Bokomo-brekfisbrief; 01/02/2011: Advokate en strippers en wyn en kurwes en nog wat

  • 0

So sit ons en teug na ’n lang dag se mark hou en wonder of die note in die blikkie die moeite werd is vir die kostes aangegaan en jy beraam alreeds planne om te verduidelik wat jy gaan sê aan jou boekhouer. Maar Paul Marais se beste vloei soos water en die skare kom nader vir die beste uit my geliefde Blou Dam. Die fundi's mmmmmm en aaaaaahhhh en wow en gaan tekere en ons begin om op te pak want dinge raak laat en daar is nog baie werk wat wag.

En sowaar as vet, hier kom sit ’n mensie wat al haar groentetjies kleintyd opgeëet het sommer hier op die ou Nissan se klap. Asof ons al jarre lank ou vrinne is. En vra vir ’n glasie van Paul Marais se droë wit. Mens gooi maar al gooi jy mis want jy weet mos hoe gaan dit as jy staar na daai goete waaroor manne vir eeue al oorlog maak.

Ek vra uit (al het ek lankal gehoor) van waar en van hoe en wie en wat en die gewone. Nee, seg sy, sy is nou klaar met al die snert sy kan nou gaan praktiseer. As advokaat. Ek dink dadelik aan watse oortreding ek iewers kon begaan het en ek wonder oor daardie speedfine wat ek annerdag gekry het toe hulle my sommer met ’n glimlag met twee en ’n half duisend rand beboet het. Ek willie meer die ding vat om gesquash te word nie, ek wil nou loop verdedig. In die hoogste hof wat ek kan. Want as my advokaat so lyk sal geen judge my vonnis vir 180 ry in ’n 80 sone nie. (En nee, spoed maak dood, moenie jaag nie! Dis glad nie cool nie.)

Ek vertel haar van Krokodil wat sopas haar LLB met lof en alles gekry het (julle weet dat ons geliefde Krok nou ME Krok is, nè?) en sy knip haar ogies soos iemand wat verstaan. En beduie met haar glas dat hy nie vol genoeg is nie. Ons praat oor regsake en oor uitgewysde goete en wette en ek vra haar uit oor haar tyd as paaldanseres.

Sy ignoreer my vraag en beduie dat dinge kompleks is vir jongelinge om in diens geneem te word as jou vel die verkeerde skakering het. Ek beaam alles en kan nog hier en daar iets onthou van die presiese regsvraag maar ek wonder toe tog oor haar tyd by Teazers. Sy beduie dat Lollie ’n vark was maar ek willie hoor hoe varkerig Lollie of Pollie of Twakkie of wie ookal was of is nie. Ek wil weet van die pale en die dansery. Sy eet die beste uit my geliefde Blou Dam en ek bied nog aan, want sy rol haar oge as sy proe.

Sy praat oor die tegniese aspekte van die reg en haar hand skuif-skuif die hals reg. Ek sien die noodsaaklike is rooi maar maak of ek niks gewaar nie. Maar ’n man is mos maar ’n bok en ’n bok bly ’n bliksem, en jy weet mos watse ding ’n bliksem is. Later raak ons toe tog aan die gesels en mens besef toe tog dat hierdie pragtige meisiekind wat al haar groentetjies kleintyd opgeëet het meer is as dit wat soveel mans gedink het. Sy het (soos alle vrouens) meer breins in die vuil onder haar toonnael as meeste mans saam. Sy het bo en buite die paal uitgestyg en staan nou trots as een van die nuutste toevoegings tot ons reg en geregtigheid. Maar ek sien nog steeds die kurwes en die pragtige glimlag en die oe ... herre, dis vrouens se oë wat mens lam maak, en hul hande as hul die hare so uit hul o ë vee ... Jeeeeez broe!

Ek bekyk hierdie wonderwese wat kon uitstyg bo dit wat die deursnee manlike uitvaagsels van haar verwag het en ek weet: Hier is inderdaad hoop vir hierdie Wonderland van my. Met sulke vrouens en sulke kurwes kan dit mos nie anders nie, kan dit? En jip, Thomas, ek dink jy moet kom bekyk hoe goed Moeder natuur inderdaad kan werk as ons Haar net bietjie spasie gee ...

Tog, ek wil nog vra en ek gaan nog. Eendag. Om ’n laaaang kaggelvuur. Nadat ek ’n sterk genoeg saak het wat sy kan verdedig. Is dit sonde om die vrou te aanbid? So ja, dan sien ek uit na die helse vagevuur.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top