit van ver onder die aarde se oppervlak uit. Daarom dat die tanne so sukkel om te trek.

Ek is geneig om met my geliefde Dok saam te stem al het ek nie die nodige bewyse nie. Ek hou eerder van die mees logiese verklaring as 'n lang teorie wat niemand in elk geval werklik kan bewys nie.

En nee, as jy dalk gewonder het: Ek ganie die verklaring vir die hekkie gee nie. Daar is verskeie teorieë oor daardie twee tanne wat nie meer daar is nie. Ons praat verkieslik nie daaroor nie, al brand ek self om dit te doen.

Ek wens jou nie net groete nie, ek wens jy kan vir Dok T ontmoet.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top