Boerneef (1897–1967)

  • 0
Foto: openbare domein
Sêgoed van Boerneef:

“Die nuwe letterkundige kritiek het ons geleer om noukeuriger te lees waar ons vroeër miskien te vaag en te emosioneel wou doen. Maar dis nog nie vir my duidelik dat die nuwe metode studente gaan beweeg om ’n gedig te lees omdat dit die moeite werd is om ’n mooi gedig te lees nie.”

“En dan wil ek ook graag iets sê van die Bruinmense van Boplaas ... die konkreetheid en die sappigheid van hul Afrikaans wat ’n onvasstelbare invloed op my gehad het. Aansienlike stukke van hul taal kom net so in my rympies in – Skeliwiep, skeliewap hoe kook jy die pap is ’n ou volkse sêding byvoorbeeld.”

Boerneef het spottend gevra: “Wie van Van Wyk Louw en Opperman gaan (nadoods) aan die linkerkant en wie aan die regterkant van die Stoel sit?” (Boekewêreld, 19 November 1997)

“As ek drie studente in my lewe geleer het om Suid-Afrika met ’n koppelteken te skryf, was ek waarskynlik ’n suksesvolle dosent.” (Boekewêreld, 19 November 1997)

“Ek is so arm soos ’n luis op ’n kam. Ek is die Verlore Seun se bloedbroer, as ek nie die Verlore Seun self is nie.” (Uit: Teen die helling, 1956)

“Ons van vyftig jaar gelede weet, by ons op die plaas, soggens van voordag tot saans ná donker, het die witmense en die bruinmense sáámgewerk: Koeie melk, allerlei soort werk, ploegtyd, dorstyd, miedpak, trek met die skaap, skaap oppas, waak by die skaap. Ons het sáámgewerk en ek wil nog die man sien wat vir my by al daardie plaaswerk sê waar witmenstaal ophou en bruinmenstaal begin.” (Die Burger, 10 Mei 1997)

“Niks hang so rooi soos wingerdblaar by Hexrivier, niks staan so geel soos herfspamlier by Dwarsrivier op Ceres. Slaan rem aan hou jul asem in en kyk en kyk. Laat dit inbrand in jou vir later tyd, die warm geel en rooi vir latenstyd.” (Uit: Krokos, 1958)

“Wie weet en wie kan sê hoe diep geduld moet lê?”

In 1967: “Ek begin nou besef dat as ek nie op Boplaas, die plaas in die Koue Bokkeveld waar ek gebore is, groot geword het nie, ek seker nie sou skryf nie. In hierdie streek en op die plaas het ek lief geword vir die sappige taal wat daar gepraat word.” (Die Burger, 11 Mei 1967)

En só dig Boerneef oor die twee Tafelberge waar sy lewe begin en geëindig het:

“Van my land se Tafelberge / is daar vir my maar twee / dis die Tafelberg by Boplaas / en sy Ouboet by die see / by Boplaas se berg was ek ’n kind / met ’n kind se huil en lag / by sy Ouboet word ek rebelserig oud / met ’n ou man se dink en wag / die begin op die Plaas was waterpas reg / maar hoe rym jy die ouderdom weg / met ’n ou man se pieker en wag.” (Die Burger, 10 Mei 1997)

Gebore en getoë

Izak Wilhelmus van der Merwe, of Boerneef soos hy later bekend gestaan het, is op 11 Mei 1897 op Boplaas in die distrik Ceres in die Boland gebore. Hierdie streek staan ook bekend as die Hantam of die Koue Bokkeveld. Boplaas was eers bekend as Moddervallei en is in 1727 vir die eerste keer deur die HOIK uitgegee. In 1743 het Isaak van der Merwe daar gaan woon. (Die Burger, 2 Desember 1974)

Boerneef se pa, oupa Callie, was twee keer getroud. Sewe kinders is uit die eerste huwelik gebore: Boerneef, Carel Petrus (CP), Fanie, Ansie, Lilla en twee seuns wat vroeg oorlede is. (Ansie was nie ’n meisie nie – hy is Ansius Francois gedoop, maar Ouma wou vernoem word en dit is hoe die groot, sterk boer Ansie geword het.)  Uit die tweede huwelik is nog vyf kinders gebore: Willa, Bettie, Gerio, Andries en Rina.

Andries het aan NALN vertel dat hulle pa maar net tot ongeveer standerd 2 (vandag graad 4) geleer het, maar “al was hy nie geleerd nie, was hy ’n opgevoede man en het hy reeds in daardie jare ’n mooi eenvoudige Boere-Afrikaans geskryf en gepraat. En dit het hy gedoen of hy nou ’n groep boere toegespreek het en of hy gebid het. Ons Bybel was toe nog in Nederlands en die Gesangboek nog vir ’n klompie jare daarna.”

Die plaaswerf van Boplaas met die historiese gebou daarop is in 1973 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die hele woonhuis met sy geel- en sederhoutsolders en binnedeure en pragtige antieke meubels is geproklameer, tesame met die bakhuis, wat ook die ou slaghuis huisves; die seephuis wat later smidswinkel was; die waenhuis met sy tuie, wa, saals en dies meer en die watermeul wat in 1974 nog in werkende toestand was. JA Louw skryf in Die Burger (4 Januarie 1974) dat die geskiedkundige geboue meestal uit die begin van die 19de eeu dateer en ’n “unieke en feitlik ongeskonde voorbeeld van ’n outydse plaaswerf vorm”.

In ’n onderhoud met Rykie van Reenen na sy aftrede het Boerneef gesê dat sy pa ’n eenvoudige boer was wat nie veel verder as standerd drie of vier geleer het nie. “Maar hy was ’n man wat tog in sy eenvoud ’n gevoel gehad het vir die regte woord. Meermale het hy vir my gesê: Maar hoor hoe lekker sê die man dit; of: Kyk hoe mooi staan dit hier in die Bybel. Van kinderdae, dink ek, het ek van hom geleer dat daar ’n goeie manier is om ’n ding te sê, ’n raak en ’n netjiese manier, maar dan’s daar ook ’n deurmekaarpratery en ’n omhaal van woorde.” (Die Transvaler, 3 Julie 1967)

Sy vroeë onderwys het hy aanvanklik op Boplaas ontvang, asook op die buurplaas Houdenbek en daarna is hy na die dorpskool op Ceres waar hy in 1913 gematrikuleer het.

Verdere studie en werk

Na sy skoolloopbaan het Boerneef vir ’n jaar gaan boer en is daarna na die destydse Suid-Afrikaanse Kollege, vandag die Universiteit van Kaapstad, waar hy na sy BA-graad, ook die grade MA en B Ed verwerf het. Na ’n jaar by SACS as onderwyser is hy in 1922 as lektor aan die Universiteit van Kaapstad aangestel.

Later het hy senior lektor geword en in 1956 is hy bevorder tot mede-professor in die departement Afrikaans en Nederlands. Hy was vir 41 jaar aan hierdie departement verbonde. Onder sy leerlinge het die twee Louw-broers, NP van Wyk en WEG, getel. Oor hulle het hy eenmaal gesê: “Maar ek kan met ’n reine gewete sê: ek het hulle niks geleer nie!” (Tromboniusdagboekenkaart)

Chris van der Merwe skryf in Tromboniusdagboekenkaart dat Boerneef as dosent iemand was met besliste voorkeur vir bepaalde digters. “Onder die Nederlandse digters het hy veral gehou van die werk van die groot romantici soos Bloem, Holst en Slauerhoff – verder ook van Marsman en Nijhoff. Sy voordrag van die gedigte het ’n groot indruk gemaak op die studente. Hy het lang stukke poësie gememoriseer en dit dan graag aan ander voorgedra, veral in sy jonger jare. Alhoewel hy ’n intelligente leser van poësie was, het hy nie van die analitiese benadering van die letterkunde gehou nie, omdat dit vir hom ‘die wonder’ daarvan aangetas het. Self het hy feitlik geen resensie of studie oor die letterkunde geskryf nie, In later jare het die kritici se gebrek aan insig in sy poësie sy weersin teen die kritiese bedryf laat toeneem.”

Op 6 Mei 1924 is Boerneef met Marie Roux (Maria Hugo Roux) getroud. Sy was ’n dogter van ds Paul Roux, ’n Boeregeneraal in die Anglo-Boereoorlog wat ’n ruk lank ’n krygsgevangene op Ceylon was. Een seun, Carl Petrus, is uit die huwelik gebore.

Toe Boerneef in 1929 tering kry, was dit ’n swaar slag vir die familie. Dit was ’n groot bekommernis vir hom en hy moes ’n ruk lank van die werk wegbly. Hy is na die sanatorium van dr DP Marais in Kloofnekweg en is ook vir ’n wyle na die Vrystaat. Hy het het later volkome herstel.

In 1933 het die gesin die huis wat hulle in Byronstraat 2, Tamboerskloof gebou het, betrek. Boerneef het die plek “Hantam” genoem. Met hierdie naam het hy sy verlange na die wye vlaktes van die Karoo te kenne.

’n Nog groter slag as die tering het die gesin getref toe Marie maagkanker gekry het. Ná ’n lang siekbed is sy op 27 Augustus 1940 op 44-jarige ouderdom oorlede. Boerneef is nie lank daarna nie weer getroud – op 31 Oktober 1941 met Annie de Kock. Maar ses weke ná die huwelik is ontdek dat Annie borskanker het. Haar bors is net voor Kersfees verwyder, maar die kanker was reeds te ver versprei en op 9 Mei 1943 is sy op 35-jarige ouderdom oorlede.

Van Boerneef se moeilikste jare het toe aangebreek, skryf Chris van der Merwe. (Tromboniusdagboekenkaart) “Hy raak sinies en somber. Sy eensaamheid het vererger toe Carl, sy seun, in Rhodesië gaan woon het en hy alleen in ‘Hantam’ agtergebly het. Net na Annie se dood het hy swaar begin drink, maar ná ’n jaar of twee het hy opgehou drink en tot en met sy dood ’n afskaffer gebly.”

Carl, Boerneef se seun, en sy pa het mekaar – hoewel dit in moeilike omstandighede was – ná Annie se dood beter leer ken. Carl vertel aan Romi van der Merwe (Rooi Rose, 4 Oktober 1995): “Hy was saggeaard, fyngevoelig en het ’n unieke humorsin gehad. Hy was ’n grapmaker en liefhebber van die kunste, klassieke musiek en die natuur; medelydend met sy medemens, veral die minderbevoorregtes.

“Hy was ook baie vrygewig met sy aandag. Hy het met my op volwasse vlak gesels en gereeld aan kollegas en kunstenaars voorgestel. Een van my kosbaarste besittings is die eerste Afrikaanse woordeboek wat ek as 11-jarige by Danie Bosman, die skrywer, present gekry het.

“My pa was ’n streng, dog vriendelike tugmeester wat geweet het hoe om ’n baie goeie balans tussen respek en dissipline te handhaaf. Soms het hy gesê: ‘Japie, jy’s intellektueel lui – jy moet meer lees.’”

Carl van der Merwe is op 17 September 2013 op die ouderdom van 87 jaar in Kampsbaai oorlede. Hy word deur sy lewensmaat, Marigold Evans, en sy twee dogters, Christine en Anita, oorleef. Beide die dogters woon in Australië.

