In Japan, when talking about other people, one uses honouring titles after their name.
The most common title is “san” (さん). It means all of "Mr", "Mrs", "Miss" and "Ms".
Op 'n bloulugdag in Japan, lank voor die 2019-Wêreldrugbybekertoernooi, omhels daar vyf Suid-Afrikaners mekaar op die heilige berg Koja in Afrikaans. Ons omhels luidkeels in die stil hoofstraat van een van Japan se heiligste bestemmings, die Boeddhistiese tempeldorp Kojasan. Die rus en stilte hier verklap niks van 'n opkomende wêreldbekertoernooi nie. Dié Unesco-wêreldlys-bestemming se 52 oornagtempels bied pelgrims en toeriste 'n unieke ervaring om deel te neem aan die tradisionele gebruike en rituele wat teruggaan tot die 8ste eeu. 'n Wenk vir Wêreldbekerpelgrims in Japan: In dié heiligdom heers 'n welkome rusplek en lafenis na die intense spanning en opwinding, en hoop op ons Bokke.
Nes Tafelberg, het die berg Koja ook 'n vinnige manier na bo. Ernstige pelgrims stap op en “spirituele” toeriste neem die kabelspoor. 'n Vriendelike monnik bo-op die berg bied ons al buigend 'n netjiese kaart aan met die dorp se 117 tempels, en die 52 shukubu of oornagtempels. “Betaal op bus nommer twee as jy oornag,” verstaan ons terugbuigend. “En klim af by stop nommer agt. Daar is julle oornagtempel, genaamd Fudoin.”
Dis elke dag Sondag in Kojasan. Daar heers 'n stilte hier wat hoorbaar is. Dis of te hard praat dalk die telling sal beduiwel, of die stilte sal versteur voor 'n strafskop. Monnike en nonne loop in 'n vreedsame optog verby en die klip-klop van houtklomp-plakkies weerklink op die skoon plaveisel. Hulle wit groottoonvriendelike sokkies lyk of dit altyd skoon en vars bly deur alle rituele heen.
By die ingang van ons tempelhotel vorm twee houttrappe 'n sitplek vir skoene wissel. Daar staan reeds verskeie groottes bruinleerpantoffels reg vir aantrek. Jou buiteskoene laat jy by die deur – en daar is 'n streng tekening met “Shoes forbidden”. Die tempelmonnik neem ons paspoorte nes by 'n gewone hotel en skuifel by 'n klein glasskuifdeurkantoortjie in en uit. Ek reken die wieletjies is ook buiteskoene, want die monnik dra ons handbagasie-sleeptas na ons kamer met sy tatami-bamboesmat en ryspapierskuifdeur. Die futonbed is in die kas weggepak; twee teetafels met plat houtrugleunings is op die tatami gegroepeer en twee gemakstoele staan voor die glasskuifdeure wat na buite oopmaak op ‘n houtdek en zentuin. Elke klip en blaar is presies in sy plek en die berg se hoë dun sederstamme voel en ruik nader as wat dit werklik is. Dis duidelik hier is nie bulle of vlakvarke nie en net baie ordentlike honde wat nie durf gate grawe in hierdie heilige tuin nie.
Berg Koja kyk uit oor golwende bloupers gebergtes presies soos op die voorblad van die klassieke boek van Susan Trott, The Holyman. Die heilige man van hierdie berg is die grondlegger van Kojasan, genaamd Kuiko, of na sy dood Kobo Daishi.
Die legende loop dat Kuiko sy driepuntige sanko (Boeddhistiese ritueelimplement) in die lug gegooi het vir leiding om die hoofkwartier van die Sjingon Boeddhiste te vestig. Sy sanko is deur 'n veelkleurige wolk opgeneem en hy het dit later op Berg Koja gevind in 'n denneboom – vandag bekend as die Sanko-denne. Dit klink vir ons asof Kobo Daisji, soos Moses, ook opdrag gekry het om sy Kanaan te vind en ons besin oor die relevansie van die inklusiewe veelkleurige wolk en simboliek van die driepuntige eenheid van die sanko wat nes 'n dennenaald lyk (History of Koyasan).
