Een van Standard Bank se boontjietellers het skrywers en uitgewers die harnas ingejaag. ’n Voorstel dat boekliefhebbers biblioteek toe gaan of vriende se boeke leen as hulle geld wil bespaar het ’n storm in die kuberruim veroorsaak.
Die hoof van finansiële oplossings vir kliënte by Standard Bank, Nitesh Patel, moes die week vure doodslaan oor sy besparingsplanne om minder nuwe boeke te koop. Hierdie wenk het verskyn in 'n Beeld-rubriek in reaksie op die Momentum Unisa Welvaartindeks se bevinding dat middelklas- en ryk mense bo hulle vermoë leef.
PEN Afrikaans het gedreig om skrywers, uitgewers, boekverkopers en lesers aan te moedig om hulle besigheid by Standard Bank te onttrek as hy nie sy woorde sluk nie. Lees PEN Afrikaans se volledige verklaring hier.
Patel het kort daarna onvoorwaardelik verskoning gevra toe die skrywer Sophia Kapp ook ’n brief aan Standard Bank gerig het waarin sy sterk kapsie maak teen sy boekwenke en dit op haar Facebookblad gedeel het.
“Dis heerlik om boeke te hê maar jy kan dit ook by ’n vriend leen of by ’n biblioteek uitneem. Besoek boekstalletjies by markte of tweedehandse boekwinkels vir goedkoper weergawes. Daar is heelwat gratis e-boeke aanlyn. Onthou ook dat nuwe uitgawes se pryse mettertyd billiker word,” was van Patel se wenke aan mense wat graag boeke lees.
“Ek het die ‘besparingsadvies’ gesien en onmiddellik gedink, ja, sorrie meneer, maar ek dink nie jy self is juis ’n leser nie, want dan sou jy geweet het boekmense sal eerder sonder brood bly as sonder boeke,” sê die misdaadskrywer Karin Brynard. “Of so nie sny hulle (letterlik) die haarkapper of koffieshops of kersboomversierings of KFC. Of dring aan op laer banktariewe.”
Brynard sê biblioteke is goed en wel - as jy die geduld het om drie maande te wag vir die nuwe Deon Meyer of ’n geliefde digbundel weer terug te gee. Meneer Patel verstáán gewoon nie wat dit is om boeke nodig te hê nie.
“Ek was stomverbaas oor die reaksie op my brief aan die bank. Meer mense as net ek was vies oor sy uitlatings,” sê Kapp.
Dit was alles ’n misverstand, het Patel geskerm toe skrywers en boekliefhebbers hom die een na die ander begin roskam. “Ons erken die sensitiwiteit in die plaaslike boekbedryf en vra onvoorwaardelik verskoning,” het hy gesê.
Kapp sê sy aanvaar Patel se verskoning, maar as hy werklik behoorlike raad wou uitdeel, moes hy mense gewaarsku het om hulle skuld (op huise, motors en hulle kredietkaarte) te verminder.
“Hy kon verbruikers ook aangeraai het om op te hou rook of drink, maar hy sal nie want die rolspelers in daardie bedrywe sal waarskynlik oornag kan sorg dat hy afgedank word.”
Uitgewers het nie daardie soort bedingingsmag nie, sê sy. Daarom is hulle sagte teikens. Hy kan sulke goedkoop, oppervlakkige, niksseggende twak oor boeke in die media kwytraak want niemand gaan hom daaroor voor stok kry nie, het sy in haar aanvanklike reaksie op sy stelling gesê.
Een van die ondertekenaars van PEN Afrikaans se verklaring, die skrywer en boekkenner Izak de Vries, het skrywers, boekverkopers, uitgewers en lesers op sosiale media aangemoedig om hulle stemme dik te maak. “Looi hulle op twitter, hier is hulle handle: @StandardBankZA,” het De Vries op Facebook stoom afgeblaas.
Volgens hom ontmoedig Patel mense om boeke te koop wanneer hy sê nuwe uitgawes se pryse sal mettertyd billiker word. Hy verstaan duidelik nie hoe die boekwêreld werk nie, sê De Vries.
