Boekresensie: Woestynroos deur Vita du Preez

  • 0

woestyroos250Woestynroos
Vita du Preez
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799375831

Kato Klinge is 'n suksesvolle beroepsvrou wat op 'n dag aan haarself erken dat haar moederlike instinkte die oorhand gekry het. Sy wil 'n baba van haar eie hê en aangesien sy nie in 'n liefdesverhouding betrokke is nie, moet sy plan maak. Ná volgehoue oorreding van sy kant af, sluit die plan Stef Steenkamp in, haar beste vriend sedert hul kinderdae en deesdae ook haar buurman in die meenthuiskompleks waar hulle woon. Stef is egter ‘n “boerklong” en gaan nie “met ‘n Playboy in ‘n kamer sit en in ‘n polistireenkoppie kom nie”. Die liefdesdaad sal dus by die woord gevoeg moet word. Die vraag wat die roman ondersoek, is of twee mense platoniese vriende kan bly nadat hulle 'n baba saam verwek het.

Toe ek die boek begin lees, was ek onder die indruk dat ek chicklit gaan resenseer en dat ek genader is om dit te doen omdat ek self in 2009 'n chicklit-roman geskryf het. Maar Woestynroos is beslis nie chicklit nie. Die belangrikste vereistes van die genre is dat die roman 'n goeie skoot humor moet bevat en dat dit oor al die verhoudings in die hoofkarakter se lewe gaan, nie net oor 'n liefdesverhouding nie. In Woestynroos gaan dit egter hoofsaaklik oor Kato se verhouding met Stef, al word haar verhouding met haar onverbete pa en vloerlapma ook in 'n mindere mate ondersoek. In chicklit behoort die heldin gewoonlik tot 'n urban clan – 'n klomp vriende wat saam kuier, saam werk en saam dra aan alles wat hul kant toe kom. Kato het net een vriendin, Donna, wat in die Kaap woon en met wie sy nie 'n vreeslike hegte vriendskapsverhouding het nie. Haar suster, Nel, verskaf die komiese afleiding wat in chicklit tradisioneel die rol van ‘n vriend of vriendin van die hoofkarakter is.

Woestynroos is dus 'n gewone liefdesroman en dit kom met tye oor as ‘n lang romanse.

Die roman is minstens vyftig persent te lank. Du Preez kon die lyne stywer getrek het. Ek het op ‘n stadium gevoel die boek is geklop en uitgepof om by ‘n spesifieke aantal bladsye uit te kom. Daar is ook onnodig uitgerekte interne monoloë wat te veel te raak en Du Preez kan gerus in die volgende twee boeke van die beoogde vierluik aandag hieraan gee. ‘n Bietjie meer handeling en dialoog behoort al ‘n verskil te maak. ‘n Redakteur wat bereid is om die skalpel in te span, sal die skrywer baat.

Du Preez se ruimtebeskrywings is oor die algemeen geslaagd, veral dié van Namibië. Ek het tydens die een toneel nogal gewens ek was langs ‘n kampvuur op ‘n stil woestynnag.  

Die boek bevat heelwat sekstonele en hier en daar slaag een daarin om prikkelend te wees. Die toneel in die borrelbad waar Stef Kato op sy skoot tel is ‘n hoogtepunt. Dit is egter jammer dat hy sy “saad stort” en nie soos ‘n gewone mens “kom” nie. Dit gaan hier wel primêr oor bevrugting, maar dit is eenvoudig te klinies.

Daar is ander heerlike tonele in die boek, gewoonlik een waarin Nel verskyn. Ek het die indruk gekry dat  Du Preez meer van Nel as karakter gehou het; of sy haar makliker geskryf het. Die toneel waarin Kato vir Nel inlig dat sy swanger is, lees vlot en ek het gewens dat van die ander tonele in die boek ook in hierdie trant geskryf was.

Van die kleiner goedjies wat ‘n genotvolle leeservaring kelder, is Stef se “Yes! Yes! Yes!” van opwinding wanneer hy besef dat hy en Kato nou ‘n ooreenkoms het en dat hy ‘n nasaat gaan hê; dit  laat hom meer onvolwasse klink as wat hy is. Kato wat feitlik onmiddellik ophou werk wanneer sy hoor sy is swanger en later beplan om terug te gaan werk toe wanneer die baba bietjie ouer as twee maande is, maak ook nie sin nie. Mens sou dink dat sy, met die sterk moederlike instink, meer tyd saam met die baba as in afwagting op die baba sou wou spandeer.

Die verhaalgebeure is voorspelbaar en van ‘n spanningslyn is daar nie veel sprake nie. Toegegee, daar is ‘n verrassing teen die einde van die boek wat verklaar waarom Kato se ouers optree soos wat hulle optree. Maar dit is te min, te laat.  Woenstynroos sal nie mense wat nog nooit voorheen liefdesverhale gelees het, tot dié genre bekeer nie.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top