Boerneef het toe bevriend geraak met Fanny Jordaan, die weduwee van die eerste hoof van die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad. Hulle is in 1956 getroud en het in Fanny se huis “Berg en See” in Moltenoweg in Oranjezicht in Kaapstad gaan bly. Fanny was ’n saggeaarde vrou wat ’n groter “mildheid” by Boerneef laat ontstaan het. Gedurende hierdie jare saam met Fanny was Boerneef op sy produktiefste en het vyf digbundels uit sy pen verskyn. (Chris van der Merwe op Afrikaans Stereo, Vrouefokus, Desember 1994)

Fanny het Boerneef se belangstelling vir die Suid-Afrikaanse kunsskilders en hul werke gedeel en sy het ’n pragversameling van keurboeke oor die geskiedenis van die Kaap en die skoonheid van sy omgewing opgebou. Boerneef het drie van sy bundels aan haar opgedra. Sy is op 80-jarige ouderdom na ’n lang siekbed oorlede.

Met die jare was Boerneef deel van ’n bloeiende akademiese en literêre lewe in Kaapstad. Saam met die twee Louws was hy, Canis Scholtz, Fred le Roux en Hettie Smit deel van die groep wat later as die Dertigers bekend gestaan het. Hy was ook bevriend met die Nederlandse digter Jan Greshoff wat hom in 1939 in Kaapstad gevestig het. Hy het ook ’n baie hegte vriendskap gevorm met Dirk Opperman wat van 1949 dosent aan die Universiteit van Kaapstad was.

Boerneef het laat in sy lewe begin skryf. Sy eerste boek, Boplaas, het in 1938 verskyn toe hy 41 jaar oud was en in dieselfde jaar is Pensie en Van my kontrei gepubliseer. “Van die begin af hanteer hy ’n onopgesmukte Afrikaans,” skryf Wium van Zyl in Die Burger(10 Mei 1997), “die suiwer taal van sy streek. Hiermee reageer hy teen skrywers soos DF Malherbe en ander se eksperimente met ’n blomryke prosa. Die literêre kritiek sou nog lank probleme ondervind met die aard van sy vertellings wat nie destyds die ‘reëls’ van die kortverhaal gehoorsaam het nie. Ook hierteen het hy hom rebels verset.”

Van Zyl vertel verder: “Die skuilnaam Boerneef het hy die eerste keer in 1925 gebruik tydens die besoek van die destydse Prins van Wallis aan Suid-Afrika. Hy het ’n brief aan Die Burger geskryf waarin hy die mense se beheptheid met die Engelse prins gekritiseer het.”

Chris van der Merwe skryf in Tromboniusdagboekenkaart: “Met die naam wil hy te kenne gee dat hy ’n neef is van die boere, dit wil sê, verwant aan die plaasmense; maar ook dat hy verbonde is aan die Boere met die hoofletter B: aan alles wat Afrikaans was. Die ‘neef’ het nie net op familieverwantskap gedui nie, maar ook op ‘neef’ as gebruiklike aanspreekvorm by ongekunstelde, plattelandse Afrikaners – die soort mense met wie die skrywer hom vereenselwig het.”

Sy sketse wat vertel van verlange na ’n kinderwêreld het die Afrikaner wat al hoe meer verstedelik het, aangegryp en het oornag bekend geword. Sy laaste prosabundel, Teen die helling, het in 1956 verskyn. Dit is in dieselfde jaar met die WA Hofmeyr-prys bekroon.

Sy eerste digbundel, Krokos, is in 1958 gepubliseer en dit word gevolg deur nog vier bundels. Die laaste hiervan, Op die flottina, het in 1967, op sy sewentigste verjaardag, verskyn. By hierdie geleentheid het ’n keur uit sy prosa verskyn wat deur sy broer, CP van der Merwe, saamgestel is.

In ’n eerbetoon aan Boerneef in 1967 het WEG Louw gesê dat Boerneef ’n besondere liefde vir die Afrikaanse taal gehad het, asook ’n omvangryke kennis van die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde. Hy het Boplaas-Afrikaans geskryf in ’n stadium toe die Afrikaanse prosa mank gegaan het aan ’n “byna ongeneeslike armoede en hartkwaal” aan die een kant en “heelwat talentlose pretensie” aan die ander kant.

Louw het voortgegaan: “Sy verhale en sketse is in die eenvoudige taal van sy jeugomgewing geskryf en hierdeur is Afrikaans verryk deur woorde en uitdrukkings wat andersins verlore sou gegaan het. Hy was ’n geleerde wat in sy hart ’n plaasseun gebly het. Hy was, soos ’n boer, soggens vroeg, teen vyfuur en selfs vroeër op en het tot sy dood ’n intense belangstelling behou in wat op Boplaas gebeur het.”

Die plaasseun was egter ook ’n taalgeleerde met ’n lewendige belangstelling in die welsyn van sy taal. Saam met DB Bosman en later saam met LW Hiemstra was hy outeur van die Tweetalige woordeboek. Hy het fyn gelet op die Afrikaans van Die Burger en oor die radio, en het nie gehuiwer om sy misnoeë te kenne te gee as die taalgebruik swak was nie.

In Teen die helling (1956) het hy vir die eerste maal gedigte by sy prosa ingesluit. Wium van Zyl skryf voorts: “Ná ’n worsteling om die vernuwing in die Nederlandse poësie teen die jare vyftig te verstaan, gryp hy opeens die kunsgrepe van hierdie hiper-moderne digtersgeslag aan. Hy het daarin geslaag om dit te verbind met die primitiewe volkspoësie uit sy jeugkontrei. En só het hy vir een van die groot verrassings in die Afrikaanse poësie gesorg. En hoewel kritici soos DJ Opperman indertyd kennelik onverhoeds gevang is en hierdie werk nie na behore kon waardeer nie, het dit gou geblyk dat ’n klassieke digter hier aan die woord was.

“Tot in ons eie tyd het sy stem bly weerklink in die liedjies van Laurika Rauch en ander. Een van die redes is waarskynlik omdat hy nie slegs ’n enkeling aan die woord stel nie, maar ’n hele landstreek. Dikwels kristalliseer dit tot ouwêreldse wyshede in ’n beskeie streekstem wat daarom juis tref, soos:

“Tussen die katel se koppenent
ennie katel se voetenent
daar lê die begin
en daar lê die einde
die begin vannie ding
ennie end vannie ding
en tussen begin en end
word jy die speletjie ooit gewend
of issit van begin tot end
meer geluk as wysheid
dajy hou toddie end.”

In ’n huldeblyk aan Boerneef met die herdenking van sy 100ste verjaardag skryf JC Kannemeyer (Boekewêreld, 19 November 1997) dat totdat Boerneef op die toneel verskyn het, was die uitbeelding van die plaas in die Afrikaanse prosa sterk romanties getint. “Boerneef het egter nie die plaaslewe in sy verhale geïdealiseer nie. Die boerekarakters, die plaaswerkers, die diere, die jaarlikse trek met die skape van die Koue Bokkeveld na die Ceres-Karoo word nugter beskryf in die gewone spreektaal en met gebruik van die gewestelike woord en uitdrukkings van die streek. Daarmee gee hy ’n pragtige beeld van die hardheid en die heerlikheid van die lewe naby die natuur.

“Hoewel Boerneef met die talle bundels sketsverhale sedert Boplaas tot Teen die helling reeds ’n groot bydrae tot Afrikaans gelewer het, is sy beste werk die besondere soort poësie waarmee hy in 1958 met Krokos begin het en wat in sy ander bundels voortgesit is.

“Aanvanklik handel dié verse nog oor die plaaslewe, maar ook die stad kom, net soos in sy latere prosasketse, aan die beurt. Toenemend konsentreer hy in sy verse op die onbegryplikheid en onhanteerbaarheid van die lewe, die menslike boosheid en skuld, die dood en die vertroosting wat die skoonheid van die natuur bied. Dikwels bied die plaaswêreld simbole vir die digter se persoonlike liriek.”

Met sy debuutbundel Krokos het Boerneef ’n oeuvre geopen wat ’n eie plek in die Afrikaanse letterkunde sou inneem, skryf Wium van Zyl in Tydskrif vir Letterkunde. “Een van die kenmerke van hierdie werk is dat dit (op ‘Klipwerk’ van Van Wyk Louw na) soos geen ander nie teruggryp op die oer-elemente in die taal en die volkspoësie.”

’n Letterkundige wat onmiddellik geregistreer het watter plek Boerneef in die geskiedenis van die Afrikaanse poësie sou inneem, was Rob Antonissen. Reeds in sy resensie (Standpunte, Augustus 1959) van Krokos het hy geskryf: “Maar Krokos is ook afdoende bevestiging van die gelukkige verskynsel wat die afgelope tiental jare by Van Wyk Louw, Opperman en Blum kan waargeneem word: dat die Afrikaanse digter besig is om skatte op te grawe wat as die ‘onder-kultuur’ bestempel kan word, en wat tot dusver die byna ekslusiewe objek was van volkskundige studie en humoristies-folkloristiese skrywers; en dat hy dié dinge as skatte herwaardeer.”

Oor Krokos (Karookos) het WEG Louw geskryf: “Met Krokos, durf ek sê, lê ons met ons mond aan die vol fontein van die Afrikaanse volkspoësie.”

Oor Ghaap en Kambro (1959) skryf Louw in Die Burger van 20 November 1959 dat hy hierdie verse van Boerneef volkspoësie noem en wel om die volgende redes: “ten eerste omdat dit, anders as die meeste poësie van ons tyd, nie gegrond en gemodelleer is op die bestaande ‘literêre’ vers nie, maar op die ou en gedeeltelik selfs nog lewende tradisie van die volkslied; ten tweede omdat dit nie ingewikkeld of gesofistikeerd is nie, maar, soos die soort vers waarop dit gegrond is, wat sy ‘inhoud’ betref, wesenlik breed, bevatlik, volks is; ten derde omdat wat daar aan moeilikhede vassit, nie voortvloei uit ’n fyn genuanseerde splitsing van begrippe nie, maar uit die wyse waarop die taal hanteer word: as saamgestelde klankbeeld; as regstreekse oproeping van werklikhede deur ingewikkelde ritmiese patrone en figurasies; as towerspreuk en inkantasie. (...)

“As dit moontlik is, hou ek selfs meer van Ghaap en Kambro as van Krokos, om die eenvoudige rede dat dié verse konsekwenter onlogies, nog meer uit één stuk as die voriges is. Daar is veel minder gevalle – inderdaad na my mening slegs ’n enkele glips hier en daar – waar die verstand in dié vrolike geselskap verseild geraak het. (...) Dis verse dié wat roep om melodieë! Hier, veel eerder as in die Duitse en Wes-Europese volksliedjies wat die afgelope jare so naarstig en met sulke goeie bedoelinge by ons vir opname in volksangbundels vertaal word, lê myns insiens die toekoms van ’n nuwe Afrikaanse volksmusiek!” (En hoe reg was Louw nie – ET)

En dan haal Louw “Die berggans het ’n veer laat val” aan, asook die volgende een wat spreek van die verlange en hartseer:

Doer bo teen die rant
staan ’n bos geplant
dis ’n Sederbergsebos
dis ’n wonderbossiebos
laat trek van die ding
met kruie geming
vir die sit en verlang
wat die ouderdom bring.