“Hy propageer ook die mite dat ons sommer e-boeke gratis kan kry. Natuurlik is daar ouer werke wat gratis is, maar e-boeke is duur om te maak. Ek is bereid om hom tot ’n openbare gesprek uit te daag. Wat van ’n lekker ronde in The Book Lounge?”
Marga Stoffer, uitgewersbestuurder van Nasionale Boeke, sê dit is jammer dat Patel die betrokke uitlating oor boeke gemaak het. Sy beskou dit as kortsigtig en oningelig.
Sy sê ’n baie klein persentasie Suid-Afrikaners is gereelde boekkopers. Dit is kommerwekkend, want dit is natuurlik ook ’n aanduiding van die vlakke van geletterdheid in ons land.
“Uitgewers en boekhandelaars werk al jare lank met die aanname dat daar ongeveer ’n halfmiljoen Suid-Afrikaners is wat as gereelde boekkopers beskou kan word – en daarmee word bedoel dat hulle enkele boeke per jaar koop.”
“Daarom was Patel se raad in die eerste plek irrelevant vir té veel mense. Tweedens moes hy in gedagte gehou het dat daar ’n boekebedryf is wat in ’n baie versigtige balans is.”
Stoffer sê skrywers en uitgewers kan dit nie bekostig om lesers en boekkopers te verloor nie. Dieselfde geld vir die groot aantal mense wat hulle daaglikse brood in die boekbedryf verdien.
“In die derde plek impliseer Patel se stelling ’n gebrek aan waardering en erkenning van die belangrikheid van boeke in huishoudings (ook, en veral, met betrekking tot die rol wat eienaarskap van boeke speel in die ontwikkeling van geletterdheid in ’n land), en is ’n gruwelike onderskatting van die waarde van literatuur.”
Aan diegene wat kla dat die pryse van boeke te hoog is, sê sy plaaslike boeke se pryse is beslis nié te hoog nie. “Juis omdat ons leserspubliek kleiner is as in lande soos die Verenigde Koninkryk, Nederland, Duitsland, ens, publiseer ons kleiner oplae en bly ons gewoonlik by een formaat.
“Plaaslike uitgewers kan nie, soos in die VK, eers ’n duur hardebanduitgawe of grootformaat-uitgawe publiseer en daarná ’n goedkoper, massamark-uitgawe van dieselfde boek nie. Waar Britte gewoonlik kan wag vir die sagteband-uitgawe, is plaaslike uitgewers bly as die eerste uitgawe uitverkoop en ons enigsins kan herdruk.
“Hou ook in gedagte dat die eenheidsprys van ’n boek waarvan 3 000 eksemplare gedruk word meer is as dié van ’n boek waarvan 30 000 gedruk word – omdat drukpryse daal as oplae groter word.”
Sophia Kapp sê háár groot beswaar was dat Patel se eerste spaarwenk aan verbruikers was om nie nuwe boeke te koop nie, maar eerder tweedehandse boeke te koop of boeke by biblioteke of hulle vriende te leen. “Asof tweedehandse boeke of biblioteekboeke nie almal op ’n kol nuut was nie.”
Volgens Kapp bestaan daar ’n enorme wanpersepsie by baie mense dat skrywers baie geld maak.
“Min Afrikaanse, en selfs Suid-Afrikaanse, skrywers verdien genoeg uit hulle skryfwerk om die pot aan die kook te hou. Die mark is net te klein. In Europa of Amerika kan jy groot geld verdien met ’n topverkoper, veral as daar filmregte ter sprake is. Maar hier kan jy bly wees as jy met jou tantieme-tjek die elektrisiteit kan betaal wat dit jou gekos het om die boek te skryf.”
Sy stem glad nie saam met van die reaksies op sosiale media dat uitgewers sakke vol geld maak en so die skrywers uitbuit nie. “Niemand wat ek ken wat by ’n uitgewer werk, ry met ’n Rolls of hou vakansie op die Costa Brava nie. Hulle werk hels hard en ry met gekrapte karre rond. Tantieme is wêreldwyd twaalf persent.”
Ervare en gepubliseerde skrywers kan soms vir ’n groter persentasie beding, maar Kapp sê dis regtig net as dit doodseker is dat jou boek van dag een af ’n wenner gaan wees. “Weer eens: nie al die wins uit jou boek gaan net so in ’n uitgewer se sak nie. Dit word gebruik om ander werke uit te gee wat andersins nooit die lig sou gesien het nie.”
