Boekuittreksel: Maggie – My lewe in die kamp  deur Maggie Jooste

  • 2

Hierdie uittreksel is met vergunning van Tafelberg Uitgewers geplaas.

Maggie – My lewe in die kamp 
Maggie Jooste 
Uitgewer: Tafelberg

ISBN: 9780624090250

Maggie Jooste

Maggie Jooste was ’n Afrikaner tienermeisie tydens die Anglo-Boereoorlog. Sy en haar vyf jonger broers en susters is in konsentrasiekampe in Natal aangehou. Sy het ’n boek oor haar ervarings in die kamp geskryf, maar die manuskrip het vergete op ’n boekrak gelê. 57 jaar later het haar familie dit herontdek en vir die eerste keer laat publiseer.

Opsomming

Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek en haar lewe ingrypend verander. Ná maande in huisarres word sy en haar gesin na ’n konsentrasiekamp in Natal gestuur. Hier ervaar hulle honger, onsekerheid en verlies, maar ook soms – op ’n verrassende wyse – die goedhartigheid van Britse soldate. Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ’n verhaal van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en vriendskap oor vyandsgrense heen. Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek en haar lewe ingrypend verander. Ná maande in huisarres word sy en haar gesin na ’n konsentrasiekamp in Natal gestuur. Hier ervaar hulle honger, onsekerheid en verlies, maar ook soms – op ’n verrassende wyse – die goedhartigheid van Britse soldate. Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ’n verhaal van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en vriendskap oor vyandsgrense heen. 

Uittreksel

Dit was ’n lang tou van afgematte vroue en kinders wat met hul bondels tot ver buite die dorp moes stap, vergesel van gewapende soldate en nuuskierige Engelse en swart mense. Daar, op die bult waar die dorp se vuilgoed vroeër weggegooi is, was ’n klomp Kakies besig om ronde Bell-tente12 op te slaan. Daar was nog niks voorberei waar die honderde vroue en kinders moes gaan woon nie. In elke ronde tentjie het ’n paar Kakie-komberse op die vloer gelê, dit was al. Ma het een kombers op die grond gegooi en toe ons sewe om die paal in die middel gaan sit het, was die ou tentjie stampvol.

Later het daar ’n waterkar gekom waarmee die strate natgemaak is, en soos hy loop en water uitsproei het, moes elkeen maar spring om iets op te vang. Baie het niks gehad om die water mee op te vang nie maar ons het darem ons keteltjie kon volmaak. Ek kan nie meer onthou nie, maar ons het seker toe kos en hout gekry. By elke tent was ’n groot kookpot wat hulle ’n kampketel genoem het. Dit was seker so 16 dm lank, 12 dm hoog en 8 dm breed [sowat 40 cm  x 30 cm  x 20 cm], ovaalvormig met ’n deksel. Daarmee moes ons vir die volgende twee jaar klaarkom. Die mense was baie ontevrede oor die ligging van die kamp. Die tente is in rye staangemaak en dit het nie saakgemaak of daar ’n gat of ’n rots of ’n miershoop was nie, die rye moes reguit en ewe ver van mekaar wees. So is meer as een tent opgeslaan op ’n hoop vuilgoed en allerhande gemors wat daar gelê het. Ek kan goed onthou hoe ’n sekere mev Broderick ’n tentpen dieper wou inslaan en toe ontdek het haar tent staan op ’n dooie dier, ek dink dit was ’n perd.

Dit was in Desember 1900. Later is heelparty groter tente opgeslaan en ons het in ’n groot markeetent ingetrek. Ons moes nog ’n gesin inneem want daar mag nie minder as twaalf mense in so ’n tent wees nie. So het ’n ander vrou van Heidelberg, ’n sekere mev Brill, met haar drie kinders by ons ingetrek. Ons het in vrede saamgewoon en Ma en die tannie het mekaar gehelp. 

Die kookvuur moes natuurlik buite die tent gemaak word. Arme Ma! Sy het nooit in haar lewe hout gekap en buite vuur gemaak nie. Ek onthou hoe mev Brill vir ons kos gemaak het. Sodra die water kook, het sy my altyd geroep, “Mekkie, die water kook,” dan het ek gaan koffie maak. 

Ons het ’n portret wat voor die tent geneem is. Dit was maar sowat twee maande nadat ons weggevoer is en almal van ons is nog netjies aangetrek. Ma is in ’n swart snyerspak met klein Gerrie op haar skoot. Al ons kinders het nog kouse en skoene aan en James en Robert hul wit strooihoedjies op. Dolly en Hettie het elkeen ’n klein mandjie by hulle met ’n poppie wat in die kamp gekoop is. Mev Brill met haar seun en twee dogters is ook op die portret (ek sal liewer nie hier hul name noem nie). Op die voorgrond lê ses groenmielies wat Ma die dag gekoop het en ons rantsoen brood vir die dag, ons kampketel, ons eie paraffienstofie en die swart waterketel en blaker. Siedaar, al ons besittings! Ons het darem teen daardie tyd ons drie ysterkateltjies, ’n tafel (’n houtblad op ysterpote) en ’n lang bank (ook op ysterpote) gekry en dit het ons al die tyd wat ons daar was, gebruik.

Die vroue kon ’n permit kry om na die dorp te gaan om inkopies te doen. Met die kontant wat Ma gehad het, kon sy aanvul wat ons die meeste nodig gehad het.

In daardie tyd het Ma ds WP Rousseau, ons NG kerk se predikant, ontmoet en saam met hom die siekes en ellendiges besoek, bidure gehou en ’n Sondagskooltjie gestig. Ek onthou ek het saam met Ma in die lang straat afgestap tot by die pastorie. Daar ontmoet ek toe ’n dogtertjie van min of meer my ouderdom. Haar naam was Toetie. Later, toe ons in ’n ander kamp was, het ds Rousseau haar baiekeer saamgebring wanneer hy dienste kom hou het, en dan het hy altyd by ons tent “tuisgegaan”. Jare later was ek en Toetie saam op Stellenbosch in die Bloemhof Seminarium en daarna is sy met ’n ds M Jooste getroud, ’n agterkleinneef van my.

Uit die kamp op Pietermaritzburg het ek ’n briefie geskryf aan my oud-onderwyseres, mej Van Niekerk, wat toe op Stellenbosch was. Ná die oorlog het mej Emily Hobhouse inligting oor die kampe ingesamel en die boek The Brunt of the War and Where It Fell geskryf. Daardie brief van my is ook in die boek, onder die opskrif, “Letter from a schoolgirl to a teacher” en geteken, Maggie.

  • 2

Kommentaar

  • Annette Hansen

    Dis goed om nog inligting van die kamplewe gedurende die oorlog te hê. Ek wens mense wil meer skryf oor sulke geskiedkundige gebeure in ons land.

  • Ek glo daar is nog vele jonger generasie Afrikaners wat net soos ek, ook graag meer van hierdie tipe geskiedenis uit eie ondervinding, sou wou bekom. Ek stel veral belang om meer oor my voorsate se lewe te lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top