Boereverneukers: Afrikaanse swendelaars, swierbolle en swerkaters
Izak du Plessis
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN 9781776092185
Hoe gemaak met ’n boek wat handel oor die swerkaters wat onskuldige mense eens uit hul aardse weelde geswendel het?
Lees dit!
Natuurlik is dit soms vermaaklik, maar dan weer hartsverskeurend wanneer die lot van die slagoffers bepeins word, maar daar is lewenslesse in die teks wat bestudeer moet word sodat jy nie ook eendag ’n statistiek word wanneer booswigte die slagordes optrek nie.
Verneukers kry mens orals: van die gemaklike kantore van hoof uitvoerende beamptes tot by die besige straathoeke waar ’n ander kode tot oorlewing gevolg word. Selfs krygsgevangenisse het eens die rol van verraaier gespeel en gedink hulle is so slim soos die bankrower wat hom ’n utopie in sy gedagtes voorgestel het nadat hy weggekom het met die volk se spaargeldjies.
Izak du Plessis, beter bekend as ’n omroeper op RSG, het van sy vrye tyd bestee aan die skryf van ’n manuskrip oor 14 Afrikaanse “swendelaars, swierbolle en swerkaters” wat alombekend gestaan het as Boereverneukers. Du Plessis maak dit in sy inleiding duidelik dat nie elke geval in die boek handel oor ’n Afrikaner, Afrikaanse of wat ook al die regte term deesdae is nie, maar dat elke booswig (wat dalk sy lewe in ’n ander taalgroep begin het) op een of ander manier ’n persoon of persone uit die Afrikaanse taalgroep ’n behoorlike streep getrek het. So, wees rustig wanneer ou Scotty Smith die eerste geval is wat jy met jou laatmiddag-boeretroos geniet.
Daar is bekende gevalle wat nog rou wonde in die geheue van ons meer senior lede van die Suid-Afrikaanse gemeenskap is, byvoorbeeld Anton Niewoudt en sy Kubus-klug en die ander pogings wat hy steeds aanwend om mense in sy “idees” te laat inkoop; die profeet wat die mense van Hertzogville hoogs de “jy weet wat” in gehad het met sy beloftes oor ’n Lasarus-soort-opstanding op daardie klein Vrystaatse dorpie; en wie het al die insig gehad om die verdwyning van Ralph Haynes na sy eskapades op die Wes-Rand te verwerk? Een geval wat my aandag behoorlik getrek het, is dié van die legendariese “Swart Luiperd” (Fritz Joubert Duquesne), wat hoog en laag gesweer het dat hy generaal Herbert Kitchener in ’n watergraf laat beland het.
Du Plessis se boek is perfek vir die komende Desembervakansie vir elke vakansieganger wat nie meer verveel wil word met die herhalings op die beeldradio nie maar ’n ware, makabere en sinistere roete in die misdaadsgeskiedenis van Suid-Afrika wil volg. In 194 bladsye sal die sweet later van jou hoof aftap soos wat jy geskok elke bladsy deurgaan en wonder hoe dit moontlik is vir enige mens om so ’n bose plan te beraam en dan uitvoering daaraan te gee. En liewe mens, dis nog net die punt van die ysberg! Du Plessis het belowe dat daar nog ’n soortgelyke boek sal verskyn indien die lesende publiek vir een vra.
Mijnheer Du Plessis, begin maar solank jou toetsbord af te stof. Jy het werk!


Kommentaar
Dis Adriaan Niewoudt, en nie Anton nie, as ek reg onthou. En dan: dis krygsgevangenes (en nie krygsgevangenisse) wat probeer verneuk. 'n Gevangenis is 'n tronk, 'n plek waar mense in aanhouding is. 'n Gevangene (meervoud gevangenes) is die mens wat gevang (arresteer) is weens 'n misdaad of oortreding.
As ek reg is, neem asb kennis. As ek verkeerd is, ek is oop vir oortuiging. Laat daar net asb uitsluitsel kom. Die voortdurende verwysing na aangehoudenes as gevangenisse ipv gevangenes deur al wat spreker is, sommige skrywers en selfs nuuslesers irriteer die nerwe van my liggaam af en gee my 'n groot naarheid. En vergewe my asb die tirade, dis nie asof ek nog nooit 'n fout gemaak het nie.