Oor die titel van sy bundel Palissandryne in 1964 het Boerneef self verduidelik (Die Transvaler, 2 Oktober 1963): “Ja, Palissandryne, die titel van my volgende bundel, is ’n ‘gemaakte’ woord, deur myself, en as dit nie te spoggerig klink nie, dis sommer ’n fyn titel waarvan ek baie hou. Nee, hy’s sommer fyntonnie en fynlaken! (Moet nou nie in die koerant gaan neul oor die betekenis van laasgenoemde twee woorde nie! Hulle kom albei in Palissandryne voor). Die ding begin by palissanderhout:

My blokfluit is van palissanderhout
daarom speel hy so palissander
en laat my fluitspel julle koud
die een bly tog maar anders as die ander
ek trek my dit nie in die minste aan
dat niemand my palissandertaal verstaan.

“As Leipoldt kan slampamper en Slampamperliedjies skryf, waarom kan ek nie, met eerbied gesê, palissander en palissandryneskrywe nie? (Laat ander digters hulle maar met Kwatryne en Aleksandryne besig hou). Palissandryne is dus (net soos Slampamperliedjies) ’n titel, ’n versamelnaam, dikwels liedere, maar lank nie altyd nie.”

(Op die eerste bladsy gee hy dan ook erkenning aan Leipoldt as hy skryf:

Langs hierdie selfde strate op hierdie einste plek
het ’n groot digter loop en slampamper
eensnaarramkietjie was sy instrument
boegoe en kanniedood sy toorpaljas
ek dank hom vir polfyntjie en slampamper
met hierdie donker fluit van palissander.)

“Leipoldt stap in die straat af, sien dit en dat raak, dink dit en dat, en daar kom ’n slampamperliedjie. (Ek vergelyk myself nie met L nie, hy is alte ver my meerdere). Maar Boerneef speel, figuurlik gesproke, op sy blokfluit, van palissanderhout gemaak. En die resultaat? Palissandryne.

“Ek vertrou my Palissandryne is nogal van ’n verskeidenheid ...

My palissandryn is ’n palimpses
(vir wat roep jy so boontoe
ek weet ek maak die goed self)
al is hy nie klassiek nie
ook nie van perkament nie
my palissandryn is ’n palimpses
krap uit en dood perbeer dan weer
dis amper maar nog ver van Amsterdam
verdomp hoe kry ’n mens dit pastersteek
met so ’n wederstrewige palimpses.

“Palissandryne is natuurlik geen digsoort met vaste reëls soos byvoorbeeld die sonnet nie, net so min soos slampamperliedjies. Soos jy sien, het die digter van die palissandryne darem nie nodig om met sulke onbenullighede soos leestekens te sukkel nie. Jy’t geskryf: ‘Maar wag. Ek hoop ons kry ’n bietjie meer lig.’ Ek hoop jy’t dit nou gekry!”

Oor Palissandryne skryf PG du Plessis (Sondagstem, 28 Junie 1964) dat Boerneef hierdie soort ligte liedjie ontwikkel het totdat dit meer word as net ’n liedjie – “dit word ook draer van die heimwee na die plek waar dié vorm se oorsprong lê en van lewenskommentaar. Die digter speel met woorde, giet hulle sonder meer in spreektaalvorm. So word die idioom ook gebruik, die idioom van en uit die Boere-Afrikaans, soms Bolandse Afrikaans.”

In ’n ander bespreking (resensent onbekend, Die Transvaler, 15 Junie 1964) is geskryf: “Boerneef se palissandryne is liedjies van allerlei aard, ingewings van die oomblik, bepeinsinge en beskouinge, steeds wisselend van onderwerp en stemming. (...) Hulle is ook soos die slampamperliedjies van wisselende lengte, maar daar hou die ooreenkoms op, want waar Leipoldt sy nogal bonte versameling onder een naam wou plaas, bring Boerneef, voortbouende op Mallemole, ’n vaster patroon en planmatigheid, versterk deur sy konsekwente gebruikmaking van die Kaapse boere- en volksidioom in foneties geassimileerde vorm asook deur sy verontagsaming van leestekens van elke aard:

Horie petryse ennie fisane
singie petrysenfisanthoesane
eers was dit droog ennie wêreld grys

grys en naar vir fisant en petrys
nout dit gereën die veld is nat

trap hoppiedai fisant my skat
allie petryse ennie fisane
sing nou petrysfisanthoesane

“’n Gediggie soos hierdie een hierbo is geskryf in die gees van wat as ‘absolute liriek’ bekend staan, geen kommentaar, geen kritiek, bloot die beeldstelling.”

Boerneef het in 1963 sy uitgewer versoek dat sy digbundels geeneen herdruk moet word nie en het hierdie versoek in sy testament herbevestig, skryf Chris van der Merwe in Tromboniusdagboekenkaart. “Die motivering hiervoor was waarskynlik deels te wyte aan sy teleurstelling oor die onbegrip van die lesers. Ook wou hy nie hê sy boeke moes op die winkelrakke bly staan nie. Dit sou vir hom wat so sensitief oor sy werk was, ’n verleentheid wees en ’n las vir die uitgewer en boekwinkel. Hy het gereeld by die boekwinkels uitgevind hoeveel van sy digbundels verkoop is en die laastes dan self gekoop om aan vriende en familielede uit te deel. Hy het blykbaar glad nie besef hoe gewild sy digbundels later sou word nie. Dit het dus later ’n probleem geword om sy bundels in die hande te kry – ’n probleem wat, ná sy dood, oorkom is toe sy erfgenaam vir Tafelberg Uitgewers verlof gegee het om eers in 1977 sy Versamelde poësie en in 1979 sy Versamelde prosa te publiseer.”

Oor die feit dat hy nie sy bundels wou laat herdruk nie, het sy broer Andries vertel: “Daar is baie gepraat oor die feit dat hy nie sy versebundels wou laat herdruk nie. Toe ek in 1955 by Modderrivier in Kimberley distrik gaan boer het, is ek af en toe Boland toe en het natuurlik altyd ’n besoekie by Boerneef gebring – ook later by hom en Fannie. Later het ek altyd een van sy boeke (of meer as een) present gekry as die oplaag begin min word. Op ’n dag, toe ek in die Kaap was, gaan kry ek op sy versoek ’n eksemplaar van Mallemole by Nasionale Boekwinkel, nog langs die Groote Kerk. By die bundel kry ek toe op twee klein stukkies papier die volgende briefie:

Môre Nefie

Ek gee vir jou een boek ekstra, met die oog op die toekoms. Krokos en Ghaap en Kambro is reeds uitverkoop en van Mallemole is daar minder as 100 oor. Oor ’n jaar of wat behoort laasgenoemde ook onverkrygbaar te wees. My versbundels laat ek nie herdruk nie. Een oplaag van hierdie soort ‘spyse’ is meer as genoeg.

Hiermee wil ek maar net sê dat jou afstammelinge met hierdie boeke ’n paar stukkies Africana deelagtig word, wel gering, maar darem iets.

Groetnis Boerneef.

Andries vertel ook hoe Boerneef hom een môre genooi het om in Seepunt te gaan tee drink. “Ons ry natuurlik met die bus. Nadat ons tee gedrink het, stap ons ’n ent teen die see langs. Skielik gaan hy staan en sê: ‘Toe jong, jy neem mos voordrag, sê jy ’n paar Afrikaanse gedigte op; dan sal ek uit Nederlands.’ Die opsê kom uit ons kinderdae met die debatsvereniging op die plaas. Ek dink ek het begin en opgehou met Totius se ‘Godsbesluit’ en toe trek hy weg met ’n stroom uit die Nederlandse poësie. Dit was onvergeetlik.

“My vrou en ek het elke jaar vanaf die plaas vir hom ’n paar stukke springbokbiltong en droë perskes en rolletjies perskesmeer gestuur. Een van die dadelike terugkombriewe van 4 April 1967 lui:

Ek kom net tuis van die Kloofstraatse poskantoor waar ek die tamaai pak droëvrugte gaan haal het. Hartlik dank vir suffel plastieksakkies heerlikheid. Ek dink ’n mens moet 52 jaar lank ’n stedeling gewees het, soos ek, om so ’n geskenk behoorlik te kan waardeer. Fannie en ek het sommer met die oopmaakslag weggeval.

Liefdegroete (en hierdie slag was dit onderteken) Izak.

“Hierna het ek altyd ekstra lekker gelees aan:

’n Slopie droë vrugte
die warejakobsoort
’n handvol springbokbiltong
gekerwe soos dit hoort
gekookte skilpadeiers
uit Gam se tint gevat
en ’n stywe knapsak krokos
versukkereer jou vir die pad.”

Sy laaste bundel Op die flottina het in 1967 verskyn. Hierdie titel, het hy vertel, het hy self geskep. Dit beteken ’n klein trekklaviertjie. (Die Burger, 11 Mei 1967) “Voor ek nog kon lees of skryf, het my oom Willie van sy trekklavier as ’n flottina gepraat. Ek is later weg van die plaas en Oom Willie het verdwyn sonder dat ek ooit uitgevind het wat die woord beteken. Ek herinner my nog dat die woord op die trekklavier geskryf gestaan het.”

Hy wy verder uit: “Een van my probleme as ou man is dat ek nooit aan die meganisering en die hoogbou gewoond kan raak nie, en hierdie bundel (Op die flottina) is meermale ’n verlange en ’n hunkering na die stilte. Die gebrek aan ruimte in die stad in teenstelling met die lang vertes en die ruimte van die platteland laat my benoud voel.”

Die plaasseun het algaande sy wêreld verruim met nuwe belangstellings, skryf Chris van der Merwe.

Dit was veral nadat Annie, sy tweede vrou, oorlede is dat hy begin het met die aankoop van skilderye en ook Persiese matte. Hy het ook sedert sy 40ste jaar gereeld kunstentoonstellings bygewoon. Omdat hy met sy skilderye moes saamwoon, soos hy gesê het, moes dit hom esteties bevredig het en het hy gesê: “My mure moet met my praat!”

En dan was daar mense wat wou weet waar hy die geld kry om die kunswerke te koop, sy antwoord was: “Waar ander mense die geld kry om op motors te bestee.” Want Boerneef kon nooit ’n motor bestuur en het dus nie een besit nie.

Maar dit was Marie, sy eerste vrou, wat hom aan kuns voorgestel het. “Sy het ’n ‘klein werkie’ van Pieter Wenning besit – ‘’n spierwit katjiepiering in ’n blou potjie’ – wat die eerste werk in sy versameling sou word,” skryf Amanda Botha in Rapport (18 Maart 2012).

Sy en Fanny se huis in Moltenoweg se mure was feitlik heeltemal behang met skilderye van onder andere Cecil Higgs, Irma Stern, Hugo Naudé, Maggie Laubser, Francois Krige Alexis Preller, Pierneef en Jean Welz. Hy het die grootste gedeelte van sy kunsversameling en sy boekery aan die Hoërskool Jan van Riebeeck bemaak. Dit was op daardie stadium R14 950,00 werd.

In 1987 is die kunsversameling van Boerneef op ’n reisende tentoonstelling deur die land geneem.

Hoeveel plesier Boerneef uit sy skilderye geput het, blyk daaruit dat ’n paar van sy palissandryne gebaseer is op doeke wat in sy besit was. Oor ’n Domsaitis-Karoolandskap skryf hy:

Pranas het ’n Krolandskap gefantaseer
met pranaskleur en vergesig en vygieprag
net Kro en Stilte en Kleur wat brand
het hy die mens opsetlik weggelaat
uit vrees dat hy Gods handewerk sal skaad.

