Boekresensie: Soetloop deur E Kotze

  • 0

soetloopSoetloop
E Kotze
Uitgewer: Kwela
ISBN: 9780795707735

Sedert E Kotze se indrukwekkende debuut met die kortverhaalbundel Halfkrone van die nagmaal het sy haar lesers beïndruk met die beskrywing van die milieu en die mense van die ongenaakbare Weskus. Sy doen dit steeds met haar roman, Soetloop (2016), wat volg op Hoogty en haar ander romans.

Hierdie verhaal handel oor mense in die vroeë twintigerjare van die vorige eeu – wat daagliks die stryd teen armoede aanknoop en verstrengel raak in die soms onvermydelike gevolge van hierdie sukkelbestaan, waarin ’n bestaan van hul ouers slegs herhaal word.

Die “soetloop” is die wasplek waar die vroue hulle wasgoed was, aan die rand van die rotse “waar vars water onder ’n ligpienk rotsplaat uitsyfer” uit ’n soet lopie uit ’n ondergrondse aar wat soontoe dreineer uit die kalkklip en granietrotse boontoe.

Dié “soetloop”, as titel, word algaande ’n al hoe meer ironiese titel, want van die voorkoms van dié geïmpliseerde soort weelde is daar min sprake in die lewe van die karakters en hul leefwyse. Tog is daar die oomblikke wat hulle iets daarvan ervaar en bly die “soetloop” by meer as een van die karakters ’n wens en droom om bevryding van armoede.

Dit blyk ook te verwys na die “standhoudende soet welling van die liefde” waarvan daar in hierdie roman nie veel sprake is nie, veral nie wat die standhoudendheid daarvan betref nie. Daarom word daar wel  na Thomas Hardy se roman The return of the native verwys na aanleiding van Thomasina (Kattie) se naam: “’n love story, maar ook sad” (p 134).

Kattie, die hoofkarakter, is een van Claas Prins, getroud met Ellen, se elf kinders. Hy word ook genoem Klaas Arm, as gevolg van sy regterelmboog wat onherstelbaar beskadig is. Kattie is die laaste van hul elf kinders, eintlik Thomasina, maar omdat sy kleintyd heeltyd doenig was met die kat onder die tafel het die bynaam bly steek.

Hulle gesin, eens van die boereadel van Agterbaai, word uit hul huis uitgesit wanneer hulle die plaas, De Hoop, verloor, en ’n tuiste moet maak van Laaggeleë. Dié name dra verder by tot die betekenisvorming van naamgewing in hierdie roman. Kattie word deur haar lewe ook gedwing om van een tuiste na die ander te swerf en elke keer van vooraf ’n huishouding te prakseer met die karige middele tot haar beskikking.

Die kinders word een na die ander “uitgeplaas” om as oppassers of arbeiders binne ander families te gaan werk totdat hulle self ’n beter heenkome gaan soek of probeer bewerkstellig. In ’n sekere sin is dit ’n ontsnapping uit hulle huis met sy huwelik vol “broeiende stuipes”, maar slegs met wisselende mate van sukses. Kattie dink in ’n stadium daaroor dat sy net ’n “gatvlieg” is, nog een van die ongevraagde kinders wat “uitgepos” moet word ter wille van oorlewing (p 127).

Kattie is van kleins af ’n “moeilike” en eiesinnige kind, skerp en intelligent en gou “bekkig soos ’n papegaai”. Eers word sy as ’n helper gestuur na hulle ou woning, De Hoop, wat vir haar soos ’n tweede tuiste word ten spyte van die feit dat sy haar vasloop in die tirannie van Ant Ester.

Sy besef gou dat die deftigheid wat sy haar by die mense van die huis verbeel het, net van toepassing is op die portret in die voorhuis; die werklikheid is veel anders. Hier word sy eers net by die agterdeur toegelaat en ondanks al haar harde werk en talente net ’n “aangenaaide lap” en stuurdingetjie wat steeds op neergesien word as “ongesjineerd”.

Die parallel van ’n ongelukkige huwelik word egter ook op daardie plaas uitgebeeld en op 17, wanneer sy dit nie langer daar kan uithou nie, kry sy die kans om ’n bietjie van die soetloop by die Van Aardes te ervaar.

