"Boetie de Beer" deur Jaco Prinsloo

  • 2

Boetie de Beer

Sal jy my more die pad kan wys?
Sing tog nog 'n liedjie net vir my
Is ons nog vêr weg van die huis?
Vertel my weer hoe hulle ons in die donker gaan kry

Jy sou my die kalfie in die bo-kraal gaan wys
nou hoor ek nie die klap van jou tande nie
Hoekom wasem jou asem nie?
Sal jy my nog warm kan hou al is jou lippe so blou?
Hoekom neurie jy nie meer?
Waarom is jou wimpers so wit van die ys?

Rachel, jy moet opstaan, kyk dit word al lig
trek gou jou klere aan
Ek hoor stemme en perdepote nader kom
dink jy pappa gaan dalk met ons raas?

Hy kon 'n duisend vuurvliegies saambind
Hy kon ons toegooi met sy wolkekombers
'n Fakkel met die weerlig begin
sterre laat verskiet, die son vroeër ontbied om ons pad te vind
Maar mamma sê dit was buite seisoen
maar as hy wou kon hy dit alles doen
Wat moet ek en hulle leer
uit die dood van 'n kind?

Ek is nou ouer en al onthou ek swak
van die koue en ons langste nag
weet ek jy het oor my gewaak tot die volgende dag
Jy het jou laaste liggaamshitte vir my gegee
As ek slimmer was sou ek jou kon keer
Ons sou beurte in die miershoop maak
Hoe het jy dan gedink?
Buite het jy geen kans gestaan
Hulle kon ons nog albei lewend vind

Ek verstaan nog minder as niks
maar dominee sê jy is nou ten volle geklee
en die koue maak nie meer seer
Julle kan jul heldin hou, ek soek net my sussie terug

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 2

Kommentaar

  • Dit is flippen mooi!
         ...en ek sê nie net so omdat my van ook de Beer is nie 😉
    Goeie werk Jaco

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top