Hy het ook ’n groot liefde vir musiek gehad en het gereeld op Donderdagaande na die Kaapstadse simfonie-orkes gaan luister. Mozart was sy gunsteling-komponis. Sy huwelik met Fanny, ’n musiekonderwyseres, het sy musiekliefde verder versterk.

Boerneef is op 2 Julie 1967 aan sy huis in Kaapstad oorlede. Hy was ’n paar dae siek, maar dit was oënskynlik nie ernstig nie. Sy skielike afsterwe was ’n groot skok vir die familie. Hy het sy vrou Fannie en sy seun, Carl, wat op daardie stadium ’n ingenieur in Salisbury was, agtergelaat. Ná sy dood is hy veras en is sy as na Boplaas geneem soos dit sy wens was. Boerneef se predikantbroer, Gerjo van der Merwe, het die roudiens gelei.

Huldeblyke

  • WEG Louw: “Die Afrikaanse letterkunde is baie dank aan Boerneef verskuldig. Dit is veral sy poësie wat ’n nuwe rykdom aan die Afrikaanse letterkunde gegee het met verse soos:

“Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
My hart staan tuit al meer en meer
Ek stuur vir jou die berggansveer
Mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê.” (Die Burger, Julie 1967)

  • Die Burger se hoofartikel: “Die Kaap is armer sonder Izak van der Merwe. In die stad waar so min mense uitstaan in voorkoms en maniere, was hy ánders; en tog het die skraal, geboë figuur en die hoë hoof, met of sonder swart baret, deur die jare ’n kenmerk van die stedelike toneel geword. Sy andersheid het die tipiese beklemtoon en verryk, en nie net na die uiterlike nie. Die skrywer en digter met so ’n groot deel van sy hart in ’n ander, eenvoudiger wêreld, kon in persoonlike aanraking, eweseer as in sy geskrifte, die gees van die stadsmens vreemd en regstreeks roer. Sy gehegtheid aan die ware en die skone, en sy afkeer van skyn en pretensie, het hom gelei na die kern van ’n saak, en die kern van die saak van die Afrikaanse taal het vir hom gelê in die suiwer gebruik daarvan deur die Afrikaners.

“’n Man van hoog ontwikkelde estetiese insig, wat sy eie woordkuns ongekompliseerd naas dié van sommige van sy tydgenote geag het. Dit bring ’n boodskap waarop juis weens sy eenvoud nie genoeg ag geslaan word nie: dat alle taalaksies net aanvullend kan wees vir die innerlike krag van die taal self, waarvan die bewaring en ontginning die voortdurende plig en voorreg is van die Afrikaners.” (Die Burger, 4 Julie 1967)

  • Wilhelm Grütter: “Boerneef se prosa is ook ’n wegwyser vir die siel op reis. In 1979 het ons die kombi opgesaal om vir die eerste maal agter die Sederberge te gaan verken. Met ’n wye draai eers Weskus langs, oor Clanwilliam en die Pakhuis Pas na Wuppertal om te oornag, en toe op na Eselbank om die grondpad af Ceres toe te vat.

“Daar is ook altyd ’n goeie grootskaalse atlas byderhand om die karige padtekens aan te vul. Eers toe ons die naam Rietvlei eien, Skurweberg wes van ons, die Ceres Karoo oos as jy Swartruggens eers oor is, besef ons, maar dis Boerneef wêreld. Die sleutel was die drie klein woorde: ‘Rietvlei se moorsand’. Sommer met die intrap van ‘Oor Swartrug’ sê Boerneef die ding soos hy is: ‘Jy weet seker nie waar Dwarsberg en Katbakkies en die Rondeberg en Speserykloof in die wêreld lê nie? Jy is mos ’n stadsmens wat selde afwyk van die beskawing se grootpaaie; jy kry nooit ’n begerentheid om weg te vlug na die plekke waar ’n motor amper nooit gesien word nie, na die streke waar dit nog wild en woes is.’

“Die begerentheid het ons wel daar uitgebring, en ons hét nie ’n ander motor gesien nie. En daarvandaan het Boerneef met ons saamgery, vertel ‘van Rietvlei se lappe sand waar die mense vanmelewe se dae vir dood bly staan het ...’

“Later, want in die winter was dit ’n rivier: ‘As ’n man met jou trekwa en trop mowwe voor hom kom en hy maak sulke klein draaikolkies waarop die vuilgeel skuimblase rondomtalie, dan voel jou hart sleg, en dan wonder jy hoe lank jy vanjaar weer sal moet oorlê voordat jy dit kan waag om jou skape in te stoot, sodat hulle kan koersvat teen Katbakkies se berg uit oor Swartrug na die warmrige Krowêreld.’

“Vertel van Dirk Ligter waar ons by Matjiesrivier verbykom. ‘Sommer by die werf gaan ’n mens deur ’n riviertjie, en dan is jy meteens teen Matjiesrivier se berg, wat taamlik steilerig is, en waar ons gewoonlik die perde lei. Net toe ons deur die driffie ry, peul daar ’n jong aan die kant van die pad tussen die pypsteelbosse uit. Dis jou waarlik Dirk Ligter.’ Die pypsteelbosse staan nog presies net daar.

“’n Paar bladsye verder haal hy Dirk aan: ‘Dis die wit perd van Calvinie, hy loop maar hy kan nie sien nie ...’ Dan weer: ‘Solank ’n ryperd ligvoet kan trippel en sif en bossiestroop skud oor die lang ente paaie van Ceres en Clanwilliam en die Rôeveldswêreld en Calvinie en Boesmanland,’ het Boerneef geskryf, ‘so lank sal die mense van Dirk Ligter praat.’ Maar dit is omdat hy wat Boerneef was hom nimlik in sy skryfwerk vir ons staangemaak het.

“Peerboomhoek waar dit spook, Boplaas waar dit sneeu, die Gydo Pas se gly, almal is in Boerneef se prosa versamel. En waar jy Grootrivierhoogte afkom, weet jy ook al sommer van die netjiese en stokou plaas net oorkant die drif aan die hoogte se voetenent.

“Ook Kaapstad het Boerneef se wakker oog en toegeneëntheid ontvang. ‘Verder teen die wind op. Die sonnetjie gly agter Leeuberg in. Dis ’n kuns om in of deur die Suidoos te loop. Hy’s nou wel ’n Suidoos, maar dit voel soms byna of hy van alle kante gelyk waai.’

“En die Kaapse lewe, wat hy met een behendige sin kon teken: ‘Mank Antonie (die groentesmous) het sy kar skuins agteruit teen die sypaadjie laat vasloop, en nou kan die donkie slaap-slaap met pap stringe staan en uitrus.’

‘’n Slegte Afrikaanse skrywer,’ merk Boerneef in een van sy stadsketse op, ‘sê ons moet maar die sluier daaroor trek, as sy woorde hom in die steek laat. Dis natuurlik sommer bog. Watter skrywer wat die ding ken, foeter dan met ’n sluier?’

“Boerneef het die ding geken, hom ontsluier met vaste woorde, en vir altyd vir die ontvanklike gemoed ontsluit.” (Die Burger, 10 Mei 1997)

  • Ernst van Heerden: “Boerneef was feitlik sy lewe lank die plaas-‘banneling’ in die stad en die nostalgie loop soos ’n goue draad in elke woord wat hy geskryf het. En tog is daar vreugde in sy kuns: iemand wat met sy spogkarwats Moltenoweg ‘vol lammerskaap’ kan klap, en van ou Tafelberg ‘krotaal’ as eggo kan ontlok, is meer as net ‘misplaaste’ en digter – hy is ook die ‘verpersoonlikte’ Afrikaner: ons wat verlede en hede, plaas en stad, bestendigheid en verandering in ons wese probeer versoen.” (Lantern, Maart 1968)
  • Carl van der Merwe, sy seun: “Hy was saggeaard, fyngevoelig en het ’n unieke humorsin gehad. Hy was ’n grapmaker en liefhebber van die kunste, klassieke musiek en die natuur; medelydend met sy medemens, veral die minderbevoorregtes. My pa was ’n streng, dog vriendelike tugmeester wat geweet het hoe om ’n baie goeie balans tussen respek en dissipline te handhaaf.” (Rooi Rose, 4 Oktober 1995)
  • Rykie van Reenen: “In sy kompleksiteit as mens, in sy gesofistikeerde kunskennis, in sy aanvoeling van die atoomeeu se angs en verwildering – wat sy wranger verse so merkwaardig toelig – was hierdie man veel meer as net ’n plaasnefie. Maar in sy hart, diep, diep-in, was hy tot sy dood die kind, die Seressekaro se kind / wat in sy bedjie lê en huil, oor lammers koudkry in die wind, en sy meevoeling met Boplaas en al wat boer is, was ’n sterk, diep onderstroom. Droogte kon hom, selfs waar hy onaantasbaar in die stad woon, knel tot byna waansin toe. Min winterweke het omgegaan dat hy nie Boplaas toe bel om te hoor wat maak die weer, waar staan die glas nie. ‘Ek dink aan die droë Boland in die hartjie van die winter, aan die droë Bokveld, Seressekaro, Bitterfontein, Garies, Namakwaland, aan die skaapboere en hul skaap, aan die mens en sy magteloosheid, dikwels...’

“Maar as die reën dan kom! Hy moes eenvoudig net laat weet. Bo in Johannesburg kry ek ’n kaartjie:

‘Die Boland en Boplaas het Reent gekry, Rykie!
Horie petryse ennie fisane
Singie petrysenfisanthoesane
...........................
Trap hoppiedaai fisant my skat!’

“Ai, wat ’n man was hy nie om te ken nie!” (Lantern, Maart 1968)

  • Chris van der Merwe, sy neef: “IW van der Merwe was ’n mens met vele, soms teenstrydige fasette. Hy was by geleentheid hard, maar kon ook sag wees; hy was ’n plaasseun, maar ook ’n intellektueel; gekompliseerd, maar met ’n liefde vir die eenvoud.” (Uit: Tromboniusdagboekenkaart: ’n Boerneef-boek. Tafelberg, 1981, p 4)
  • Amanda Botha oor Boerneef en sy kunsversameling: “Sy kunsversameling was vir hom ’n daaglikse voedingsbron, ’n belewenis wat ook sy eie kunstenaarskap gevoed het. Hy kon en het kuns waardeer vir wat dit werklik is – estetiese voorwerpe wat die siel verryk en ruimte vir die verbeelding skep. Oom Izak het kunswerke versamel wat tot hom gespreek het. Hy het geen modegier gevolg nie, ook was hy nie geïnteresseerd om ’n volle verteenwoordigende versameling van Suid-Afrikaanse kunswerke op te bou nie, en ook nie om kuns as ’n belegging te koop nie. Oom Izak was nie ’n agenda-man nie. Hy was, soos hy – heel gepas en tereg – na homself verwys het, ‘’n liefhê-er’. As hy oor sy kunswerke gepraat het, was dit die relaas van ’n groot liefde.” (Rapport, 18 Maart 2012)
  • Andries van der Merwe, sy broer: “As kind op Boplaas kan ek goed onthou hoe Boerneef elke somervakansie sy seun Carl plaas toe gebring het met ’n gehuurde motor. Dit was teen die einde van die depressiejare en ons het nie geld gehad nie. Carl en ek het op die plaas gou goeie vriende geword en vir my was dit lekker as hy plaas toe kom, want sy pa het altyd lekker sjokolade saamgebring en ons is toegelaat om na ete elkeen een te eet. Daardie dae op die plaas het ons natuurlik nie soiets geken nie. Een ding wat ek uit daardie jare van Boerneef onthou, was sy praktiese belangstelling in die boerdery. Hy het ook, al was hy net ’n paar dae op die plaas, saam met Pa en broer Fanie na die boontjies en ander boerdery-dinge gaan kyk. Boerneef en ek het altwee aan die einde van die jaar departementele eksamenwerk gedoen en gewoonlik so ’n dag of wat voor Kersfees klaargemaak.

