Boekresensie: Springgety deur Chanette Paul

  • 0

springgetySpringgety
Chanette Paul
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799381108

Die eerste uitgawe van Springgety het in 2007 die lig gesien. Dit was die eerste van vyf spanningsromans in die Gys Niemand-reeks. Die reeks bestaan uit Springgety, Fortuin, Boheem, Meetsnoer en Dryfhout. Kruisbaai se visvrou is ’n sentrale karakter in dié reeks.

In Chanette se biografie noem sy dat sy kortstondig ’n onderwyseres was, wearable art gemaak het in ’n klerefabriekie wat sy bedryf het en ook ’n paar kunswerke geverf het. Dit is duidelik in haar skrywes dat sy deeglik navorsing doen voordat sy dit neerpen en in alle aspekte ’n kreatiewe denker is. Sy self woon in die Overberg waar dié spanningsromans afspeel en daarom is haar beskrywings van so ’n letterlike aard dat jy die see kan hoor, ruik, proe en voel. Dis daarom maklik en selfs lekker om te kan assosieer met die karakters, want jy stap saam met die hoofkarakter, Lily Reynecke, na die visvrou. Jy hoor die branders teen die rotse slaan, jy sien Springklip voor jou in die mis opdoem, jy beskou die visvrou en lééf saam met Lily in die huisie wat haar veilige hawe raak en waar sy haarself vind. Bladsy vir bladsy blaai jy saam met haar deur die reis en word jy spoedig meegesleur in ’n boek van ’n allemintige 557 bladsye.

S Meyer van die Fakulteit Opvoedingswetenskappe, NWU, het die volgende oor Springgety geskryf:  “Die hegte struktuur en fassinerende storielyn maak van hierdie dik roman meesleurende vakansieleesstof. Daar is genoeg kinkels in die verhaalkabel om die leser tot aan die einde te laat raai.” Inderdaad maak dit nie saak hóé die leser probeer uitvis wie die skuldige is nie, dit bly ’n onbegonne taak en die klimaks is beslis ’n verrassing soos dit ’n goeie skrywer betaam, en hiermee slaag Chanette in haar doel. Soos een van die hoofkarakters sê, “Wanneer mens grense oorsteek, is daar min dinge wat belangriker is as vertroue tussen die partye wat saam op reis is.” In dié spesifieke paragraaf handel dit oor iets heeltemal anders, maar in retrospek is dit beslis die probleem wat die leser aan die raai hou tot die einde: wie kan jy vertrou en wie nie? Wie is die skuldige of is die skuldige party inderwaarheid op ’n manier eintlik ’n onskuldige skuldige? Dit laat jou gemaklik deur die bladsye vaar sonder enige inspanning, op soek en afwagtend tot die ontknoping.

Wat die verhaal meer aangrypend en assosieerbaar maak, is die feit dat ieder en elk van ons al probleme met vertroue ondervind het, hetsy in ’n vriendskap, verhouding of selfs huwelik. Dit ís die realiteit, daarom is dit maklik om jou in te leef, veral as jy al bietjie lewensondervinding onder die knie het. Jy kan nie help om vinniger te lees om te sien wát die uiteinde is, wie die skuldige is en wat gaan gebeur nie. Natúúrlik is dit ook ’n roman, so jy soek daardie bietjie romanse en die hoop beskaam geensins vir ’n prentjiemooi liefdeseinde nie.

Chanette kwyt haar goed van haar taak in haar eerste spanningsroman. Die leser se aandag word deurentyd behou, daarom soek jy amper ’n wegglipkansie om nog ’n bietjie te lees en voor jy jou oë uitvee is ’n paar uur verby en spoed jy deur haar gemaklike, vloeiende skryfstyl. Dis maklik om sommer spoedig in die lief en leed van die hoofkarakter te deel, om met haar wroegings te kan identifiseer en ’n medepligtige te raak in haar soektog na antwoorde. Dis natuurlik ook lekker om die opwinding van haar ontdekkingsreis na nuwe liefde, ’n nuwe dorp en sy kleurvolle karakters te ervaar. Dis nóg beter om die aanvaarding van geliefdes te ervaar – liefde en aanvaarding is tog iets waarna almal soek.

  • Foto van Chanette Paul: Naomi Bruwer
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top