Stylboek: Riglyne vir paslik skryf deur Piet du Toit en Wanda Smith (Protea, 2015. ISBN: 9781485301158. Sagteband, 616 ble)
Die tweede, omvattend herbewerkte uitgawe van Stylboek deur Piet du Toit en Wanda Smith is ’n heerlike verrassing. Teenoor die 2003-uitgawe (wat slegs op stylbeginsels gefokus het), handel die 2015-uitgawe eintlik oor veel meer as gepaste styl in Afrikaanse tekste. Alhoewel die kernbeginsels van goeie styl (duidelikheid, bondigheid, gepaste toon en aantreklikheid) steeds elk in ’n afsonderlike hoofstuk bespreek word, is hierdie uitgawe ook ’n skatkamer van inligting wat skrywers in staat behoort te stel om hulle skryfwerk op meer as een manier te verbeter.
Op bl 19 sê die skrywers dat die klem in die boek op skryfvaardigheid val, en hiermee raak hulle aan die aard en doel van die boek – om skrywers oor ’n breë spektrum heen bewus te maak van wat goeie skryfwerk is. Studente sou die boek kon bestudeer en aan die hand van die duidelike voorbeelde verskeie tegnieke vir goeie skryfwerk bemeester. Die meer yweriges sou dit op eie houtjie kon doen (die boek lees gemaklik genoeg daarvoor), maar dit sal ook baie sinvol wees om die boek binne die konteks van ’n spesifieke kursus in te span. (Hier dink ek aan tersiêre kursusse in Afrikaans, sowel as kursusse in akademiese geletterdheid.) Die boek is egter vir ’n groter teikenmark geskik, en almal wat met Afrikaanse skryfwerk gemoeid is – met meer én minder ervaring – kan dit met vrug gebruik.
Daar heers dikwels verwarring oor wat styl is. Styl word dikwels (verkeerdelik) gelykgestel aan die reëls van ’n bepaalde taal, of aan taalvoorskrifte wat in ’n bepaalde konteks geld – byvoorbeeld binne ’n sekere maatskappy. Soos die skrywers van Stylboek egter verduidelik, gaan styl nie “om vaste, nie-onderhandelbare taalreëls nie” (19). Veel eerder gaan dit daaroor dat die skrywer, deur veel te skryf en te lees, algaande leer watter taalgebruiksmoontlikheid in ’n bepaalde geval meer gepas as ’n ander sal wees. Maar tog is die vermoë om gepaste stilistiese oordele te vel, nie al vaardigheid wat nodig is om goed te skryf nie. Ook die meer vaste taalreëls (byvoorbeeld spelreëls) moet beheers word. Skrywers moet ook kennis dra van die soort inhoud en struktuur wat in sekere tekste vereis word – soos navorsingstekste. Stylboek se waarde lê daarin dat die boek oor meer as net gepaste taalgebruik handel: ook normatiewe kwessies word in die baie toeganklike hoofstuk oor reg en verkeerd hanteer, terwyl die hoofstukke oor navorsingstekste en literêre ontledings en resensies raad gee oor onder meer die hele skryfproses, agtergrondkennis en inhoudelike aspekte. Die skrywers en uitgewer kan dus daaraan dink om ’n volgende uitgawe te voorsien van ’n ondertitel wat reg laat geskied aan die wye trefwydte van die boek – Riglyne vir paslik skryf is te beperkend, juis omdat die skrywers aandag gee aan veel meer.
Die nuwe uitgawe verskil aansienlik van die eerste uitgawe ten opsigte van uiteensetting en helderheid. Die 2003-uitgawe lees nie altyd so vloeiend soos ’n mens sou verwag van ’n handleiding wat op styl fokus nie, en soms ervaar die leser dat die inligting nie so goed gestruktureer is soos wat dit kan wees nie. Die nuwe uitgawe lees egter veel meer gemaklik en oortuigend, en maak ruim gebruik van strukturerende tegnieke soos subopskrifte, kolpunte en opsommings aan die begin van ’n hoofstuk. Voorts verskil die toon ook van dié van die eerste uitgawe, deurdat die nuwe weergawe minder soos lesingnotas klink. Ek kan my dus indink dat ’n student redelik gemaklik deur die boek sal kan werk, en dat die leser sonder spesialiskennis ook nie sal voel dat hy of sy verlore raak in ’n massa digte inligting nie. Die uitstekende tipografiese ontwerp dra waarskynlik ook by tot die lesersvriendelike gevoel van die nuwe uitgawe. (Dit is net jammer dat die formaat van die hoofstuktitels in die inhoudsopgawe nie konsekwent is nie – die titel van hoofstuk 8 lyk nie soos die res nie.)
Die boek bestaan uit twee afdelings, naamlik ’n eerste oor styl (wat hoofstukke oor die begrip styl, die verskillende stylbeginsels, die styl van navorsingstekste en die kwessie van reg of verkeerd insluit). Die tweede afdeling handel oor die styl van literêre ontledings en resensies. ’n Mens wonder hier oor die besluit om die styl van navorsingstekste saam met die “algemene” stylbeginsels te groepeer, terwyl literêre ontledings en resensies in ’n afsonderlike afdeling geplaas word. Dit sou dalk meer logies wees om ’n afdeling te wy aan die uiteensetting van die begrip styl en die verskillende stylbeginsels, terwyl spesifieke soorte tekste in ’n afsonderlike afdeling bespreek word. Selfs die hoofstuk oor reg of verkeerd sou afsonderlik in ’n afdeling van sy eie geplaas kon word.