“Dit het later ’n soort gebruik geword dat ek Kersfeesmiddag by hom gaan eet. As ek by hom instap en ons mekaar ’n Geseënde Kersfees toegewens het, sê hy: ‘Toe jong, jy sing mos lekker, sing jy Stille Nag, ek sal saam neurie.’ Dan sing ons Stille Nag en hy neurie met sy lekker diep basstem. Ons het gewoonlik maar gesukkel om die Kerslied klaar te sing, want die trane het maar teen die wange afgelooop. Ek onthou dat ons vir nagereg altyd aarbeie en room geëet het. Hy het ook na ’n rukkie se gesels met ’n Persiese bidmatjie oor sy arm uit die huis gekom en dan moes ons eers kyk na die kleurespel as die son uit verskillende hoeke op die matjie skyn. Soms moes ons ook na die agterplaas gaan om te sien hoe die kleure daar verander.” (Vertelling van Andries van der Merwe aan NALN)

  • MER in ’n brief aan Boerneef: “Een van die plesiere wat ek aan Krokos het, is om ou langweggeraakte woorde weer te kry, soos die volk in kindsdae dit gesê en gesing het. Woorde soos alhonderdentien, ghantang, appelkiepiejoublaar, malbaar, ambraal. Maar ek ken nie vir serannie, en allighy en spoiings nie; jammer.” (Die Burger, 10 Mei 1997)
  • “Boerneef honderd” (Die Burger se hoofartikel): “Met ambraal en serannie en hulle baie taalmaats maak Boerneef geskrewe Afrikaans ruimer, inklusiewer, negeer hy bakens wat inderwaarheid nooit werklik bestaan het nie. Boerneef, op sy honderdste, is nog alhonderdentien persent in die kol.” (Die Burger, 10 Mei 1997)
  • Audrey Blignault in 1960: “Of die verse (in Ghaap en Kambro) op ’n herlewing van die Afrikaanse volkspoësie dui of nie, is myns insiens nie ’n belangrike vraag nie. Wat wél belangrik is, is dat die waarde van die gedigte as suiwer poësie besef en erken word. Die gebied van die poësie is so wyd soos die lewe self. Die skeppende verbeelding laat hom nie deur voorskrif of mode op ’n vaste baan lei nie. Die digter eie vir homself dié uitingsvorm toe wat vir hóm natuurlik en reg is. Die wesentlike waarde van die gedigte wat hy skryf, word nie deur sy keuse van digvorm bepaal nie, maar deur die krag van sy verbeelding, deur sy hartstog en kennis, deur sy hele siening van die lewe en deur sy vermoë om wat hy belewe deur die medium van die woord te vertolk. Die gedigte van Boerneef in hierdie bundel het onmiskenbaar dié elemente van visie en verbeelding en die onbepaalbare bekoring van klank en ritme en woord wat die ware poësie in alle vorms en in alle tye het:

“Ek het ’n vreemde voël hoor fluit
in die matjiesgoed by Doringspruit
dis ’n mooi lied
dis ’n treurige lied
want die voël is alleen in die fluitjiesriet.” (Huisgenoot, 11 Maart 1960)

  • WEG Louw in sy resensie van Op die flottina na Boerneef se dood: “Op die flottina bring heelwat minder plattelandse, anekdotiese verse as sommige van sy vroeër bundels. Maar dié singstem, met sy soms yl-flottina-nootjies tussen die rye-rye vensters van die nuwe Kaap was tog iets besonders. Boerneef self het beskeie daarvan gesê:

my spel is alte nietig vir die ewigheid
klink skaars ’n rukkie hoorbaar voor dit sterf

“Miskien, dink ’n mens agterna, alte beskeie; maar noudat dié stem stil geword het, weet jy hoe seer jy dit mis.” (Die Burger, 16 November 1967)

  • George Weideman: “Boerneef se ligvoetse omgang met sy mense se Afrikaans het my die vreugde van taal-ontdekking laat smaak. Hoewel sy Ceres-Karoo se Afrikaans verskil van die Afrikaans wat jy in die Sandveld of in die noorde van Namakwaland of in die Boesmanland hoor, is daar één gemene deler: die vermoë om beeldend met die taal om te gaan. Daarby kom natuurlik ooreenstemmende plant- en dierename, die groot droogtes en plaasgewoontes. Ek het dit nooit regtig as invloede gesien nie – bloot dat ek en Boerneef en nog ’n swetterjoel ander skrywers, soos onder andere Thomas Deacon en Donald Riekert, ’n breë geografiese en linguistiese oerbron deel. Wat my wél aanvanklik beïnvloed het, was Boerneef se manier van skryf – die losserige gesprekstrant en skrynerige humor van

Wanneer het dit laas gereent
weet nie
te lank laas
hoe hou jy dit hier nog uit
geen mens of dier hou dit hier meer uit
hier boer mens met geraamtes vinnig agteruit (Uit: Ghaap en kambro)

vind by my sekerlik weerklank in sommige verse.” (Afrikaans Vandag, Desember 1997)

Vir sy poësie is die Hertzogprys in 1968 postuum aan Boerneef toegeken. Dit was die eerste keer dat die Hertzogprys postuum toegeken is. Die komitee het in sy motivering gesê dat dit opgeval het dat Boerneef binne ’n tydperk van minder as tien jaar vyf bundels poësie gepubliseer het. Dit was al ’n noemenswaardige feit. “Die poëtiese bloei is des te merkwaardiger as in gedagte gehou word dat Boerneef nie naskryf of aan die een of ander mode meedoen nie, maar sy eie vorm skep, sy ‘palissandryn’.”

FIJ van Rensburg het in Handhaaf van Mei 1968 geskryf dat die Akademie in Boerneef ’n digter bekroon het wat gewortel is in die tradisionele waardes van die Afrikanervolk, maar wat terselfdertyd daardie waardes kon beleef en vertolk in ’n hipermoderne tyd en omgewing.

Sy taal is ook dikwels geroem. Van Rensburg het egter gewonder of ons ten volle besef hoe ryk hierdie taal werklik is. “Dis een van ons rykste tale. Daarvoor moet ons nie alleen na sy prosa kyk nie. Dié is ryk en lewendig genoeg, oerkragtig Afrikaans. Maar die ware rykdom blyk eers as ons na die poësie kyk. Hier word met die Afrikaanse taal getoor soos seld voor hom of na hom die geval was. Woorde kry nuwe fasette in hulle ingeslyp; nuwe betekenis- en gebruiksfunksies word voltrek: ’n geraffineerde klankspel laat ’n mens soos vir die eerste keer na die klankmoontlikhede van Afrikaans luister. Dit is hierdie skeppende omgang met die taal wat dit vir Boerneef moontlik gemaak het om soms drie, vier betekenispaaie in sy vers te laat oopgaan, en wat hom so modern maak soos watter moderne digter ook al.”

Behalwe die Versamelde prosa en Versamelde poësie, word nog versamelbundels van Boerneef se werke deur die jare na sy afsterwe gepubliseer. In 1967 stel sy broer CP van der Merwe Boerneef: ’n keur uit sy prosa saam; in 1968 verskyn En Tafelberg praat Krotaal: ’n keur uit die verse van Boerneef wat deur Ernst Lindenberg saamgestel is; Sesde hoepel: 83 ongepubliseerde gedigteword in 1976 saamgestel deur FIJ van Rensburg en in 1998 gee Tafelberg Uitgewers Boerneef: Die berggans het ’n veer laat val – ’n keur uit sy prosa en poësie uit. Dit is deur Wium van Zyl saamgestel.

Oor En Tafelberg praat Krotaal (1968) het R Pheiffer as volg geskryf: “In dié versameling is die fasette van hierdie merkwaardige digterskap te vind: die nostalgiese herinneringe aan die jeugwêreld van die Bokkeveld, die Kro. Daarby die bewussyn van die stadsomgewing waarin hy hom steeds ’n vreemdeling voel, onwennig, half antagonisties, maar soms tog ook met byna teësinnige toegeneentheid.

“Daar is sy wonderbaarlike taalkennis en die vernuf om die taal van sowel die wit- as die bruinmense van die plaas na te skryf, daarop te improviseer, ’n digterlike vonk daaruit te spat, ja, selfs tot ’n besweringstaal te maak – ’n beswering van die verlange, die eensaamheid, die vrees vir die ouderdom en die onbekende van die lewe wat hom soms laat huiwer.

“Hierdie musiekmaak met woorde, sê-goed en wysheid is Boerneef se groot gawe. As sodanig sal hy onthou word. En as sodanig sal hierdie bloemlesing hom vir ons en die nageslag help bewaar.”

Sesde hoepel wat in 1976 (nege jaar ná sy dood) verskyn het en saamgestel is deur FIJ van Rensburg, bevat 83 ongepubliseerde verse van Boerneef. Dit is saamgestel uit ongebundelde verse wat in die Africana-afdeling van die Suid-Afrikaanse Biblioteek in Kaapstad bewaar word. Die gedigte is in oefeningboeke geskryf – baie daarvan is in potlood geskryf. Boerneef het self die titel Sesde hoepel aan die bundel gegee. (Die Transvaler, 23 Julie 1976)

Johann Johl was Volksblad (27 September 1976) se resensent en hy was van mening dat Sesde hoepel nie ’n “nuwe rigting” in Boerneef se poësie bring nie: “Hy werk steeds met die taal as die sentrum van sy kuns en bewerkstellig so ’n groter deurlopende eenheid in die bundel deur streektaal, folkloristiese verwysings, volksliedjies en ’n fonetiese spelwyse, spreekwoord-omvormings, inkantasies, die swaar heffing aan die einde van versreëls om die rym te versterk en die versmelting van beelding in ’n samevattende, nuwe woordbeeld aan die einde van gedigte.

“Die volkse en ritmies musikale gee aan die verse ’n eie magiese bekoring. Hierdie karakter is uitermate geskik vir die jukstaposisie van die kleine en die universele, van die kleine ook as universele.

“Dié bundel van seker die Afrikaansste van al ons digters ‘kry ’n padlangse woord, ’n woord uit die hart’ in op ’n pretensielose wyse, waarin die krag van suggestie en variasievermoë van eenvoud deeglik benut is. Die louter klaarheid wat straal uit dié verse ‘laat dit naklinkend praat in jou gemoed’ en werklik – ses hoepels is nodig vir so ’n vat juwele.”

