Boekresensie: Struisvoël deur Johan Fourie

  • 0

Struisvoël
Johan Fourie
NB-Uitgewers
ISBN: 9780624075585

Ek lees toevallig op dieselfde tyd wat ek Johan Fourie se debuutroman, Struisvoël (2015), lees, ook Antjie Krog se 2014-digbundel Mede-wete. Beide die roman en die eerste deel van die bundel ondersoek die maniere waarop wit Suid-Afrikaners se besitlike houding teenoor grond oorspoel tot hulle hantering van ander mense. Die kompleksiteit van die leefwêrelde wat ontstaan uit die verhouding tussen ruimte en mens word nie in een van die tekste vereenvoudig nie. Sien byvoorbeeld Krog se gedig “om soos vroeër”:

om soos vroeër 

om soos vroeër die Kroonstad/Viljoenskroonpad te vat
en nader aan die afdraai te hoor hoe rits my gewrigte los
hoe sidder my vel as ek by die plaaspad-middelmannetjie
oorskakel na tweede rat vir die kyk die kruie tot waar

die werf oopblaai in boord, bees, melk en klip die geflap
van bengels ganse en die spruitwatergeur van wilgers voor
mens die dubbelvoordeur binnestap – hoe gons vrydag-
skoonmaak, politoer en ysterklip as ek sonder klop

die klipgang op die hoor-af loop in julle aan’t vertelle
aan’t lagte aan’t koppies regsit in – ’n vignette aan die
groot eetkamertafel van ’n soort behaaglike akkoord
sonder omhaal skuif ek gewoon in op my plek en die

woord bevoorregting kom nie eens by my op as Ma
my koffie ingooi en my beveel om regop te sit Pa
die groen suikerpot aanskuif die beskuit en ek
sorgloos dieploos bloosloos deel in hierdie liefdesritueel

ag, ek verlang na my pa en my ma soos hulle was
daar aan die bopunt van die tafel     voor in die kar
geselsend in die hoofslaapkamer en die wêreld deur hulle
in stand gehou volkoringheilsaam en onvernietigbaar

so het dit gevoel        ek hardloop julle van agter-af in sit
my arms om julle skouers en loop in die warm wesend-
heid van julle knorrige gewetes loop liedswermend soos
ek eens geloop het as julle kind, julle wit batende kind

oor die uitgestrekde werf van leuens want kyk
’n heerskare was onder ons hak ’n gehaksel
wat bloei: ek dra met julle saam dit wat nou so
skeur uit ’n haag van bloed en bitter wraakgebroei.

Soos die spreker van hierdie gedig is die karakters van Struisvoël lief vir die plaas waarop hulle woon, maar word hulle ook gepynig daardeur en gevul met gevoelens van medepligtigheid.

Die tema van wit besitreg wat lei tot die ontneming van swart regte kom algemeen voor in die Afrikaanse letterkunde – Jan Rabie se “Droogte” is seker een van die beste voorbeelde hiervan.

Ook Struisvoël se ander temas is bekend, soos wat blyk uit ’n opsomming van die roman. As kinders op ’n volstruisplaas in die Klein Karoo in 1880 is Victoria, Marja en Klein-Sarel vriende. Victoria is swart, Marja het al die voorregte van ’n wit meisie ten spyte van haar Maleise bloed, en Klein-Sarel is die wit erfgenaam van die plaas. Soos hulle groot word, word hulle in verskillende verhoudings tot mekaar geplaas: Marja moet met Klein-Sarel trou en Victoria word hulle bediende. Teen die tyd van die troue is Victoria egter reeds swanger met Klein-Sarel se kind. Die roman wissel tussen die perspektiewe van Marja ten tye van die roman se gebeure en dié van Victoria wat op haar doodsbed terugkyk op dieselfde gebeure.

Laasgenoemde aspek – die sterwende vrou wat terugkyk op haar lewe – is ’n algemene troop in die Afrikaanse literatuur (sien byvoorbeeld Hierdie lewe deur Karel Schoeman en Agaat deur Marlene van Niekerk) en veroorsaak die roman se grootste swakpunt, naamlik ’n gebrek aan spanning. Die leser is reeds van die begin af bewus van die meeste van die roman se gebeure.

Daar word egter hiervoor vergoed deur poëtiese taalgebruik en bittersoet humor. Die bekende verhaalgegewens word hierdeur vernuwe, asook deur onverwagte jukstaponerings. Die volstruise wat geslag moet word na die einde van die tweede volstruisveerbloeityd word byvoorbeeld vergelyk met die groot aantal van hulle eie vee wat deur Victoria se Xhosa-voorgeslagte geslag is na aanleiding van die voorspellings van die profetes Nongqawuse. Nongqawuse, wie se verhaal voorheen gefiksionaliseer is deur Zakes Mda in Heart of redness, het voorspel dat die Britse setlaars sodoende terug in die see in gedryf sou word. Deur hierdie situering van die gebeure van tradisionele en postmoderne plaasromans in ’n breër Suid-Afrikaanse konteks bied Struisvoël ’n vars perspektief op Suid-Afrika se verlede en die invloed daarvan op die hede.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top