Boekresensie: Voetspore op die ewenaar deur Johan Badenhorst

  • 0

voetspore250Titel: Voetspore op die ewenaar
Skrywer: Johan Badenhorst
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485301325

Ek het nog altyd daarvan gedroom om deur die Kongo te reis. Die demokratiese deel van die Kongo. Daar is donker woude en water, min infrastruktuur en nog minder toeriste. Dit is ‘n uitdaging, want dit kan lewensgevaarlik wees.

My reis het effe van die Voetspore-span s’n verskil. Een laat Vrydagaand in die Ishasha-gedeelte van Uganda se Koningin Elizabeth Nasionale Park pak die Kongokoors my weer. Ek is saam met ‘n medegids en ‘n groep toeriste slegs een kilometer van die Kongo af. Die Ishasharivier is die skeiding. ‘n Paar plathonde en ‘n trop seekoeie bewaak die rivier. Aan die ander kant is dit donker en vol rebelle. Duskant lag die hiënas en die leeus brul. ‘n Gewapende wag sit en slaap langs sy vuurtjie. Die toeriste slaap ook. Om ‘n lang storie kort te knip, ons twee is deur die lang gras en oor ‘n boomstomp na die ander kant van die rivier, waar ons twee minute lank op die nat grond van die Kongo gesit het.

Die Kongo staan duidelik uit op ’n kaart van Afrika – die groot groen deel met baie water en min paaie. Die hart van Donker Afrika. Die plek van stories en nagmerries. Kingsley Holgate is juis nou op pad soontoe. Dit lok mens. Maar Johan Badenhorst se Voetspore-span was al daar. Hulle is dwarsdeur die Kongo. En hulle het dagboek gehou van hulle agtste Afrika-ekspedisie: Voetspore op die ewenaar.

Die span het hierdie keer van Lamu aan die ooskus van Afrika in Kenia al die pad tot in Muanda aan die weskus in die Demokratiese Republiek van Kongo (DRK) gereis. Die poging was om al langs die ewenaar te vorder, maar dis ’n moeilike taak. Die DRK het slegs ’n deel van die roete uitgemaak. Hul tog was deur drie van die ses lande waardeur die ewenaar loop – die ander twee lande is Kenia en Uganda. Somalië was ’n te groot risiko, Gaboen het later heeltemal uit die prentjie verdwyn en daar was nie tyd om in die Republiek van die Kongo te kom nie. Van Lamu is hulle met die kus na Mombasa, van hier na Nairobi via Tsavo-Oos Nasionale Park. Blykbaar het die span dié deel van die reis baie geniet, met afdraaipaaie na interessante plekke soos die Magadimeer met die grootste natriumkarbonaat-aanleg ter wêreld.

Van Nairobi is hulle verder na die Victoriameer en Uganda, waar hulle onder meer die Ruwenzoriberg bestyg het. Hulle het die indrukwekkende Murchisonwaterval besoek en oor die Nylrivier in die rigting van Kibali in die DRK vertrek. Ek het die meeste daarvan gehou om te lees van die Okapi Nasionale Park by Epulu in die DRK en die pigmeë wat hulle in die woud gaan besoek het. Die Volkswagen Amaroks het blykbaar tot hul reg gekom op hierdie modderige paaie in die DRK.

Van Epulu is hulle na Kisangani, waar hulle 18 dae lank gewag het vir die vragskip om te vertrek. Die plan was om op die Kongorivier tot in Kinshasa te vaar. En van daar tot by die Atlantiese Oseaan te ry. Dit het uiteindelik 28 dae geneem om in Kinshasa te kom.

Die storie tel spoed op soos wat die reis vorder. Dalk net omdat die Kongo so onbekend is. Die vertelstyl is nie boeiend nie en volg die trant van Johan se stemtoon in die televisiereeks. Maar die ervarings van die ses en die karakters wat hulle langs die pad ontmoet het, maak dit lewendig. Die foto’s dra ook by tot die reis – net ‘n jammerte dat daar nie byskrifte by die foto’s is nie. En ek sou graag meer gedetailleerde kaarte wou sien om myself heeltemal in die reis in te leef.

Die span het vele struikelblokke, soos te verwagte, langs die pad teëgekom, maar dit word nie te veel gedramatiseer nie. En die manne het baie geduld getoon om tot op die Prince Amir-vragskip te kom en daar te bly op hul vaart op die Kongorivier. Die vaart vat hulle deur die hart van die oerwoud en deur die hart van Afrika na Kinshasa. Die gedeelte wat handel oor die mikrogemeenskap op die skip is boeiend. Hier en daar is humor ingespan: “Die mense begin met hulle vroegoggendroetine. Dis baie soos by ‘n karavaanpark. Almal is in hul nagklere, besig om tande te borsel, gesigte te was, ‘n draai te maak by die toilet. Alles gebeur in ‘n klein ruimte en persoonlike spasie is min” (142).

Dit is opvallend hoe daar na byna elke ete verwys word. Maaltye en die aankoop van kos maak duidelik ‘n integrerende deel van die Voetspore-kultuur uit. Dan is daar stories van gate en van paaie wat die gate verbind, malaria en longontsteking, slegte nuus uit Suid-Afrika, duisende dollar wat hul sakke verlaat (dis duidelik dat baie geld opgedok word vir die manne se prettog deur die vasteland), en lang dae se wag.

Ongelukkig blyk dit dat die ewenaar nie ’n belangrike deel van die Voetspore-span se reis “op die ewenaar” uitmaak nie. Hulle bereik die ewenaar eers ná 18 dae en kom daarna slegs ‘n handvol kere daarby. Dit is moeilik om die ewenaar deur hierdie vasteland te volg. Volgens die Voetspore-span was dit hulle moeilikste reis so ver.

Die kassies met ekstra inligting is baie interessant en werp lig op hul sypaadjiebesoeke. Die leser kry ’n goeie idee van die bestemmings en die geskiedenis daarvan. Ongelukkig is Wikipedia te veel as ‘n bron gebruik.

Johan is nie ’n danige storieverteller nie, eerder ‘n goeie sakeman met kontakte wat dit regkry om die vasteland plat te reis en dit dan later met ons te deel. ’n Mens beleef jou reisdrome as jy hierdie dagboek lees en staan verstom oor wat die span al alles bereik het.

Aan die einde kry hierdie dagboek van die Voetspore-span dit reg om die leser se voete te laat jeuk vir avontuur, reis en modder onder die tekkies (vir langer as twee minute).

Tog ontstaan die vraag by my: Waarom reis die Voetspore-span? Moet ‘n geborgde reisiger nie sy reis vir ’n goeie doel aanwend nie? Is daar steeds vandag ruimte vir ‘n reis van dié afmetings net vir die lekkerte?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top