Sy is glad nie negatief oor die toekoms van gedrukte boeke nie. “Gedrukte boeke is besig om ’n comeback te maak. Lesers hou van boeke, van die papier, van die beskikbaarheid van die ding langs jou bed of stoel.
“Ek dink eerlikwaar die opvatting dat boeke se grootste vyand e-boeke is, is verkeerd. Boeke se grootste vyand is mense wat nie lees nie. Kinders wat nie die geduld ontwikkel het om ’n goeie storie proe-proe te ontdek nie. ’n Samelewing wat afgerig is om alle inligting visueel of ouditief te kry in plaas van in woorde. Mense wat die bestemming wil hê en nie verstaan dat dit oor die reis gaan nie.”
Die jeugskrywer Fanie Viljoen sê dit is geen geheim dat Suid-Afrika ’n geweldige leesprobleem het nie. “Om sulke stellings rondom boekverkope te maak, is kortsigtig en onverantwoordelik. Ek en ander kinder- en jeugboekskrywers doen moeite om ’n leeskultuur in Suid-Afrika te vestig. Soveel skole in ons land het vandag nie eens mediasentrums nie, of die kinders stel nie belang om te lees nie.”
Hy sê Standard Bank kan eerder ’n positiewe bydrae tot die leeskultuur en opvoeding in die land maak en boeke aan skole voorsien of klasbiblioteke subsidieer.
Volgens Patel se verskoning aan Kapp was die bedoeling van sy voorstel wat tot die herrie gelei het, nooit dat mense hulle liefde vir boeke moet laat vaar of hulle ondersteuning aan die boekbedryf opsê nie.
Hy sê dit is ’n tragiese realiteit dat nie almal in die bevoorregte posisie is om nuwe boeke op ’n gereelde basis te kan bekostig nie. “Ons doel was slegs om aan sulke boekliefhebbers alternatiewe maniere aan te beveel om hulle leeshonger te stil.”
Naledi se uitgewer, Johan Coetzee, sê dit is korrek dat mense geld kan bespaar deur nie boeke te koop nie, maar Nitesh Patel se standpunt kan nie ongelees verbygaan nie. Daar moet oor die opmerking besin word.
“Ek kon verlede maand R190 bespaar het deur nie Anthony Doerr se All The Light We Cannot See en verlede week se The Universe In Your Hand van Christophe Galfard vir R292 (nogal) te gekoop het nie. Veral ek wat dit nie kan bekostig nie. Ek kon eerder die geld in my reeds oortrokke bankrekening gelos het en sou dus spaar deur nie nog meer rente daarop te betaal nie.
“Dat die boeke flippen duur is, is waar, sê Johan. “Maar ek het besluit om twee keer se uiteet in te boet hiervoor. Ek vermoed Patel sal dan seker eerder gaan uiteet?”
As uitgewer het Johan die afgelope Oktober Frankfurt se boekeskou bygewoon. “Jaar na jaar sien ek in Europa minder mense op die treine lees en meer sit en doen iets op ’n selfoon.”
Uitgewers se toekoms in Suid-Afrika lyk volgens hom nie baie rooskleurrig nie.
Hy meen die infrastruktuur van ’n uitgewery is van so ’n aard dat oorhoofse kostes te hoog is. Die kopersmark is besig om af te neem. Gemiddelde drukoplae word minder, wat beteken eenheidskostes styg.
“Om te kompenseer (net ’n leefbare wins te maak), verhoog uitgewers die verkoopspryse: ’n ongenaakbare spiraal wat uiteindelik gaan meebring dat meer en meer mense eerder minder boeke gaan aankoop.”
Die oplossing is volgens hom nie prysvermindering nie, maar wel ’n aanmoediging deur die op die been bring van ’n niewinsoogmerk private organisasie wat net een doel voor oë het en dit is om mense leesbewus te maak en sodoende ’n leeskultuur te help vestig. “Die regering kan geld hiervoor opsy sit en ek en ’n paar ander effektiewe organiseerders sal sorg dat dit gedoen word.”


