Bokomo-brekfisbrief; 01/02/2010: Thula-thula

  • 0

Ek kan nie glo dat iemand Annelie Botes se boek as pornografie beskou nie, eers klaar lees en dan verbrand, maar onthou darem in detail die detail. Ek is van mening dat seuns ouer as agtien maar die boek kan lees. Verkieslik as hulle ‘n oop verhouding het met hulle ouers sodat hulle dit agterna kan bespreek. Bloedskande is ‘n tragiese probleem in Afrikaanse gesinne, of ons dit wil ontken of nie. Hiermee wil ek nie voorgee dat dit nie in ander gemeenskappe plaasvind nie, maar dit kom meermaal voor in ‘n patriargale sisteem.

Tog het ek al in ‘n saak getuig waar ‘n ma (hoe sy haarself so kan noem!) ‘n twee maande oue babadogter met haar tong gestimuleer het. Volgens haar was dit al wat die kind laat ophou huil het. Haar man het op haar afgekom, haar vol bloukolle gefoeter en die kind na my toe gebring. Hoe die hel het sy dit in die eerste plek uitgedink? Haar pa het haar so getroos toe sy ‘n kind was!

Ek lees eerder nog ‘n soortgelyke boek as die boek van die Romanza-reeks wat ‘n Rooi Rose/LAPA-toekenning ontvang het, nl Tussen Jazz en Rock. Dit handel oor twee mense wat uit absoluut net drange bestaan en mekaar die hele tyd ‘wil bespring.' Tot foonseks vir hierdie gesinstydskrifverhaal. Goeie gesinswaardes met voorhuwelikse seks ens, ens en sommer gratis by jou maandelikse Rooi Rose. Dis net ‘n voorbeeld en ek probeer nie eers die twee met mekaar vergelyk nie.

As Annelie se boek net een vrou kan vrymaak of net een man laat besef wat hy doen, het sy al iets bereik. En jy mag maar skryf Annelie. Jy is ‘n skrywer van formaat.

Douwlina du Plessis

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top