Boerekos met ’n twist deur Annelien Pienaar: ’n resensie

  • 2

Boerekos met ’n twist
Annelien Pienaar

Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798175005

Op Facebook is daar ’n Afrikaanse blad genaamd Boerekos met ’n Twist. Die volgelinge word aangespreek as Twisters en die ledetal is byna 20 000 sterk. Die skrywer van die blad is Annelien Pienaar van Hartbeespoort – ’n voedseltegnoloog met haar eie kookskool (en gasteplaas) wat saam met haar man met pekanneute boer.

Dit was dus net ’n kwessie van tyd totdat Annelien se resepte ook in boekformaat sou verskyn, as jy kyk na die gewildheid van haar blog en Facebook-blad.

Annelien se agtergrond as voedselwetenskaplike skemer van bladsy een af sterk deur in haar eerste boek, Boerekos met ’n twist, wat onlangs op die rakke verskyn het. Sy ken haar bestanddele, oondpanne, kooktemperature en gaarmaakmetodes. Sy gee wenke oor meetapparaat, vleisgaarmaaktye en pasteideegfoute. Elke resep het ’n inleidingsparagraaf waarin sy met geesdrif gesels oor waar ’n resep vandaan kom, of hoekom die resep ’n gunsteling geword het. Dis dieselfde “stem” waarmee sy op sosiale media gewildheid verwerf het – die stem van ’n toeganklike voedselkenner by wie jy met vrymoedigheid kan aanklop met kombuisvrae en resepkwellinge.

Familieresepte is ’n groot rede vir die ontstaan van haar suksesvolle kosblog en sy vertel hoe haar ma destyds vir hulle met ’n “twist” moes begin kook het omdat haar sussie met diabetes gediagnoseer is. “Ouma Hantie” se insette verskyn deurentyd in die boek – dis asof die leser toegang kry tot ’n goeie vriendin (en voorslagkok) se handgeskrewe familieresepnotas wat net vir spesiale gaste bedoel is.

Boerekos met ’n twist is ’n volledige handleiding vir enigiemand wat met ’n arsenaal van bekende gunstelinge wil onthaal, maar met ’n moderne baadjie aan: van koejawelskuimtert en Kaapse brandwynpoeding tot beestong en kerrievis; van paptert en geelrys tot patatpoffertjies en paasbolletjies. Die boek is opgedeel in hoofstukke vir soppe en souse, groente, vleis, gebak, skons en pasteie, nageregte en ingelegde produkte. Elke hoofstuk bied ’n blad met nuttige inligting oor die onderwerp – gaarmaakmetodes, terminologie, gidse vir gaarmaaktemperature, bestanddeelalternatiewe vir diabete, en wat om te doen as dinge skeefloop (soos koekies wat in ’n koekiedrukker vassit).

Illanique van Aswegen (stilis) en Tani Kirsten (kosbereider) het uitstekende werk gedoen om nuut en oud saam te weef tot ’n reeks helder, pragtige volbladkosfoto’s wat absoluut heerlik lyk. Spesiale vermelding ook aan fotograwe Myburgh du Plessis en Hanneri de Wet vir fotografie wat die boek werklik onderskei.

Die uitleg is skoon en modern en die boek lees maklik. Boerekos met ’n twist is voorwaar ’n aanwins vir jou resepversameling en sou ’n uitstekende geskenk wees.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top