In reaksie op die "boeke is 'n luukse"-debat, neem deel aan ons Boekeliefde-slagspreukkompetisie en wen vyf pragtige boeke.
Kommentaar
Ek wonder wat Patel genoop het om enigsins so ’n aanmerking te maak. Die werk van mense in die finansiële sektor is om finansiële produkte aan die publiek te bemark wat hul help om te spaar en het niks met die boekbedryf uit te waai nie. Eerder ’n geval van skoenmaker hou jou by jou lees. Ekself het vyftien jaar in die boekbedryf gewerk en is tans besig om ’n projek van stapel te stuur waar kuns- en ontwerpboeke aan skole verkoop word, so ja sit Patel asseblief op sy plek.
Ek is verheug oor die openbare debat oor boekverkope - daar móét roering, selfs oproerigheid, in die Suid-Afrikaanse literêre bedryf wees sodat die literêre sisteem nie inplof nie. In beaming van sienings in die huidige debat dat boekverkope bevorder moet word, sluit ek hierby ’n gedeelte in van die slot ’n artikel wat ek in 1999 oor 'n polisistemiese benadering tot die bevordering van kleuter-, kinder- en jeugliteratuur geskryf het. Hierdie gedeelte gaan eerstens oor 'n negatiewe scenario en tweedens oor 'n positiewe scenario.
(Van der Westhuizen, Betsie. 1999. ’n Polisistemiese benadering tot die bevordering van kleuter-, kinder- en jeugliteratuur. Stilet, 11(1): 125-139. Mrt.)
------------------------------------
IV Enkele faktore wat die polisisteem belemmer en bevorder
Twee hipotetiese scenario’s - die een negatief en die ander positief - word kortliks gestel met betrekking tot faktore wat die polisisteem van jeugliteratuur belemmer en bevorder.
• Negatiewe scenario: belemmerende faktore
1. Daar is nie goeie kommunikasie tussen die belanghebbendes (individue, organisasies en instansies) nie.
2. Onbedagsame kritici lewer vernietigende kommentaar op skrywers (laasgenoemde kan selfs nie die moed hê om weer te skryf nie).
3. Persone in magsposisies is in verset teen of apaties teenoor jeugliteratuur.
4. Daar is ’n gebrek aan kundiges oor jeugliteratuur in organisasies of instellings wat jeugliteratuur sou kon bevorder.
5. Die literêre lewe/bedryf word met politiese dwang gereguleer of deur semi-oorlog en oorlog genivelleer.
6. Armoede veroorsaak dat basiese oorlewingstrategieë ’n prioriteit is, sodat boeke en lees as ’n luukse beskou word.
7. Die produkte is nie beskikbaar nie - boeke word nie gekoop nie, omdat daar nie jeugboeke op boekwinkels se rakke is nie.
8. Sosiografiese faktore speel ’n rol: mense woon ver van boekwinkels af - boeke is moeilik bekombaar en groter inkopiesentra is moeilik bereikbaar.
9. Beskikbare boeke word nie deur kleuters, kinders en tieners self as goed ervaar nie.
10. Daar is ’n afwesigheid van sensitiwiteit ten opsigte van kulturele identiteit.
11. Daar is leemtes in die polisisteem ten opsigte van verskillende komponente, dit wil sê leemtes in die produksie, verspreiding, mediëring en resepsie en al die onderafdelings daarvan.
12. Daar is stagnasie en agteruitgang in die polisisteem, omdat daar nie (genoeg) goeie, nuwe boeke geskryf, gepubliseer, versprei, gemedieer en gelees word nie. Die gevolge dui op entropie - die wegkwyn (stille) verval in die polisisteem.
• Positiewe scenario: faktore wat die werking van die polisisteem bevorder
1. Kinderliteratuurbelanghebbendes tree in kontak met mekaar en vorm ‘n inligtingsnetwerk; betrokkenes hou mekaar voortdurend op die hoogte van verwikkelinge binne die literêre polisisteem.
2. Daar is ’n strewe na harmoniese verhoudinge tussen skrywers en kritici.
3. Daar vind verandering plaas by persone in magsposisies en van verset of ongeërgdheid, na verdraagsaamheid en lojaliteit; moontlik selfs na betrokkenheid en verbintenis met oorgawe en toewyding.