Oor Boerneef se Versamelde poësie het JC Kannemeyer sy bespreking in Beeld van 20 Maart 1978 afgesluit: “By die lees van die verse kom ’n mens onder die indruk van die herhalings, gebruik van dieselfde effekte en beperkinge van die idioom en taalgebruik. Daarteenoor is daar egter in elkeen van die digbundels ’n groot aantal gedigte wat deur die effektiewe gebruik van klank, woord en idioom as poësie oortuig. In die Afrikaanse literatuur is die late ontwikkeling van Boerneef se digterskap ’n verrassende verskynsel, en met die beste verse lewer hy ’n eie en individuele bydrae tot ons digkuns.”

In Rapport (30 April 1978) was André P Brink verheug oor die publikasie van Boerneef se Versamelde poësie: “Te lank al het te veel kritici nog ligweg gewals oor dié huppelpoësie sonder om werklik te probeer verantwoord wáár die sin en die wonder daarvan lê. Miskien het heelparty mense al in die lees agtergekom dat die eenvoudigste liedjies in dié bundels soms, selfs in hul primitiwiteit, uiters geraffineer is en van ’n trefseker poësiesintuig getuig waarvan ’n mens kan sê dat dit in die beste sin van die woord raseg is. En daarby is dit ’n poësie waar die klein en fyn gesiene dinge óópgesing word tot ’n veel groter bewoë blik op mens en wêreld:

“Jou stukkie aarde is te klein
die wêreld weet nie van hom nie
jou stukkie aarde is te arm
die wêreld weet nie van hom nie
laat dit so wees dan almiskie
dit kan die hart tog soms verwarm. (...)

“In sy wese is Boerneef se poësie ’n fris en sprankelende belewenis, nog steeds eintlik uniek in ons literatuur; en om dit in die omvangryke en blywende gedaante van hierdie Versamelde poësie te herontdek, is ’n hartevreugde en ’n joy for ever.”

In 1979 het Tafelberg-Uitgewers ook Boerneef se prosa in een bundel gepubliseer – Versamelde prosa. FIJ van Rensburg (Beeld, 26 Mei 1979) het sy bespreking hieroor só afgesluit: “Die merkwaardige is dat Boerneef hierdie prosa geskryf het met ’n baie klein wêreldjie as onderwerpsgebied. Dis Ceres se Karoo. Later het ook Kaapstad bygekom. Van hierdie klein gebied het hy waarlik ’n wêreld gemaak. Of juister: hy het die wêreld daarin ontdek. Met plattelandsmense as grondstof het hy universele dinge aangaande die mens oopgedek en uitgesê.

“Daar is op die oomblik ’n slagspreuk onder ons skrywers vaardig: ‘Breek deur na Afrika, want ons is van Afrika.’ Boerneef het bewys dat jy nie noodwendig ‘ruim’ hoef te dink om groot te kan skryf nie. Ook jou geboortestreek kan ’n koninkryk wees, kan ’n Afrika word. Dié feit alleen gee aan hierdie prosa van ’n paar dekades gelede ’n bestaansreg en ’n bestaansrede selfs in die huidige prosabestel. Boerneef se prosa behoort sy man te kan staan. Of dit in ere gehou word, hang alleen van lesers af. Maar dit hang af van elkeen wat belang het by Afrikaans, wat in die kragtige uitbou van die taal een van waarborge van waardevolle menslikheid in die land sien.”

Wium van Zyl het in sy inleiding tot Boerneef: Die berggans het ’n veer laat val ’n oorsig oor Boerneef se werk en hoekom dit so gewild is, gegee. Lucas Malan het dit as volg opgesom in sy resensie in Rapport (27 September 1998): “Voorop staan die vermoë om ‘sy geboortestreek in al sy luime en nuanses’ vas te lê, terwyl hy ook aan ‘duisende lotgenote’, naamlik die stroom verstedelikte plattelanders, ’n ‘literêre stem’ gegee het sodat die byna mitiese Boplaas ‘vir vele lesers meer as net ’n plek in die koue Bokkeveld’ sou word.

“In Boerneef se prosa is dit voorts ‘sy onopgesmukte Afrikaans, die suiwer taal van sy streek’, wat sterk afgewyk het van die ‘blomryke prosa’ van ’n tydgenoot soos DF Malherbe, wat tot sy lesers gespreek het. (...)

“Boerneef het betreklik laat in sy lewe begin publiseer en oor die unieke oorgang van ’n eerste fase van prosa tot ’n tweede van net poësie, skryf Van Zyl as volg: ‘Die prosa is uiteraard op sigself van groot belang, maar vorm ook ’n belangrike konteks vir die poësie. Dit is trouens reg van die begin af duidelik dat die poësie daarin teenwoordig is. Soms bars dit uit in rympies en liedjies of skuil dit in die dialoog van die verhaalkarakters.’

“In daardie volksheid lê die kern van Boerneef se weergalose bekoring. Reeds in sy vroegste verhale uit Boplaas (1938), waaruit Van Zyl drie verhale opgeneem het, word die leser bewus van ’n aardse trots op dit wat eie is aan die taal en wêreld van die landelike mens. (...)

“Verder bring Van Zyl ook nuwe insigte oor die redes waarom Boerneef se poësiedebuut op 61-jarige ouderdom ‘opeens so ’n moderne indruk gemaak het in 1958 en nog lank daarna’. Dit gaan oor Boerneef se vermoë om die vernuwing wat die Nederlandse Vyftigers (onder andere Lucebert en Vinkenoog) indertyd nagestreef het, in Afrikaans te oortref.

“Oor Wium van Zyl se keuse sal daar egter verskil van mening wees. Van belang is egter dat hy ’n verskeidenheid kon handhaaf wat sleutelverhale insluit en veral by die gedigte goed gekies het, sodat daardie verse wat deur toonsettings as kunsliedere én luisterliedjies klassiek geword het, vir nog ’n geslag bewaar sal word.”

In haar resensie van Die berggans het ’n veer laat val skryf Louise Viljoen (Die Burger, 14 Oktober 1998) dat dit Boerneef se poësie is wat die leser oorrompel: “Dit is asof die emosionele register van hierdie werk wat in die laaste nege jaar van Boerneef se lewe gepubliseer is, ruimer is as in sy vroeër werk. Dit is asof hy hier met groter skalksheid, ironie, vreugde, teerheid, bitterheid en veral weemoed oor die wêreld skryf as in sy verhale. Die segging in die gedigte is ook meer gestroop en gekonsentreerd as in die prosa; dit lyk trouens na ’n soort distillaat van dinge wat reeds in die prosa teenwoordig was. (...)

“Dit is veral ná die lees van die gedigte in hierdie keur wat ’n mens voel jy was in aanraking met iets heel subtiel en kosbaar. Uiteindelik moet ’n mens Boerneef in sy eie woorde gelyk gee: ‘die duisterheid van ’n gedig / maar goeiste weet die donker lig.’”

Reeds in 1974 het die Suid-Afrikaanse bariton, Pieter Serfontein, van Boerneef se gedigte wat deur Pieter de Villiers getoonset is, ingesluit in ’n program van agt Suid-Afrikaanse stukke wat deur Serfontein uitgevoer is in die Purcell-kamer op die suidelike oewer van die Teemsrivier. Twee gedigte van WEG Louw wat deur John Joubert getoonset is, is ook ingesluit.

In 1997 met Boerneef se honderdste verjaardag is Helena Conradie en Annalise Wiid gevra om tydens ’n herdenkingsprogram van sy gedigte voor te dra en Annalise om van die toonsettings te sing. Hul versnit van woord en lied was so geslaag dat versoeke vir nog optredes gevolg het. Die uiteinde was hul eerste CD getiteld Boerneef: makie mooigoed staan. En na al die jare het Boerneef se helder, klankryke Afrikaans deurgesyfer na jonger geslagte. Tydens die KKNK in 2000 is die CD opgeraap en het dit ook ’n tweede druk beleef.

In 2001 het Gert van Tonder, Kristie Herbst en Yvonne Schoeman Boerneef Londen toe geneem waar hulle by die UKkasie Kunstefees ’n nuwe Boerneef-produksie Raad vir ’n Maandagmôre: Boerneef op sy beste op die planke gebring het. Gert het bekende toonsettings van Boerneef soos Die berggans het ’n veer laat val en Voshaarnooi gesing terwyl Kristie en Yvonne die program aangevul het met gedramatiseerde versies en sketsies. Ná hulle optrede by 2000 se Aardklop het ’n resensent geskryf: “Dit is waar dat Boerneef net die regte doepa is vir die swarigheid van die lewe.”

In 2004 is die bundel Boerneef sing: komposisies van uitgesoekte verse: 10 siklusse deur Pieter de Villiers by Litera Publikasies uitgegee. Dit bevat Pieter de Villiers se toonsettings van sommige van Boerneef se verse. By die bekendstelling het Mimi Coertse gesê as musiek vir Boerneef se berggans geskryf kan word, sal Afrikaans mos oorleef. Volgens De Villiers het hy vier dekades aan die toonsettings van Boerneef se gedigte gewerk. Hy het sy eerste sewe Boerneef-liedjies in 1960/61 geskryf.

Pieter de Villiers het aanvanklik die toonsettings van Boerneef gepubliseer onder die titel Sewe lawwe liedjies, het Andries van der Merwe vertel. “Selfs in sy latere ‘ligter’ jare kon Boerneef maar moeilik omgekrap raak. As ’n ding reg was, was hy reg, maar as hy verkeerd was, was dit blerrie verkeerd. So kon hy hom lelik vervies as jy ’n boek by hom leen en dit nie gou terugbring nie. ’n Ietwat ernstiger geval was die toonsetting van sewe van sy gedigte deur Pieter de Villiers onder die titel: Sewe lawwe liedjies. Ek was bevoorreg om dit heel vroeg te kon hoor toe ’n goeie vriend, wyle Dirkie de Villiers, se Vrystaatse koor (net die dogters) dit uitgevoer het. Dit was ’n belewenis. Boerneef was baie omgekrap oor die titel. Hy het vir my gesê: ‘Maar verstaan die man dan nie die goed nie?’ Verwysende na die ‘lawwe liedjies’. Ek weet nie wie almal meegewerk het nie, maar gelukkig is die ongelukkigheid later reggestel en die titel verander na Sewe Boerneefliedjies. Dit was ongelukkig na sy dood.” (Vertelling deur Andries van der Merwe aan NALN)

Pieter de Villiers het aan Thys Odendaal (Beeld, 9 Mei 1997) vertel dat hy van Boerneef se oënskynlik ligte aanslag gehou het: “Hy probeer nie diepsinnig en ‘grand’ wees nie, of groots nie. Wat my betref ís hy. Sy woorde is musikaal, ritmies, liries. Soms het ek nie altyd geweet wat die woorde presies beteken het nie, maar die klankrykheid het my altoos betower. Sy gedigte is nooit vreeslik lank nie, en dus baie geskik vir toonsettings.

“Sy mooi houding, sy blymoedigheid teenoor die lewe en die natuur geval my. Ek hou van die aardsheid daarin. Die mense hou van die liedere se woorde, dit spreek tot hulle, want dis uit ons aarde.

“As ek Boerneef lees, maak dit die musiek in my wakker, ten goede of ten kwade, ek weet nie. Ja, ek lees baie ander poësie, uitstekende gedigte, maar dit sing nie in my nie. Ek is geneig tot die liriese, die singbaarheid.”

