Het vandag 'n staaltjie gehoor wat ek graag met julle wil deel.
My skoonsuster en haar man neem gereeld met vakansietye kinders van die kinderhuis in. So het hulle Desember 'n vyfjarige outjie by hulle gehad en soos gewoonlik hul bes gedoen om die vakansie vir hom so lekker moontlik te maak.
Toe klein Thysie dus een middag 'n tandjie wissel en dit ewe trots vir skoonsus kom wys, sê sy hy moet die tand oornag in sy skoen sit sodat die tandemuis vir hom 'n geldjie kan bring. Dié aand gaan sit sy toe sommer 'n vyftigrandnoot vir hom in die skoen. Soos 'n mens kan verwag is hy rasend opgewonde toe hy die volgende oggend die geld vir haar kom wys. "Sjoe, tannie, ek het nie geweet julle muise is so ryk nie!"
"Ja, nou kan jy begin spaar vir daardie motorfiets wat jy eendag wil koop as jy groot is," sê sy goedig.
Toe my swaer die volgende oggend in die badkamer kom, ontdek hy die glasie waarin hy sy elke aand kunsgebit bêre, is dolleeg. Sy tande is weg! Hul soektog lewer niks op nie en swaer moet sonder tande gaan werk.
Later die dag wil skoonsus 'n sekere paar skoene aantrek. In elk van hulle ontdek sy 'n tand. En met verdere ondersoek ontdek sy elke liewe skoen in die huis het 'n tand in. Eers tóé besef sy wat gebeur het. Thysie moes 'n paar berekeninge gedoen en besef het teen vyftig rand stuk steek daar inderdaad baie geld in so 'n stel kunsgebit!
Die gevolg? Swaer was vir weke tandeloos voordat hy 'n nuwe stel kon kry!
Groete
Ina


