Boekresensie: Skadustemme deur Joanne Macgregor

  • 2

skadustemme650

Titel: Skadustemme
Skrywer: Joanne Macgregor
Uitgewer: Protea Boekhuis, 2015
ISBN: 9781485302629

In dié spanningsriller, Joanne Macgregor se debuutroman (wat in Engels gepubliseer is as Dark Whispers), onthul een van Megan Wright, ’n sielkundige, se pasiënte dat sy deur ’n snydokter wat in ginekologiese operasies spesialiseer, geskend is. Dit word duidelik dat die gewraakte operasie geen ongeluk was nie. Die vrywaringsbrief wat die pasiënt vooraf moes teken, maak dit egter onmoontlik om die betrokke dokter te laat vervolg.

Toe Megan haar kom kry, is sy daarop uit om dié dokter te ontbloot en te keer dat hy nog lewens vernietig. Veral toe sy uitvind dat hy ’n hele paar ander pasiënte ook geskend het, soms só erg dat hulle nooit sal kan kinders hê nie. Nie een van die klagte wat destyds teen die dokter gelê is, was suksesvol nie en soos wat sy dieper delf, vind sy dat vroue te bang is om teen hom te getuig en selfs te bang is om met haar te praat. Boonop moet sy die inligting wat in sessies aan haar vertel word, as vertroulik behandel, terwyl sy probeer om ander slagoffers gerus te stel dat hulle nie alleen is nie.

Haar soeke na die regte manier om die dokter aan die pen te laat ry, lewer ander skokkende onthullings. Verwikkelinge in Megan se persoonlike lewe word ook meesterlik met die verhaal se hoofspanningslyn vervleg.

’n Verdere verrassing kom ook wanneer jy begin twyfel oor die identiteit van die skuldige snydokter wanneer ’n nuwe pasiënt by Megan opdaag en sy woede en aggressie jou laat glo dat hy dalk die skuldige is wat uitgevind het Megan ondersoek sy wandade en met sy eie speletjie besig is.

Soos die noodlot dit wil hê, beland Megan deur ’n sameloop van omstandighede self op die operasietafel en met die dokter se slinkse uitruiling van operasiebeurte moet sy veg vir haar behoud, terwyl die narkose haar tong dik maak en haar lyf magteloos teen sy aanslae.

Die skrywer noem op haar webwerf dat die lang proses van vertaling vir haar ook ’n leerproses was en dat sy sekerlik die vertalers en redigeerders mal gemaak het met haar kommentaar en heen-en-terug-voorstelle en verbeterings. “Skrywers is beheervrate van nature!” skryf sy. Maar vertaler Elsa Silke kan tevrede wees: haar vertaalwerk was puik. Dit lees glad nie stokkerig en hortend soos baie vertaalde boeke maklik kan nie. En ek vermoed die rede hoekom die boek die kol so goed tref, is die geloofwaardigheid van die inhoud.

Die navorsing en insig in die sielkundige proses is leersaam en insiggewend. Mens moet jouself keer om nie self lomerig te word as die sielkundige haar pasiënte hipnotiseer om nader aan die oorsaak van hul hartseer of woede te kom nie.

Die boek is vreesaanjaend, veral omdat mens reeds soveel vrees en voorbehoud het oor jou ginekologiese ondersoeke; en die gedagte dat die dokter wat jy met jou lewe vertrou, dalk daardie magsposisie kan misbruik, laat my mond droogword.

Die beskrywings laat jou ook toe om jou verbeelding vrye teuels te gee en dis juis ons blootstelling aan rillerrolprente en grusame televisiereekse wat die skrywer se woorde nóg helderder beelde in jou geestesoog laat oproep.

Skadustemme doen sy naam as spanningsriller beslis gestand. Die storie word nie onnodig uitgerek nie, die inhoud is interessant en die skrywer het die waarde van behoorlike navorsing voor sy begin skryf het, goed verstaan. Die gesaghebbendheid van haar woorde oor die sielkunde-, ginekologiese en persoonlikeverhoudingsvelde is geloofwaardig en getuig van dieper begrip van die kompleksiteit van die menslike psige.

En wat my die meeste beïndruk het, is die boek se realistiese en geloofwaardige einde. Die besef dat die regte lewe nie altyd maanskyn en rose is en gelukkige eindes het nie; dat mens nie onaangeraak kan bly as jy met die waansin van ander se woede en seerkry gekonfronteer word nie.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top