Boekresensie: Tussen heinings deur Corlia Fourie

  • 0

tussenheinings250

Tussen heinings
Corlia Fourie
Tafelberg 
ISBN: 9780624074762

Tussen heinings is Corlia Fourie se vierde roman en is onlangs deur Tafelberg uitgegee. Die keurige voorblad gee reeds ʼn aanduiding van die belangrikste tema in hierdie roman, naamlik dat ons lewens deur heinings afgesper, versper, gereguleer en bepaal word.

Die roman bied nie net ’n blik op die lewe van Elize, ’n pasgeskeide enkelma wat so pas in ’n nuwe huis in ʼn nuwe buurt ingetrek het en ’n artikelredakteur by ’n nuwe tydskrif is nie, maar vertel ook die verhaal van haar wewenaarbuurman Tom, van die ander vroue wat by die nuwe tydskrif aangestel is, en van Welcome en Lina. Die roman vertel veral van wat tussen die heinings van en in hulle lewens aangaan.

Tussen heinings vertel die verhale van veral die vrouekarakters, wat almal by die nuwe tydskrif werk. Daar is Elize, wat aanpas by ʼn nuwe lewe en blyplek en werk met ’n tienerdogter, Michelle, wat haar eie tipiese jongmeisieprobleme het; Sarita, oorgewig en wat graag ’n roman wil skryf en wie se broer oorsee is; Hermia, wat perfeksionisties en skerp met die tong is; Bessie, wat jonk is en nog baie drome het wat sy wil bereik; en Maggie, wat as bruin joernalis haar voete in die tydskrifwêreld vind. Die vroue se stories is nie net hulle eie stories nie, maar verteenwoordig ’n hele kosmos van vroue en wat in elkeen se lewe aangaan: hoe om aan te pas na ʼn egskeiding, hoe om gewig te verloor, hoe om as tienermeisie ʼn gebroke vriendskap te hanteer. Maar dit vertel ook die verhale van Lina, Elize en Sarita se swart huiswerker en Welcome, ’n Zimbabwiër, wat tuinwerkies vir Elize en ander mense, onder wie Tom, doen. Welcome het sy eie geheim en sy eie drome van geluk en rykdom vir hom en sy familie in Zimbabwe. Tom is Elize se buurman en die roman begin met Tom wat sy vrou aan die dood afstaan en daarby moet aanpas.

Dit is ’n verhaal wat veral vertel wat tussen en agter heinings aangaan. Elkeen van die karakters leef agter heinings wat verteenwoordigend raak van ’n mensdom wat afgeslote van mekaar leef, veral in ’n stad: “Mense agter razor wires, agter hoë mure, agter electric heinings.” Tussen die heinings waaragter elke karakter leef, is daar iemand met sy of haar eie drome, begeertes, wense, bekommernisse, teleurstellings, pyn en alleenwees. Dit is wanneer ons as lesers tussen elkeen se heinings inbeweeg en ’n blik op elkeen se wêreld kry dat die verhaal ’n mikrokosmos raak van die hedendaagse Suid-Afrika. Dit beeld ’n Suid-Afrika van misdaad, vrees, gevaar, dood, armoede uit: “Sy kry haar handsak op die kombuistafel, maak die agterdeur toe, skakel die alarm aan, luister na die alarm se waarskuwingsgeluid terwyl sy die agterdeur oopmaak, toemaak en sluit.” “Tom, daar is net so baie gevare, soveel goed waaraan ʼn mens in dié stad moet dink om jouself te beveilig dat jy maklik paranoïes kan raak. En as hulle wil inkom, gaan hulle inkom. Heinings, diefwering, veiligheidsdeure gaan hulle nie keer nie.” Dit beeld veral die gaping tussen rykdom en armoede uit; tussen dié wat het en dié wat nie het nie: “Die honger mense neem net toe. Jaar na jaar, nee, maand na maand, om presies te wees, week na week word hulle meer.” “En as jy nie werk kan kry nie, wat bly oor: bedel of steel. Wat sou hy byvoorbeeld gedoen het as hy in Welcome se posisie was? Seker ook oor ʼn grens gestap het as hy gedink het daar is hoop vir hom in ʼn ander land.” Dit beeld die skrikwekkende ervaring van gewapende rooftogte uit en families wat oorsee is en nie wil terugkom nie: “Ons het ʼn muur met elektriese drade bo-op regom die erf, ons het diefwering, ons het veiligheidsdeure, ADT en ʼn rewolwer, en nogtans kon ons hulle nie uithou nie.”; “... en dink aan haar eie broer en sy gesin in Perth in Australië.”; “Nee, ek is te gewoond aan ʼn veilige bestaan. Te gewoond daaraan om nie bang te voel nie, al is dit laatnag en moet ek alleen ʼn trein vat huis toe. En waar gaan ek in elk geval in Suid-Afrika werk kry.” Hierdie is geen mooi prentjie van postapartheid Suid-Afrika nie en die leser is bewus van die onderliggende donker toon van hoe Suid-Afrika vandag daar uitsien.

