Boekresensie: Moestas deur Deborah Steinmair

  • 0

moestas650

Moestas
Deborah Steinmair
Human & Rousseau
ISBN: 9780798168014

Vier karakters en ’n groot bieg. Aga, Jesse, Claude en Stasi is nie ‘n konvensionele viermanskap nie. Aga wonder oor penisse, Jesse is blind, Claude verwys na homself as ’n “homebrew” en Stasi lyk soos (en ís) “’n wit sangoma op die oorlogspad”. Maar saam los hul die raaisel van The Bleeding Heart of the Lamb Ministries se onthullende Facebookboodskap op. Voeg hierby ’n goeie skeut wraakgierigheid, Elvis, ’n steekse kat, ’n pou met ’n sesde sintuig, ’n narsistiese nimfomaniese voordanser, ’n dranksugtige lekeprediker en ’n Afrikaanssprekende Keniaanse magnaat se styfgespande uitgebreide pedofilienetwerk wat strek van Stilfontein tot Moskou.

’n Onstuitbare leesgenot.

Moestas is nog ’n raaiselroman uit die skrywer en joernalis Deborah Steinmair se pen na die verskyning van Die neus (2012) en Wenkbrou (2013). ’n Raaiselroman is ’n tipe misdaadroman; die Engelse noem dit ’n “whodunit”, wat soortgelyk aan ’n speurverhaal is. Aga, Jesse en Claude se vriendskap kom al ’n lang pad. Lesers maak die eerste keer met hierdie driemanskap kennis in Die neus, en in Wenkbrou sluit die onverskrokke Stasi, Anastasia Soldatos, as Claude se meisie, by hulle aan en word daar ’n gerekende viermanskap gevorm. Aga en Jesse is amateur-“privateyes” wat “raaisels liefhet en aangegryp word deur die intrige wat om hulle broei”. Met die hulp van hulle telepatiese verbinding en Claude en Stasi se “mad skills” word hierdie raaisels opgelos. In Die neus is die raaisel van Aga en in Wenkbrou die raaisel van Jesse se verlede opgelos. Nou is dit Claude se beurt.

Jesse het nog altyd verlies rondom Claude waargeneem en “dapper vasberadenheid om die mas op te kom”. Aga deel, soos gewoonlik, Jesse se waarneming: “Hy (Claude) leef so in die oomblik dat ons nooit juis gewonder het oor sy herkoms nie.” Tot Claude se verlede hom deur ’n Facebookboodskap inhaal.

Pastoor Danny Peter, voorheen “sommer net” Danie Pieterse van Westonaria, beken in ’n Facebookboodskap aan Claude vanaf sy “charlatan ministry" se blad, The Bleeding Heart of the Lamb Ministries, dat “I am terribly sorry for what I did to you when you were but a laaitie.” Hiermee kom Claude se lewe tot stilstand. Die verlies van sy verlore onskuld op ’n jong ouderdom is iets wat hy nou sal moet konfronteer. Aanvanklik wil Claude niks met sy molesteringsverlede te doen hê nie: “Daar isss geen manier op aarde wat ek die rubbisssh ooit onder woorde gaan bring nie.”

Stasi het egter ander planne.

Stasi hou haar lyf kuberkraker en neem so die gereg in eie hande. Sy kraak nie net Claude se Facebookrekening om sy molestering as kind te verkondig nie, maar ook The Bleeding Heart of the Lamb Ministries se rekening met ’n openbare bekentenis dat pastoor Danny ’n pedofiel is.

Boonop besluit Stasi om deel van die binnekring van pastoor Danny se bediening te word met die hoop om hom deur haar geleidelike indringing te ontmasker. Stasi se ma is as kind gemolesteer, wat haar net meer aanspoor om Danny te ontbloot: “Ek wil balle verpulp, meide.”

’n Mallemeule van intriges volg. Claude sluit sy Facebookprofiel en onttrek hom tydelik aan die samelewing onder Jesse en Aga se versorging. ’n Bloedhond, die “onlangs ontslane” joernalis in haar veertigs, Baba Botha, met ’n “oog vir ’n scoop”, begin egter lont ruik voordat Claude sy Facebookprofiel sluit. Intussen het Stasi Danny se bediening ten volle geïnfiltreer. Sy betrek tot haar Transkei-familie se voordanser, Phumzile, met nimfomaniese neigings en ’n buitengewone voorliefde vir kitskos. Stasi kry dit reg om Fanny, Danny se vrou, te “laat sing” oor Danny se verlede. Claude is toe nie al kind wat deur Danny betas is nie. Danny is selfs deel van ’n internasionale pedofilienetwerk met ’n Afrikaanssprekende Keniaan aan die hoof. Met die hulp van Theunie, Jesse se grootmaakkind, betree Aga die “diep net” om die hele kroekspul aan bande te lê. Alles gaan goed totdat Danny se lyk in drie koffers in Fochville se stortingsterrein gevind word en ’n verontregte speursersant Maarskalk snuf in die neus kry.

’n Raaiselroman het ’n ligter aanslag as ’n misdaadroman, maar die vraag is of lesers ’n greep kry op ’n aktuele kwessie soos kindermolestering wanneer dit met humor en gehul in die ongelooflike aangebied word. Alles aan die karakters van Moestas is ongelooflik: hulle wêreld is surrealisties, soos dit blyk uit die ongekende sukses wat deur hul buitensporige waaghalsigheid behaal word sonder dat hul aan die verkeerde kant van die gereg beland. Aga en Jesse het ’n buitengewoon eiesoortige klerestyl en is telepaties verbind met ’n heldersiende kat en ’n pou as troeteldiere. Stasi, die wit sangoma, met haar polities inkorrekte taalgebruik waarin sy na alle vroue as “meide” verwys, is ook nie heeltemal realisties in ’n rassensitiewe samelewing nie. Die karakters woon egter in Westdene, ’n kunstenaarsmekka, en is hul lewens dalk nie heeltemal te ongeloofwaardig nie.

Die noukeurige leser sal (buiten die steurende weglating van die lidwoord op ’n paar plekke) elemente van die sprokie in Moestas bespeur: die joernalis, Baba Botha, se oor word kloppend rooi wanneer sy weet dat sy ’n storie beet het. Die getal drie, wat tipies in ’n sprokie voorkom, speel ook ’n belangrike rol deurdat daar drie vroue, Aga, Jesse en Stasi, is wat Claude help om die raaisel van sy verlede op te los. Daar is ook verwysings na ander sprokies wanneer Stasi beskryf word as “heroïes beskadig soos Johnny Depp se Mad Hatter in Alice in Wonderland” en wanneer Stasi ’n spoor “Soos Hansie en Grietjie wat broodkrummels in die woud gestrooi het om weer hul pad huis toe te vind” in die kuberruimtes van die “diep net” laat. Die “ongelooflike geluk” wat Aga, Jesse, Stasi en Claude beleef tydens die oplos van hul raaisels is ook sprokiesagtig.

Die situering van ’n aktuele kwessie in ’n sprokiesagtige omgewing sluit aan by die sosiale teorie dat ’n sprokie die neerslag van die maatskaplike bestel is. Die onlangse opbloei van Afrikaanse misdaadromans gee te kenne dat daar ’n soeke is om die werklikheid van die misdaaddeurtrekte Suid-Afrika met die hulp van fiksie te verwerk. Steinmair bring in Moestas op ’n ongewone manier die kwessie van molestering aan bod ten einde dit meer toeganklik te maak en doen nie daarmee afbreuk aan die erns van dié kwessie nie.

Is Moestas egter eind goed, alles goed? Dít, liewe leser is jou besluit. Lees die boek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top