Boekresensie: Solitaire deur Vita du Preez

  • 1

Titel: Solitaire
Outeur: Vita du Preez
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799375176

’n Goeie liefdesroman verslind ’n mens sommer in een sitting. Jy vergeet van die rys op die stoof, skeep die kinders af, lees tot dagbreek toe en kom eindelik met donker kringe onder bloedbelope oë by die werk aan. Die vonke spat tussen die gespierde, selfversekerde held en die beeldskone, bevryde heldin, en die romanse is só tasbaar dat jy teen wil en dank meegesleur word. Vita du Preez se jongste liefdesroman Solitaire het dit alles: ’n aantreklike held, ’n beeldskone heldin, romantiese kersligetes, bekoorlike sonsondergange en hartstogtelike soene.

Die vonk tussen die leser en die verhaalgebeure ontbreek egter en ’n mens voel nie genoop om hierdie roman binne enkele ure kaf te draf nie.

Vita du Preez het reeds ’n rits romanses op haar kerfstok en het in 2014 met haar vollengte-liefdesroman Waar die son omdraai wegbeweeg van die voorspelbare patroon van liefdesverhale.

Met haar jongste pennevrug voel dit egter asof sy haar weer midde van hierdie bekende resep bevind.

Solitaire is die eerste roman in ’n vierluik oor die wel en wee van die Vinkel en Koljander-vroue, en spring belowend en oorspronklik weg. Die gebeure in die eerste hoofstuk vloei flink en die taalgebruik is gemaklik en onderhoudend. Die res van die roman lees egter moeiliker en ’n paar lomp sinne, sowel as uitgerekte interne monoloë, kelder die leeservaring.

Donna du Toit is ’n eksentrieke juweelontwerper cum surfer wat ná ’n vernederende egskeiding en ’n jaar lange swerftog ’n allerlaagste punt in haar lewe bereik. In ’n poging  om die chaos waarin haar eens goedgeordende lewe ontaard het, uit te stryk en haar lewe weer op koers te kry, aanvaar sy ’n opdrag om ’n replika van ’n antieke halssnoer vir Maxine Minnaar te maak. Sy reis na Minnaarshof in die Riebeekvallei, waar sy skouers skuur met Maxine se aantreklike kleinseun en baas van die plaas, Toit Minnaar.

Toit het egter sy eie bagasie. Sy vrou is ’n jaar gelede voortydig oorlede. Op aandrang van sy vriende het hy ingeskryf vir ’n werklikheidsprogram, Vinkel en Koljander, soortgelyk aan Boer soek ’n vrou, waartydens hy drie dames, Kato, Ruby en McKenna, op die plaas sal onthaal ten einde die nuwe mevrou Minnaar te vind. Hierdie verwikkeling is op sigself te dik vir ’n daalder. Toit is steeds aan’t wroeg en rou ná die dood van sy vrou, maar is terselfdertyd ywerig besig om ’n nuwe vrou te soek.

Du Preez moes omvattende navorsing vir hierdie roman gedoen het. As jy ’n leek op die gebied van juweelontwerp, boerdery en branderplankry is, sal hierdie roman jou kennis verskerp. Die navorsing is egter nie so naatloos in die verhaalgebeure vervleg soos wat ’n mens sou hoop nie en die leser word telkens met inligting gebombardeer.

Temas soos gay-wees, snobisme en die tradisievaste plaaslewe word betrek, maar loop die leser gelukkig nooit trompop nie. Die kontras tussen die plaaswerkers en -inwoners word akkuraat uitgebeeld en weergegee deur Vlooi, Donna se huiswerker, tydens haar verblyf op Minnaarshof, maar kon verder ontgin gewees het.

Die heldin in hierdie roman is eenvoudig té mooi en sexy, en die verwysings na die held se effens skurwe humorsin té geforseerd. Verder vermoed ’n mens dat Du Preez haar storie binne 100 bladsye kon klaar vertel het. ’n Paar besonderse ruimtebeskrywings red die roman darem van ’n volskaalse mislukking.

Afgesien van ’n vurige liefdestoneel aan die einde van die roman moet jy beslis nie ’n bodice ripper verwag wanneer jy hierdie roman aanskaf nie. Beslis ook nie hoogdrawende letterkunde nie.

Dit kan hoogstens as ligte vermaak vir ’n vervelige Sondagmiddag dien. Die rys sal egter ongebrand voorgesit word en jou baas sal jou nie berispe oor ’n middagslapie by die werk ná ’n slapelose nag nie. Solitaire skyn aanvanklik belowend te wees, maar is uiteindelik nie ’n vonkelende juweel nie.

Solitaire is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. Kontak LAPA by (012) 401-0700 of besoek hul webblad: www.lapa.co.za.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top