Mimi Coertse, die Suid-Afrikaanse sangeres, het in haar loopbaan die Afrikaanse kunslied haar eie gemaak en haar liefde vir Boerneef se liedere ken geen perke nie: “Ek het van sy gedigte op skool gelees, maar nie juis baie notisie geneem nie. Boerneef het my gevang toe ek vir die eerste keer Pieter de Villiers se siklus Sewe Boerneefliedjies gesing het.

“Daar is soveel melodie in die woorde, dis so singbaar. Dis of hy dit geskryf het met ’n lied in die hart. Dis oer-Afrikaans, dis my moedertaal, my eie, meer as enige ander liedere wat ek sing. Dis alledaags, maar nie platvloers nie. Sy taal is uniek.

“Daar is ’n intieme verbintenis tussen die musiek en die woorde. As jy Boerneef sing, is dit asof sy woorde binne-in jou vorm. Dis ’n innerlike ding, soos byvoorbeeld ‘Daar bo teen die rant’: ons is almal op pad soontoe, ná die afloop van ’n lewensloop.”

Lourens Faul, Hubert du Plessis en Arnold van Wyk het ook van Boerneef se verse getoonset.

Een van Boerneef se verse is deur Louis van Rensburg getoonset as “Voshaarnooi” en is gebruik in die baie bekende televisiereeks Ballade vir ’n enkeling:

Bantom hom so en flennie die snare
ek is verlief op die kind
die son slaan vuur uit die sweetvoshare
ek is verlief op die kind
hoor jy meisie met die sweetvoshare
verstaan jy die praat van die ramkiesnare
ek is verlief op jou, kind.

In 2014 is hulde gebring aan Hennie Aucamp en Boerneef tydens die jaarlikse Tuin van Digters in die Breytenbach-sentrum op Wellington. Die program van twee dae is afgesluit met Boplaas sing Krotaal, ’n uitvoering van klassieke musiek waarmee Boerneef gehuldig is.

“Izak van der Merwe was ’n geleerde wat in sy hart ’n plaasseun gebly het,” uit Tromboniusdagboekenkaart deur Chris van der Merwe. “Soos ’n boer was hy soggens vroeg, vyfuur en vroeër, uit die vere. Tot sy dood het hy ’n intense belangstelling behou in wat op Boplaas gebeur. As daar goeie reëns val, was hy saam met die plaasmense bly. Hy was sentimenteel oor sy geboortewêreld. Eendag, ná ’n besoek aan Boplaas saam met Rykie van Reenen en Petronella van Heerden, ontdek hy ’n bietjie van Rietvlei se sand in sy broek se omslag, en dit het hy in ’n botteltjie bewaar.”

Publikasies 

Publikasie

Boplaas

Publikasiedatum

  • 1938
  • 1939
  • 1940
  • 1941
  • 1947
  • 1956
  • 1957
  • 1967
  • 1971

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Grosskopf, EB: Boplaas. Suiderstem, 26 Februarie 1938
  • Krige, Uys: Boplaas. Huisgenoot, 13 Mei 1938
  • Kritzinger, MSB: Boplaas. Volkstem, 16 April 1938
  • Malherbe, FEJ: Boplaas. Ons Eie Boek, Januarie/Maart 1938
  • Schoonees, PC: Boplaas. Brandwag, 24 Junie 1938
  • Visser, RP: Boplaas. Die Vaderland, 19 Februarie 1938

 

Publikasie

Pensie

Publikasiedatum

  • 1938
  • 1942

ISBN

(sb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Buhr, J: Pensie. Huisgenoot, 21 Oktober 1938
  • Heese, J de V: Pensie. Ons Eie Boek, Desember 1938
  • Van Bruggen, JRL: Pensie. Brandwag, 23 September 1938

 

Publikasie

Van my kontrei

Publikasiedatum

  • 1938
  • 1948
  • 1949

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Kortkuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • CJE: Van my kontrei. Bondgenoot, 15 Oktober 1938
  • Coetzee, Abel: Van my kontrei. Die Vaderland, 4 Maart 1939
  • Malherbe, FEJ: Van my kontrei. Ons Eie Boek, Maart 1939
  • Schoonees, PC: Van my kontrei. Huisgenoot, 7 April 1939
  • Schoonees, PC: In: Tien jaar prosa, 1950, pp 152–153

 

Publikasie

Van my kinderdae

Publikasiedatum

  • 1939
  • 1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Heese, J de V: Van my kinderdae. Ons Eie Boek, Maart 1939
  • Sita: Van my kinderdae. Brandwag, 29 Desember 1939
  • Van my kinderdae. Die Burger, 8 April 1939
  • Van my kinderdae. Bron onduidelik, 12 Mei 1939

 

Publikasie

Stad en land

Publikasiedatum

  • 1941
  • 1945
  • 1955
  • 1956
  • 1962
  • 1963
  • 1965

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Kortkuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Kritzinger, MSB: Stad en land. Volkstem, 6 Desember 1941
  • Malherbe, FEJ: Stad en land. Ons Eie Boek, Maart 1939
  • Schoonees, PC: Stad en land. Huisgenoot, 7 November 1941
  • Schoonees, PC: In: Tien jaar prosa, 1950, pp 153–154
  • Van Heerden, Ernst: Stad en land. Bondgenoot, 6 September 1941

 

Publikasie

Vlettervlie en Koesnaatjie en ander verhale

Publikasiedatum

  • 1942
  • 1948

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Pers

Literêre vorm

Kinderboek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

 

 

Publikasie

Sketsboek

Publikasiedatum

  • 1947
  • 1959
  • 1969

ISBN

(hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Pers
  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Kortkuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Hattingh, SC: Sketsboek. Ons Eie Boek, Junie 1948
  • Kok, B: Sketsboek. Volksblad, 17 Januarie 1948
  • Van Heerden, Ernst: Sketsboek. Huisgenoot, 21 November 1947
  • Venter, EA: Sketsboek. Koers, Februarie 1948
  • Vulpen: Sketsboek. Taalgenoot, Februarie 1948

 

Publikasie

Teen die helling

Publikasiedatum

  • 1956
  • 1958
  • 1965
  • 1966
  • 1967

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Kortkuns

Pryse toegeken

WA Hofmeyr-prys 1956

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Antonissen, Rob: Teen die helling. Standpunte, Februarie–April 1957
  • Beukes, Gerhard: Teen die helling. Naweekpos, Oktober 1958
  • Du Buson, MS: Teen die helling. Tydskrif vir Letterkunde, Junie 1957
  • Grové, AP: Teen die helling. Huisgenoot, 18 Februarie 1957
  • McArdell, G: Teen die helling. Staatsamptenaar, Maart 1957
  • Tredoux, Elizabeth: Teen die helling. Sarie Marais, 20 Februarie 1957

 

Publikasie

Krokos

Publikasiedatum

1958

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys Postuum 1968 vir al sy poësie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Antonissen, Rob: Krokos. Standpunte, Augustus 1959
  • Botha, Elize: Krokos. Huisgenoot, 20 November 1959
  • De Vries, JA: Krokos. Zuid-Afrika, November 1959
  • JA: Krokos. Huisvrou, 17 Februarie 1959
  • JJK: Drupsteen van herinnering. Die Transvaler, 13 Januarie 1959
  • Louw, WEG: Krokos. Die Burger, 18 Desember 1958
  • Steyn, JL: Krokos. Tydskrif vir Wetenskap en Kuns, April 1958
  • Tillema-De Vries, JM: Krokos. Zuid-Afrika, November 1959

 

Publikasie

Ghaap en kambro

Publikasiedatum

1959

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys Postuum 1968 vir al sy poësie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Blignault, Audrey: Daar’s doepa aan die snare. Huisgenoot, 11 Maart 1960
  • GMG: Boerneef: Ghaap en kambro. Unie, Februarie 1960
  • Louw, WEG: Nog meer Krokos: Ghaap en kambro. Die Burger, 20 November 1959
  • Roux, Koos: Nuwe Afrikaanse boeke. Bondgenoot, Junie 1960
  • Van Blerk, HS: Boekbesprekings. Brandwag, 4 Maart 1960

 

Publikasie

Mallemole

Publikasiedatum

1962

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys Postuum 1968 vir al sy poësie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Antonissen, Rob: Boerneef dig oor “mouterbaaiks” en “koeloekoeloe”. Dagbreek en Sondagnuus, 29 Julie 1962
  • Antonissen, Rob: Mallemole. Standpunte, Augustus 1962
  • Blignault, Audrey: Die natuurpoësie van Boerneef. Huisgenoot, 3 Augustus 1962
  • Grové, AP: Van Boerneef. Huisgenoot, 3 Augustus 1962
  • Louw, WEG: Hy het ryke aar van poësie raakgeboor. Die Burger, 11 Mei 1962
  • Raidt, Edith: Mallemole. Inset, September 1962

 

Publikasie

Palissandryne

Publikasiedatum

1964

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys Postuum 1968 vir al sy poësie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Antonissen, Rob: Palissandryne. Huisgenoot, 4 September 1964
  • Antonissen, Rob: Palissandryne. Standpunte, Desember 1964
  • Blignault, Audrey: Palissandryne. Sarie Marais, 8 Julie 1964
  • Boerneef se Palissandryne ’n kosbare kleinood. Die Transvaler, 15 Junie 1964
  • CJE: Leipoldt het geslampamper en Boerneef palissander. Die Transvaler, 2 Oktober 1963
  • Dekker, Leendert: Palissandryne – Boerneef se eie digvorm. Die Vaderland, 7 Augustus 1964
  • Du Plessis, PG: Volkse elemente in Boerneef se jongste bundel. Sondagstem,28 Junie 1964
  • Louw, WEG: Spontaneïteit word getemper deur tikkie nugterheid. Die Burger[geen datum op knipsel]
  • Raidt, Edith: Palissandryne. Kriterium, Oktober 1964
  • Van der Walt, PD: Palissandryne. Taalgenoot, Julie 1964
  • Van Reenen, Rykie: Palissandryne. Die Burger, 11 Mei 1964

 

Publikasie

Op die flottina

Publikasiedatum

1967

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys Postuum 1968 vir al sy poësie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Aucamp, Hennie: Die vers wag op sy titel. Die Burger, 18 Desember 1973
  • Boerneef se geskenk aan homself. Die Burger, 11 Mei 1967
  • Dank aan Boerneef vir dié knop in die keel. Die Vaderland [geen datum op knipsel]
  • Joubert, Elsa: Op die flottina. Sarie Marais, 5 Julie 1967
  • Kromhout, Jan: Boerneef. Die Transvaler, 12 Junie 1967
  • Louw, WEG: Boerneef se laaste verse is van sy mooiste. Die Burger, 16 November 1967
  • Spies, Jan: Op die flottina – Boerneef. Klasgids, Mei 1968

 

Publikasie

Boerneef: ’n keur uit sy prosa / saamgestel deur CP van der Merwe

Publikasiedatum

  • 1967
  • 1969
  • 1973
  • 1979

ISBN

  • 0624004279 (hb)
  • 0624013316 (hb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortkuns

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Bekker, Pirow: ’n Keur uit sy prosa. Standpunte, Augustus 1967
  • Heese, Marié: Boekbespreking. Die Huisvrou, Mei 1971
  • Joubert, Elsa: ’n Keur uit sy prosa. Sarie Marais, 5 Julie 1967

 

Publikasie

En Tafelberg praat krotaal: ’n keur uit die verse van Boerneef / saamgestel deur Ernst Lindenberg

