Boekresensie: Robbie se broer se roer en ander jagstories deur Pienkes du Plessis

  • 1

robbiesebroer300Robbie se broer se roer en ander jagstories
Pienkes du Plessis
Human & Rousseau, 2016
ISBN: 9780798172394

‘n Kortverhaalbundel is veronderstel om lekker en maklike leeswerk te wees. Gemik op ontspanning en genot, eerder as om die leser uit te put.

As jy swaar leeswerk soek, is daar heelwat opsies in Afrikaanse literatuur om jou denke te prikkel of jou begrip uit te daag. Indien jy egter op soek is na ligte vermaak en boonop van die jagveld en buitelewe hou, kan jy beswaarlik beter kry as Pienkes du Plessis se derde bundel, Robbie se broer se roer en ander jagstories.

Dié versameling van 13 verhale is van gemaklike lengte dat jy net genoeg tyd het om een te lees terwyl jou koppie boeretroos trek. Die meeste is lighartig met ’n snaakse kwinkslag of twee in die verteller (meestal eerstepersoon) se eie stem, maar daar is tog ook een of twee wat ’n ongemaklike knop in jou keel sal laat. So is die heel laaste een in die bundel die perfekte verhaal om die bundel mee af te sluit. Vir Jan Somme is vleisbraai ’n geloof wat met eerbied hanteer moet word, en dit is ook langs die braaivleisvuur waar hy stil geword het vir altyd.

Voor dit het jy darem respek vir Oupa gekry nadat hy drie kleinseuns (saam noem hulle hulself die Temmers van die Moordenaarskaroo) vir ’n week na ’n Karooplaas geneem het vir ’n avontuur. En jy verstaan ook dat Oupa se pad hemel toe nou ’n geteerde dubbelbaan is.

Daar word lekker gelag saam met Kaller Skoeneman, Hênsem Niklaas en Anneries Tandeman vir oom Grootboet Willem wat wil staan en vertel dat hy ’n springbokram met die kaal hande gevang het.

En ook vir Robbie wat met sy broer se roer net middagbokke skiet, en nét een.

Daar is ook ’n verhaal waarna kinders grootoog sal luister. Grootoom Brombek, ’n springbokram wat baas is op die vlak tussen die trassiebosse en jakkalsgrasse, vertel hulle hoe dit gebeur het dat Grootoom Brombek die dag self gaan jag het.

Dan is daar Deurmekaar! (sy naam word altyd met ‘n uitroepteken geskryf), ’n basterbrak wat ’n hele plaaswerf op hol het en ’n spesiale oorlog teen die besproeiingstelsel voer.

Die rede waarom die stories so lekker lees, is Du Plessis se skryfstyl. Net omdat ‘n storie ’n kortverhaal is, beteken dit nie dat daar nie karakterisering kan plaasvind nie. Elke verhaal het ’n karakter wat aan die hoof staan, en die grootste deel van elke verhaal word eerder spandeer om die karakter in te kleur as om bloot ’n storie te vertel. Dit is meer karaktersketse met ’n toevallige storie wat saam met elkeen gaan as wat dit ’n storie met toevallige karakterisering is. En daardeur word die skrywer se skerp oog vir die verskillende karakters en waaruit hul menswees bestaan, duidelik.

Uiteindelik is dit ’n boeredosyn van lekker stories wat met ’n koppie sterk koffie of ’n glas goeie wyn geniet kan word. Wees net gewaarsku: “Stoffel en die streepmuis” sal jou dalk net laat proes van die lag, en beide koffie en rooiwyn laat vlekke.

  • 1

Kommentaar

  • Wynand Potgieter

    O genade nee! Dis seker een van die swakste boeke wat ek ooit gelees het. Die humor slaag nie. Wie gee vir tjops walglike name? Ek is 'n jagter. Min ware jagters drink. Hulle is lief vir die natuur. Die boek skep 'n wanvoorstelling van jag en die stories is banaal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top