By hulle is sy ’n gewaardeerde lid van die gesin, word sy blootgestel aan ’n gelukkige huwelik, musiek, perdry en kry sy kans om haar vaardighede ten toon te stel. Sy gedy onder hierdie omstandighede en besef eers baie later in haar lewe dat dit ’n soort fantasiewêreld was waarin sy vir vier jaar in ’n mate kon wegbreek uit “die kettings van armoede”. Sy sou later in haar lewe daaraan terugdink as ’n besondere ervaring, ’n “knaende honger ... ’n verlange na geurige dae en getinte aande. Die hunkering na ’n ander lewe”(p.258).

Op 21 besluit sy egter onverwags dat haar tyd by hulle uitgedien is, dat sy nou haar eie lewenspad moet bepaal en sy besluit skielik, tot almal se verbasing en ontsteltenis, om met die wisselvallige en onbetroubare Mike Laumbaert te trou. Hoe wisselvallig hy kan wees, kom sy deur haar getroude bestaan saam met hom eers agter. Die Van Aardes en ook haar eie familie begryp nie hierdie skielike besluit nie, soseer dat “nêrens iemand vir hulle ’n gesig gehad het” toe hulle die nuus van die troue oordra nie.

Die res van die roman beskryf dan hierdie swerwersbestaan en voortslepende armoede saam met haar man en later drie kinders. Sy bly ’n onwrikbare, sterk vrou met ’n “instinktiewe spaarsamigheid” onder bitter moeilike omstandighede. Soms is daar tog nog geleenthede om haar talente te kan uitleef soos met die bakkery, waarvan sy kortstondig ’n bedryf kan maak, en later die ordening en beheer van die dorpsbiblioteek.

Die huwelik en selfs die verhouding met haar kinders het egter ook maar min soetloop-oomblikke. Kattie bly maar die meisie en vrou wat met die “oorskietstroke tevrede moes wees” soos vroeër op De Hoop. Sy én haar man loop by tye selfs weg, maar tog bly daar ’n verbintenis tussen hulle twee: “’n Verbintenis tot die einde. Wie sal dit verstaan? So ’n onpaar”, sê haar broer Nieko. Die beskrywing van hierdie “onpaar-verhouding” en die verhouding met haar kinders vorm die latere deel van die roman.

Soos met haar vorige romans en kortverhale blink Kotze uit met die beskrywing van ’n ruimte en tydsgees en is haar woordgebruik uiters treffend in die herskep van daardie wêreld en sy mense. Hier word aparte suiwer boerseep vir die baba se doeke gekook, werk ’n mens “vir ’n skepel broodkoring” en is die bestaan ’n “leef tot op die been, ’n dermskraapsel”. ’n Onverstaanbare gebeurtenis word beskryf  as: “waar’t jy so iets al ooit op ’n viool hoor speel?”.

Besonderhede oor die lewenswyse en aard van ruimte en bestaan is so uitgebreid soos die beskrywing van die pluk van die gansdonse en die verwerking daarvan tot donskomberse (p 167) en ’n wêreld waar perde nog beslaan word, die velling van ’n wa- of karwiel nouer getrek word, die ploeë uitmekaargehaal word en die skare skerp gemaak word (p 93).

Kotze skep lewensgetroue karakters met goed gemotiveerde handelinge binne ’n uiters realistiese konteks. Die deurlopende atmosfeer is egter dié van mense wat die vryheid na ’n ander lewensbestaan soek, na ’n ander kant van hul wêreld waar dit beter sal wees, waar hulle tog iets van die “soetloop” sal ervaar. Die werklikheid is egter huwelike waarin daar stiltes heers, waar die stiltes harder spreek as die woorde en sommige van die familie hulle moet oorgee aan “besluiteloosheid en die genade van ’n onseker toekoms” (p 120).

Die roman is weer eens bewys van Kotze se besondere vermoë om ’n spesifieke ruimte en karakters te skep wat die leser saamneem op die familiegeskiedenis van mense wat jy sal onthou lank na jy klaar gelees het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top