Boekresensie: Woestynwysheid deur Ronelle Bezuidenhout

  • 0

woestynwysheid

 

Woestynwysheid

Ronelle Bezuidenhout

NB-Uitgewers

ISBN: 9780796318206

In Woestynwysheid volg Ronelle Bezuidenhout op die hakke van twee skrywers wat onlangs onderskeidelik met die Andrew Murray-Desmond Tutu- en die Desmond Tutu-Gerrit Brandpryse vir Suid-Afrikaanse christelike skryfwerk bekroon is. Denise Ackermann (Surprised by the man on the borrowed donkey) en Lisel Joubert (Ontmoeting met heiliges) gaan, soos Bezuidenhout, terug na die wortels van die Christelike geloof.

Vir Ackermann help die woestynwysheid (van die woestynmense) “to clear the clutter that clouds my vision”. Ook Joubert bied ‘n breë oorsig oor ‘n verskeidenheid geskiedkundige figure wat van die sogenaamde woestynvaders en -moeders insluit.

Al drie hierdie vroue sal saamstem met die teoloog Karl Rahner (soos aangehaal deur Bezuidenhout): “Die Christendom van die toekoms sal misties wees, of sal glad nie voortbestaan nie.”

Bezuidenhout se boek is geskryf na twintig jaar se eie soeke en beoefening van kontemplatiewe spiritualiteit. Dit getuig van ‘n wye belesenheid breër as net die Christelike tradisie en ‘n gemak daarmee om met ander tradisies om te gaan en daaruit te leer. Eerder as intergeloofsgesprek is hier dus plek-plek van interspiritualiteit sprake waar dit om geloofservaring gaan en nie net op dogmatiese verskille konsentreer nie. Tog bied Bezuidenhout begronding wat dieper strek as die oppervlakkige vermenging waarmee popspiritualiteit se selfhelpboeke soms vorendag kom.

Die boek is gerig aan postkerklikes. Op verteltrant word praktiese raad gegee hoe om die kontemplatiewe in ‘n kontemporêre leefstyl te probeer integreer – nie ‘n maklike opdrag nie! Bezuidenhout self is nie bang om nogal streng dissipline vir haarself op te lê nie, byvoorbeeld om soggens vieruur op te staan. Dit mag vreemd op die oor val vir gesinne wat ook daarna strewe om iets van die “woestyn” se stilte, eenvoud en afsondering in hulle lewens in te dra. Maar moenie te gou tou opgooi nie; daar word ook alternatiewe opsies aangebied. Ek het die riglyne vir die opstel van ‘n lewensplan vir ‘n ver-een-igde lewe sinvol gevind.

Bezuidenhout noem dat mense haar dikwels vertel hoe moeilik stilte vir hulle is, hoe bedreigend dit kan wees om met jou “binne-geraas” gekonfronteer te word, maar hoedat dit eintlik ‘n hulpmiddel is in jou fokus op God. Hier stem sy ook met Ackermann saam dat hunkering die basiese vertrekpunt vir die reis met God is, “die woord wat by herhaling in die geskrifte van ons geloofsouers gebruik word”.

Woestynwysheid is ‘n intense boek vir stadig deurwerk. Die “Vir jou eie nadenke”-gedeelte aan die einde van elke hoofstuk help met die vaslê van inligting sowel as die inoefening van die stof. So kry jy ook inskrywings uit die skrywer se dagboek onder die hofie “Stoepkuiers” saam met bloginskrywings. Die aanvanklike kursusformaat waaruit die boek tot stand gekom het, kon met ‘n effens sterker redakteurshand beter eenheid bereik het. Die vloei van die bladuitleg het my verder hier en daar gepla.

Bezuidenhout probeer woorde gee aan die taal van die hart en om die onbeskryfbare te beskryf. Sy doen dit boonop in Afrikaans wat nog selde hierdie ervarings probeer verwoord het. Sy verwys na die direkte verweefdheid tussen die ontmoeting met God en die ontmoeting met jouself, saamgevat deur die hofie: “Om jouself te ontdek is om God te ontdek”. Dit word teenoor die “vals self” gestel waarvan ons vanaf Sondagskooldae as die “eie ek” geleer het.

Die boek het my op verskillende vlakke gekonfronteer. Dit is een vir herkou en integreer in ‘n leeftyd se inoefening. Maar dis ‘n pad van gestrooptheid wat via die woestyn tot verdieping en wysheid lei.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top