Die hoofstukke wat aan die vier belangrikste stylbeginsels gewy word, is goed nagevors en word sistematies uiteengesit. Die voorbeelde illustreer die beginsels telkens goed, terwyl die oefeninge (ook met voorgestelde antwoorde aan die einde van die boek) met vaslegging sal help.
Die hoofstuk oor die skryf van navorsingstekste sit die beplanning, die skryf en die afronding van sulke tekste helder uiteen. ’n Omvattende publikasie soos Stylboek kan uiteraard nie ewe veel besonderhede oor al die onderwerpe daarin gee nie, maar soms is my indruk tog dat meer voorbeelde in hierdie hoofstuk nodig is. So ’n behoefte sien ek byvoorbeeld op bl 264, waar die opeenvolging van argumente op ’n redelik abstrakte manier beskryf word. Praktiese voorbeelde van die toepassing van die verskillende stylbeginsels in spesifiek navorsingstekste sou ook nuttig wees. Hier en daar kan die skrywers dit ook oorweeg om met raad én daad te illustreer hoe probleme opgelos kan word, soos byvoorbeeld op bl 256 waar die probleem van onnoukeurige en selfs misleidende bronverwysings genoem word. In hierdie geval word die leser in die rigting van die oplossing beduie, maar ’n konkrete voorbeeld van die genoemde voet- of endnote kan vir die lesers wys hóé om te werk te gaan. Die hoofstuk sou dalk ook kortliks kon verwys na eietydse elektroniese hulpmiddels vir bronverwysings (byvoorbeeld stelsels soos Mendeley of RefWorks), alhoewel dit sekerlik onbillik sou wees om te verwag dat die skrywers dit ook bespreek.
Een van die groot aanwinste van die boek is die klem wat deurgaans op goeie strukturering geplaas word. Die metafore (262) waarmee geslaagde en minder geslaagde teksstruktuur verduidelik word, behoort die lesers by te bly: Probeer jy om alles meteens te sê, is jou teks nes ’n bondel ontglippende spaghetti. As jy net feite opsom en nooit interpreteer of tot sluiting bring nie, het jou teks die gevoel van los sand waarin die leser kan wegsink. ’n Goedgestruktureerde teks is planmatig opgebou volgens ’n struktuur wat die leser regdeur die teks raaksien: dit is soos ’n lasagne volgens ’n gelaagde patroon opgebou.
Die insluiting van die omvattende hoofstuk oor reg en verkeerd word heel oortuigend gemotiveer, alhoewel ’n uiteensetting van normatiewe kwessies nie werklik met styl verband hou nie. ’n Gevit oor hierdie hoofstuk se plek in die boek sou egter dwaas wees, want dit bied ’n goeie oorsig van kwessie en reëls waaroor daar dikwels verwarring heers. Daar is byvoorbeeld ’n helder uiteensetting van wat leenwoorde en anglisismes is, en ’n genuanseerde siening word aangebied, soos wanneer die positiewe funksies van leenwoorde verduidelik word. Terselfdertyd sal die goeie voorbeelde van anglisistiese woordgebruik vir taalgebruikers van waarde wees om hierdie netelige (maar dikwels misverstaande) kwessie in hulle eie skryfwerk te hanteer.
Die afdeling oor die styl van resensies en literêre ontledings berus kennelik op goeie navorsing deur die skrywers, met die gevolg dat uitstekende voorbeelde van die stylkwessies rakende hierdie tekssoorte verskaf word. Weer eens is my indruk dat die boek meer as net stilistiese wenke gee. Immers merk die skrywers self op dat “[o]ntleding (analise) en interpretasie (die soek na of toeken van betekenis) by literêre tekste (verhale, gedigte, dramas) [...] verder [strek] as taal- en stylvaardigheid” (396). So byvoorbeeld hanteer die gedeelte oor kommentaar oor die verteller en verteltegniek (415–22) meer as net die stilistiese versorging van sulke kommentaar – inderwaarheid is die skrywers ook besig om die leser se vakkundige kennis oor die onderwerp te slyp.
Dat Stylboek ’n ryk naslaanbron is, ly geen twyfel nie. ’n Mens moet egter tog waarsku dat dit nie ’n kortpad-naslaangids is nie – taalgebruikers moenie van die boek verwag om kitsoplossings vir skryfprobleme te bied nie. Veel eerder is die boek bedoel om stelselmatig deurgewerk te word, sodat die beginsels mettertyd by die taalgebruiker gevestig raak. Om die oefeninge (met die voorgestelde antwoorde) deur te werk, sal ook veel hiertoe bydra. Die skrywers merk in hierdie verband tereg op bl 353 op dat ’n “aanvoeling vir korrekte en gepaste sinsbouvorme” iets is wat mettertyd ontwikkel soos die skrywer met goedgeskrewe tekste in aanraking kom en oefening in skryfwerk kry.
’n Gebrek aan tyd sal waarskynlik die faktor wees wat byvoorbeeld taalpraktisyns sal verhinder om die boek ten volle te benut. Tog wil ’n mens alle taalgebruikers wat beter wil leer skryf, aanmoedig om die boek aan te skaf en stelselmatig deur te werk. Stylboek verdien meer as net goeie voornemens wat op die bedtafeltjie bly lê.



Kommentaar
Waar kan die boek gekoop word?