Publikasiedatum

1968

ISBN

(hb)

Uitgewer

Kaapstad: Nasiobale Boekhandel

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Hertzogprys Postuum 1968 vir al sy poësie

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings 

  • FP: Gedigte vir die fynproewer. Die Vaderland, 31 Januarie 1969
  • Pheiffer, R: Alle fasette van merkwaardige digterskap. Die Burger, 23 Maart 1969
  • Van Rensburg, FIJ: Tafelberg praat Krotaal. Volksblad, 13 Maart 1969

 

Publikasie

Sesde hoepel: 83 ongepubliseerde gedigte / saamgestel deur FIJ van Rensburg

Publikasiedatum

1976

ISBN

0624008363 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Botha, Amanda: Nuwe bundel. Die Transvaler, 23 Julie 1976
  • Cloete, TT: Sesde hoepel. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 1977
  • De Vries, Abraham H: Die dieptes van die hart in “gektalery”. Beeld, 28 Junie 1976
  • Eksteen, LC: Boerneef se vat. Buurman, September 1976
  • Johl, Johann: ’n Vat vol juwele. Volksblad, 27 September 1976
  • ’n Kortkramkringloopstapper. Beeld, 10 Julie 1976
  • ’n Nuwe van Boerneef. Die Transvaler, 19 Julie 1976
  • Van der Walt, PD: Boerneef se nuwe bundel sprankel. Die Transvaler, 26 Februarie 1977
  • Wollheim, OD: A sad farewell to Sakkie’s pen... The Argus, 22 September 1976

 

Publikasie

Versamelde poësie

Publikasiedatum

  • 1977
  • 1985

ISBN

0624010414 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Aucamp, Hennie: Die taal alleen is nog nie die verhaal nie. Beeld, 25 Mei 1978
  • Brink, André P: ’n Hart wat speel met vervlietende vreugde. Rapport, 30 April 1978
  • Cloete, TT: Versamelde poësie. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 1978
  • Grobler, Hilda: Versamelde poësie. Hoofstad, 25 Mei 1978
  • Johl, Johann: Versamelde poësie. Volksblad, 15 Februarie 1978
  • Kannemeyer, JC: ’n Sieraad dié Boerneef. Beeld, 20 Maart 1978
  • Olivier, Fanie: Versamelde poësie. Oggendblad, 31 Maart 1978
  • Van Zyl, Ia: Heerlike rondomtalie met ongewone klanke. Suidwester, 28 Maart 1978

 

Publikasie

Versamelde prosa

Publikasiedatum

  • 1979
  • 1982

ISBN

0624011909 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Aucamp, Hennie: Boerneef – digterlike prosaïs. Die Burger, 24 Mei 1979
  • Aucamp, Hennie: Boerneef-prosa: ’n evaluasie. Oosterlig, 7 November 1979
  • Brink, André P: Boerneef dwing terug snare toe met prosa. Rapport, 25 November 1979
  • Grobler, Hilda: Boerneefjuwele eerste keer saam in een band. Hoofstad, 23 Augustus 1979
  • MvB: Afrikaans – it’s a rich and varied treasure. Sunday Times, 9 September 1979
  • Olivier, Fanie: Boerneef se prosa ook byeen. Die Transvaler, 14 Julie 1979
  • Van der Merwe, CN: Boerneef. Afrikaans Stereo, Oor skrywers & Boeke, 1982
  • Van Rensburg, FIJ: Gesonde bruin brood! Beeld, 26 Mei 1979
  • Van Zyl, Wium: Boerneef: Van Boplaas tot avant-garde. Volksblad, 6 Junie 1979

 

Publikasie

Die berggans het ’n veer laat val: ’n keur uit sy prosa en poësie / saamgestel deur Wium van Zyl

Publikasiedatum

  • 1998
  • 1999

ISBN

0624036650 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Prosa en poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Briers, Doks: Boerneef het nog vonk. Insig, Oktober 1998
  • Coetzee, Meloné: Die berggans het ’n veer laat val. Kaapse Bibliotekaris, November/Desember 2000
  • Grové, AP: ’n Kortpad na Boerneef se wêreld. Beeld, 28 September 1998
  • Malan, Lucas: ’n Eietydse “kortbegrip” van Boerneef se skryfwerk: keur bring nuwe insig, bewaar. Rapport, 27 September 1998
  • Viljoen, Louise: Boerneef se prosa en poësie in een. Die Burger, 14 Oktober 1998
  • Weideman, George: Boerneef: Die berggans het ’n veer laat val. Radiosondergrens, Skrywers & Boeke, 27 September 1998

 

Publikasie

Boerneef sing: komposisies van uitgesoekte verse: 10 siklusse / deur Pieter de Villiers

Publikasiedatum

2004

ISBN

095846264X (sb)

Uitgewer

Pretoria: Litera Publikasies

Literêre vorm

Musiek

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings

  • Boekkooi, Paul: Kom sing Boerneef. Beeld, 28 Maart 2005
  • Thom, Mathildie: Kultuurdokument bied insigte in groei van kunsmusiek. Die Burger, 7 Februarie 2005

 

Boerneef as mede-opsteller:

  • Bosman DB en Van der Merwe, IW: Tweetalige skoolwoordeboek: Afrikaans-Engels, Engels-Afrikaans. Kaapstad, Nasionale Pers, 1938F
  • Bosman, DB en Van der Merwe, IW: Tweetalige woordeboek: Engels-Afrikaans. Deel I. Kaapstad, Nasionale Pers, 1931/1940
  • Bosman, DB en Van der Merwe, IW: Tweetalige woordeboek: Afrikaans-Engels. Deel II. Kaapstad, Nasionale Pers, 1936, 1941

Artikels oor Boerneef beskikbaar op die internet:

  • Arendse, Nicolette: Boerneef en Leipoldt boeke in Eikestad gesteel. Die Burger, 4 September 1998
  • Aucamp en Boerneef eerskomende naweek belig. Die Burger, 11 Augustus 1998
  • Blom, André: Boerneef se woordpaljas treffend gehuldig op RSG. Die Burger, 21 Mei 1997
  • Boerneef
  • Boerneef – drie waardasies. Lantern, Maart 1968
  • Boerneef honderd. Die Burger, 10 Mei 1997
  • Boerneef is môre ’n eeu gelede op Boplaas gebore [byskrif by foto]. Die Burger, 10 Mei 1997
  • Boerneef laat erf skool R15 000. Die Burger, 19 Augustus 1967
  • Boerneef leef voort op Boplaas. Die Burger, 5 Desember 1974
  • Boerneef oorlede na kort siekbed. Die Transvaler, 3 Julie 1967
  • Boerneef vertaal goed na musiek. Volksblad, 22 Desember 1990
  • Botha, Amanda: Boerneef, “kuns-liefhê-er”. Rapport, 18 Maart 2012
  • Botha, Amanda: Boerneef-aand met kuns, sang. Die Burger, 26 Februarie 2005
  • Botha, Amanda: Kunsversameling is enig in sy soort. Die Burger, 8 September 2004
  • Botha, Danie: Boerneef se werk bly praat. Die Burger, 8 Desember 2011
  • Breytenbach, Phillippa: Daniel Hugo se hoorbeeld oor Boerneef knap. Beeld, 22 Mei 1997
  • Burger, Willie: Só skryf ’n wenner. Vrouekeur, 10 Januarie 2014
  • Digkunspatroon voer botoon: Fees bring hulde aan Aucamp en Boerneef. Die Burger, 21 Augustus 2014
  • Du Toit, Daan: Boerneef se Sewe liedjies was die hoogtepunt. Die Vaderland, 5 November 1969
  • Eerste uitvoering van siklus. Die Burger, 5 Maart 1968
  • En hy kla Boerneef sowaar aan! Die Transvaler, 4 November 1975
  • Grütter, Wilhelm: Met vaste woorde het hy die pad gewys deur verre streke. Die Burger, 10 Mei 1997
  • Hauptfleisch, Sarita: “Palissandertaal” is sielsmusiek vir Pta-koor [brief]. Beeld, 27 April 2013
  • Human, Riekie: Woordvroue gee Boerneef staanplek. Die Burger, 10 Maart 2000
  • Kannemeyer, John: Boerneef het Afrikaans “nakend gesien”. Die Burger, 19 November 1997
  • Kannemeyer, John: Op die voetspoor van Leipoldt, Boerneef in die lente. Die Burger, 19 Julie 1997
  • Lategan, Leana: Boerneef en die onderwys. Roeping en Riglyne, Augustus 1999
  • Lategan, Leana: Bolmakiesie woorde sing hoognoot. Cultura, 1989
  • Louw, JA: Boplaas word “monument”. Die Burger, 4 Januarie 1974
  • Meester van die Afrikaanse woord. Daily Dispatch, 14 September 1974
  • Mishoring: Nostalgie oor Boerneef in “sy” kuns. Volksblad, 20 Februarie 1987
  • Nienaber, Malherbe: Boerneef se enigste kind sterf. Volksblad, 19 September 2013
  • Nieuwoudt, Stephanie: ’n Handvol gruis uit die Hantam. Beeld, 23 Augustus 2008
  • Odendaal, Thys: Boerneef leef voort in Suid-Afrikaanse musiekskat. Beeld Kalender, 9 Mei 1997
  • SA gedigte gesing in Londen. Die Burger, 17 Junie 1974
  • Scannell, Jan: Boerneef se prysbundels nie herdruk nie. Die Burger, 11 Mei 1968
  • Snyman, Dana: Die dowwe spoor van Dirk Ligter. Weg, Maart 2008
  • Sy flottina is nou stil ... Die Burger, 5 Julie 1967
  • Tempelhoff, Elise: Bundel met musiek vir Boerneef uitgereik. Beeld, 30 September 2004
  • Van Bart, Martiens: Dirk Ligter: vergete digter van die Tankwa-Karoo. Die Burger, 20 Januarie 2008
  • Van der Merwe, Chris: Boerneef. Afrikaans Stereo, Vrouefokus, Desember 1994
  • Van der Merwe, Hannatjie: Geleerde Boerneef het in sy hart altyd plaasseun gebly. Volksblad, 9 Mei 1997
  • Van der Merwe, IW: [hoofartikel]. Die Burger, 4 Julie 1967
  • Van der Merwe, Romi: Boerneef se seun het ’n erfenis van onskatbare waarde. Rooi Rose, 4 Oktober 1995
  • Van Reenen, Rykie: Trap hoppiedai, Fisant my skat – Boerneef verjaar en ... Die Burger, 11 Mei 1964
  • Van Zyl, Braham: Boerneef se Boplaas verwelkom bewaringsbewuste besoekers. Die Burger, 9 Maart 1991
  • Van Zyl, Wium: Boerneef, sneeu op sy berge by Boplaas, sy hartland. Die Burger, 17 Augustus 2002
  • Van Zyl, Wium: Die Afrikaanse volkspoësie, met spesiale toespitsing op Boerneef se poësie. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Universiteit Stellenbosch, 1975
  • Van Zyl, Wium: Dié taalrebel het vyandsheulery van sommige Afrikaners verpes. Die Burger, 10 Mei 1997
  • Weideman, George: Grootword met Boerneef en boeremusiek. Afrikaans Vandag, Desember 1997

Boerneef se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik in 2011 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)

 

Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum. Baie dankie aan prof Chris van der Merwe vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top