Die eerste aand se tempelverblyf breek aan. Ons kaalkop tempelmonnik wil ons baie graag vertel wanneer ons mag bad (of onsen) wanneer ons die uitmuntende veganistiese Boeddhistiese aandete mag eet (shojin ryori) en wanneer dit inkloktyd is. Ons probeer die inkomtyd onderhandel, maar ons tempelmonnik het 'n glimlag uit klei, nes Wallace en Grommit, en hy maak dit baie duidelik dat hy nie ons grappies verstaan nie. Maar ons kla nie. Hierdie hip tempels het deesdae internet, 'n muntoutomaat met Asahi-bier of Santory-whiskey (nee, geen Castle nie, maar wel 'n verwarmde toiletdeksel wat oopmaak soos jy die badkamer instap!).
Ons besluit om 'n skelm skemerwandeling te maak voor inkloktyd by die oeroue Okuno-in-begraafplaas wat stadig ophelder met rye lampies langs die twee kilometer lange voetpad tussen die ruim 200 000 grafte. Okuno-in is volgens die netjiese pamflet een van die grootste begraafplase in Japan met grafte en stupas (Boeddhistiese gedenktekens) vir samoerais en duisende vereerde lewens. Ons wonder oor ons rugbyhelde wat soos brawe samoerais veg vir die eer van die land en vrekseer afstap van die sogenaamde “speel”-veld. Ons wonder wie sal instem vir 'n begraafplaas waar rugbyhelde ook so goed vereer word soos ons oorloghelde. By die beginpunt reinig jy jou hande en buig in eerbied op die oeroue houtbrug voor jy die voetpad begin tot by die Kobodaishi Gobyo-mausoleum. Ons stap in stilte tussen oeroue sederbome, rye grafte en rooi borslap-stupas vir gestorwe kinders, en in die lampies klim spinnekoppe en kaats groot skaduwees voor ons op die voetpad.
Elke tempel bied daagliks verskillende rituele aan wat mens kan bywoon of aan deelneem. Ons Afrikaanse vriende beskryf in kleur en geur die Homa-vuurritueel wat ons asseblief nie moet misloop nie. Dit is uniek tot Vajrayana en die Sjinto-Boeddhisme wat hier beoefen word en ons pamflet beskryf die ritueel as “perhaps the most mystical and cognitively powerful”. Dit laat ons dink aan 'n gebed of brandoffer, waar spesiale stukkies hout in die ritueel verbrand word waarop enigiemand 'n gebed of wens vir jouself of iemand anders kan skryf. “The ritual is performed for the purpose of destroying negative energies, detrimental thoughts and desires, and for creating blessings and requests.” Jy kan jou naam en gebed/wens op die hout of soegoemagi skryf en dit vooraf inlewer by die vuurpriesters. Ons dink aan ons rugbyhelde. Ons bid dat hulle bene sal hou tot die Wêreldbekereindstryd. Of nee, kom ons wees duideliker: Laat ons wen. Asseblief.
In 'n knus soesjiplek praat ons oor respek vir kultuur. Ek reken soos wat jy iets van die respekvolle Japannese kultuur begin verstaan, vind die -san-affiks jou soos 'n warm sake in die mond. Met dese glimlag ons vir mekaar toe ons Engelse vriend nonchalant respek betoon om sy vriendin se aandag te kry: “Hey Bokkie-san, aren't those the fire guys?” Hy wys grootoog na die vuurpriesters wat langs ons gesellig aan die Asahi-biertjies drink. Anders as in streng tempels in Bhoetan en Thailand is alkohol hier nie vir priesters of in tempels verbode nie. Daar was 'n tyd, net soos in rugby, waar geen vroue in die heiligheid van Kojasan toegelaat is nie. Die eerste vrouerugbyspelers word volgens geskiedskrywing omstreeks 1880 erken. En dit is presies vanaf hierdie tyd, die 1872-Meiji-regeringsoorname, dat ingelyfde monnike wel toegelaat is om te trou en kinders te hê. En so word die tempeltradisies deur generasies oorgedra en bewaar.
Aan ons soesjitafel wonder ons oor watter tradisies behoue bly vir Suid-Afrikaners wat elders woon. Wat laat ons respek behou vir ons land en nasie? Wat bring ons bymekaar?
Mag ons hierdie jaar as die jaar van die heilige Bokke verklaar.
Mag ons met net een heilige drie ons eenheid en respek vir mekaar bly bewaar. Kampai!