Maar dit is ook ’n verhaal oor verhoudinge en die vriendskappe tussen vroue, en met hierdie twee temas kan baie lesers identifiseer. Die tema van verhoudinge is een wat met hartseer en somberheid uitgebeeld word: Elize is geskei, Sarita is enkellopend en Tom het sy vrou verloor. Daarteenoor is die tema van vriendskap een van ondersteuning en hoop en dit is veral die jonger, maerder Maggie wat vir die ouer, oorgewig Sarita hulp bring. Dit is ʼn tema waar vroue met mekaar kan praat en ʼn ondersteuningsnetwerk vorm – hulle is daar vir mekaar.

Tussen heinings handel ook oor die tema van kommunikasie of gebrek daaraan. Lina praat ’n mengsel van swak Afrikaans en swak Engels en Elize en Sarita kommunikeer moeilik met haar. Met ander woorde, dit verteenwoordig dat mense in Suid-Afrika mekaar nie kan verstaan nie en dat daar dus nie werklike begrip vir mekaar se situasie is nie. Verder verteenwoordig dit dat ons by mekaar verby praat. In die roman word daar gereeld oor en weer ge-Skype. Dit toon die fisiese skeiding wat tussen geliefdes soos pa en seun en tussen broer en suster is: “Sy skype nou byna elke Saterdagoggend met haar doktersbroer in Perth.”; “Hulle was die dag op die strand, sê Eben, toe hulle na verskeie probeerslae, swak aansluitings en beelde wat wip, rek en krimp soos Alice deur die spieël uiteindelik mekaar duidelik op skype kan sien.” Maar dit toon ook die emosionele skeiding en die verlange om by mekaar te wees.

Fourie werk op ’n interessante en byna onopsigtelike manier intertekstualiteit in die roman in om so ’n klein bietjie dieper nuanse aan die verhaal te gee. Daar is ʼn speelse stekie na gekanoniseerde skrywers; dit is veral Sarita met haar skryfdrome wat die motief uitbeeld. Daar is haar verwysings dat sy net wil skryf as sy soos Marlene van Niekerk en Ingrid Winterbach kan skryf; dat sy in Hennie Aucamp se woorde slegs “tweede liga” is; dat sy eerder by ʼn uitgewer moes gaan werk het om ʼn Karel Schoeman of André P Brink se werke te kon redigeer. Voorts kry ons sinne soos: “Ek weet te min van gedigte om te sê of ‘elke keer’ ʼn goeie of slegte gedig is.” Of: “Ja, as dit by artikels kom, maar met verhale en gedigte, dink ek, moet ons die lesers veral vermaak. Die arme mense moet darem vir ʼn wyle van die land en al sy probleme vergeet.”

Tussen heinings is ʼn lekkerlees-boek. Enkele punte van kritiek kan tog teen die roman genoem word, soos die vinnige laaste paar bladsye wat dit laat voel of die roman stoom verloor teen die einde se kant toe en die “gelukkige einde” en “mooi slot” wat tipies in romantiese verhale voorkom; asook die enkele geforseerdhede in die taal, soos “Hy voel sy eensaamheid soos ʼn houtsplinter in sy hart”; asook die eensydige uitbeelding van die stedelike lewe as boos en sleg. Ten spyte hiervan is dié ’n roman wat lesers gerus kan lees, want dit verwoord nie net die verhaal van vroue tussen heinings nie, maar verwoord veral die verhaal van oorlewing en aanpassing tussen hierdie heinings.

Tussen heinings bied ten slotte ’n blik op ’n wêreld waarvan ons daagliks in koerante lees en op televisienuus sien; een wat ons moontlik ook self al beleef het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top