4. Daar word persone in spesifieke poste by instellings en organisasies aangestel wat die aard en die problematiek van die bevordering van jeugliteratuur ken, en dit kundig hanteer.
5. Jeugliteratuur as polisisteem word deur regeringsfondse ondersteun, omdat dit noodsaaklik is vir die bou van ’n geletterde, geestesgesonde samelewing met ’n kulturele en sosiale bewussyn.
6. Jeugboeke word beskou as ’n belangrike basiese lewenskommoditeit.
7. Jeugboeke word effektief bemark en versprei.
8. Mobiele boekwinkels (boeke-op-wiele) onderneem sakereise na verafgeleë plattelandse gebiede waar potensiële boekkopers/lesers woon.
9. Die goeie jeugboek verruim die verwagtingshorison van die primêre leser - die kleuter, kind of tiener word daardeur geboei, vermaak, ontroer. Die inagneming van die behoeftes van ’n samelewing ten opsigte van die problematiese kwessies van ’n sekere tydskonteks is belangrik; boeke met tydsrelevante en aktuele onderwerpe is meer suksesvol wees vir alle belanghebbendes.
10. Die kulturele konteks word in al die komponente - produksie, verspreiding, mediëring en resepsie - in ag geneem.
11. Die klem op die funksionele integrasie van die verskillende komponente, dit wil sê die produksie, verspreiding, mediëring en resepsie en al die onderafdelings daarvan word beskou as die sleutel tot die suksesvolle funksionering van die polisisteem.
12. ’n Positiewe scenario impliseer nie net die gewone instandhouding van die polisisteem nie, maar soveel verandering by persone en instansies dat die polisisteem dinamies groei en gedy.
Skote Petoors , Litnet! Nogal gedink sy reaksie sal in der voege wees. Misverstand se voet.
Lekker artikel Jean. Nog iets wat die heer Patel nie besef nie is dat openbare biblioteke veral in kleiner dorpies bittermin, indien enige nuwe boeke inkry. Hulle het nie geld daarvoor nie want die regering gee nie 'n hel om of biblioteke nuwe boeke kry nie. Ten minste skenk ek baie van my boeke wat ek koop aan ons plaaslike biblioteek sodat hulle darem nuwe leesstof kan kry.
Moet ek lees dat dit nié goeie advies is om vir 'n diep-in-die-skuld kliënt te vertel om ander alternatiewe en nie nuwe boeke nie, te oorweeg? Ek hoop nie so nie. Ons skrywers het groter "vyande" as Patel. Mense wat nie boeke van plaaslike skrywers lees nie, mense wat glad nie lees nie, die tv, die radio, en soos in die musiekbedryf, die "bokkie-baby" skrywers. As ek ernstige skuldprobleme het, hoop ek dat iemand soos Patel my vertel hoe om van my skuldlas ontslae te raak. Om vir my te vertel dat ek kos uit iemand anders se mond neem gaan nie my skuld minder maak nie. In plaas van 'n bottel wyn (arme wynboere!) gaan ek eerder 'n goeie boek saamneem wanneer ek vir ete genooi word.
Weet jy wat? Patel het my 'n guns gedoen. My so bietjie uit my gemaksone geskud. Ek het so oud geword in 'n boekkultuur dat ek boeke as vanselfsprekend aanvaar. Van kleins af was ons omring deur boeke. My ma het aan die APB-boekklub behoort.
Op skool was ek die bib. juffrou se regterhand. In my tienerjare was ek bevoorreg om skool te gaan waar 'n goed toegeruste biblioteek was. Ons biblioteek op HOK was 'n droom! Om die reisende biblioteek te besoek was so deel van roetine as kerk op Sondag. My sus was 'he' bibliotekaresse! Mettertyd raak mens laks. Het my nou net voorgeneem om nie net op die swak toegeruste biblioteek te steun nie , of net een maal per kwartaal 'n boek by Leserskring aan te skaf nie. Minstens een boek per maand. Tatta Wimpy en konkurrente. Hallo oop kop en vietser lyfie.
Hopelik spring van die ander banke op die "ons is nie almal so nie"-wa en lewer 'n vet kontantinspuiting vir inisiatiewe soos die Babalela-projek digby Kersfees.