Daar is vandag koerantmense. En dan is daar ’n ouergeslag koerantmense.
So ’n mens is Bokkie Gerber, wat ’n rukkie gelede as Rapport se redakteur aangestel is. Gerber is een van die min redakteurs oor in Suid-Afrika wat weet hoe om sy hande in ’n rolpers vuil te maak. En hy weet hoe om ’n koerant saam te stel deur op die ou stelsel van ems en ens te meet …
Sy kwaliteit as nuusmens het sommer gou begin deurskemer by Rapport. Inderwaarheid sal ek so ver gaan om te sê dat hy die koerant se beste redakteur is sedert wyle Bob van Walsem en Johan de Wet aan die stuur was. ’n Mens kry weer lus om die koerant te lees – nie net deur te blaai nie.
Chris Moolman, Isak de Villiers, Tim du Plessis en Liza Albrecht kom beslis nie in daardie liga, ofskoon wyle dominee de Villiers se skryfkuns nie te versmaai is nie.
Gerber se benadering tot nuus is eenvoudig om die nuus van die dag te volg. Nie sensasie te soek – en veral die valse Afrikaner-nasionalisme wat sommige gevolg het nie. Soms is daar ’n gesluk na wind – maar die koerant lyk beter sedert hy oorgeneem het.
Verskeie van die stories wat op bladsy een gebruik is, het daar gehoort. Al fout wat ek met Rapport vind is dat verskeie stories uit City Press net so gebruik word. Ek verstaan dat binnegevegte, nuus-lekkasies ensovoorts uit die ANC gewoonlik na swart verslaggewers gaan, maar daar is nog baie stories wat ondersoek kan word.
En dalk sal dit Gerber baat om Phillip de Bruin nader te sleep om ’n paar ondersoek-joernaliste op te lei.
Korrupsie is nie net tot die regering beperk nie. Daar is op alle vlakke korruptes wat ontbloot kan word.
Onder Gerber is Rapport egter weer besig om sy voete te vind.
Yuri

