
Foto van Helena Hugo: kykNET
Mispa
Helena Hugo
Lux Verbi, 2016
ISBN: 9780796319692
Die jongste roman van Helena Hugo speel tussen 1893 en 1899 op die plaas Mispa in die hartjie van die Karoo af. Caroline is maar 30 jaar oud toe sy haar agtste kind in die wêreld bring. Al waarop sy gehoop het, was om te sterf. Die kloof tussen haar en Willem is só wyd, dit voel asof hulle mekaar nooit weer sal vind nie.
Hy is ’n onverbiddellike boer wat vir sy grond leef; sy het ’n fyner siel wat droom van dieper betekenis, van kuns en van die see.
Intussen pak die onweerwolke van oorlog op die horison saam en hul oudste seun, Daniël, beleef ’n groot teleurstelling.
Hugo verstaan die magiese krag van woorde wat goed gekies is; van karakters wat worstel met hulself, hul geloof en hul sterflikheid. Hugo het 52 boeke op haar kerfstok, waarvan 10 liefdesverhale deur Tafelberg onder die drukname Hartklop, Melodie en Satyn uitgegee is. Sy skryf en regisseer sedert 1978 vir die radio kleuterstories, jeugdramas asook sepies soos Blinkwater en Mooi mense. Voeg hierby agt enkeldramas waarvan drie met die RSG/Sanlam-dramawedstryd se eerste pryse bekroon is en een, Swane, met ’n ATKV-veertjie. Sy mag maar skryf.
Sy het haar drie jaar gelede op Christelike fiksie begin toespits. Haar naam is Ragel verskyn in 2013; die volgende jaar die topverkopers Marta en Ter wille van Talita.
Sy het al in onderhoude genoem dat sy van die Christengenre hou, omdat dit haar die ruimte bied om "die mens in sy verhouding met God subtiel en met deernis te beskryf".
Caroline se worsteling op die vlaktes van hul plaas is juis dit: ’n verbrokkelde verhouding met God wat haar in haar drome en in haar wakker ure jag, die soeke na ’n uitweg en die wete dat haar uitweg nie gaan kom voor sy nie haar geloof weer koester nie. Die boek raak soveel taboes aan wat in die 1890’s net so veroordeel is as in 2016: die afdryf van ongewenste kinders, egbreuk, jaloesie en afguns oor erfgrond, die letsels van kindermishandeling wat oor ’n boer se rug ingekerf lê.
Ek het ook die konteks – net voor die Anglo-Boereoorlog – geniet, want dis ’n hoofstuk in Suid-Afrika se geskiedenis waaroor daar gerus meer geskryf kan word.
Caroline en Willem verloor hul eersteling en soos die boek vorder, besef die leser dat die skeur tussen hulle eintlik daar reeds begin het.
Soos wat die boek vorder nadat sy die lewe geskenk het aan ’n dogtertjie, Cara, besef Willem iets groot skort. Haar suster en haar man kom kuier om na haar om te sien en Caroline smeek haar suster om tog die baba saam te neem en as hul eie groot te maak. Willem is nie hiervoor te vinde nie en ses maande lank leef sy vrou in ’n donker kokon: sy verlaat omtrent nie hul kamer nie en hy trek stoep toe.
Ten spyte van aanbiedinge van hulp verander die situasie nie en later is haar jonger sussie as huishoudster op die plaas. Sy neem ook Caroline se huwelikspligte oor. Daar word agter toe deure gefluister om Caroline na ’n inrigting in die Kaap te stuur en dis hier waar die damwal breek en dinge begin omdraai.
Die storie is gedetailleerd, verken die innerlike wroeginge van Caroline, maar terselftertyd verloop die storielyn goed. Die jare kom en gaan, die lief en leed van die groter familie en buurplase word ingewerk en gebeure soos die droogte, nagmaal op Kimberley, die verhouding tussen boer en werknemers, die mens se soeke na welvaart op die diamant- en goudvelde en die eensaamheid op die vlaktes, maak dit ’n geloofwaardige vertelling.
Caroline vind vertroosting in die teenwoordigheid van Elie, wat as skoolmeester op die plaas begin werk. Hy deel haar liefde vir boeke en stadig maar seker word sy weer ’n funksionerende mens.
Die boek bied goeie leesvermaak, die karakters is sterk en Hugo se woorde maak hulle lewendig en eg.
Ek het egter hier teen die driekwart merk van hierdie lywige boek - 426 woorde - gevoel die herhaling van haar krete na die hemel raak geyk. Die wroegingsbeskrywing word herhaling op herhaling. Die storie het effens sy trant verloor en ek het amper gevoel of ek in die storm beland het van halfmal springbokke wat oor die vlakte dreun en alles in hul pad plattrap.
En dan, net soos alles effe na normaal wil terugkeer, is dit die einde van die boek - en dis nie ’n geval van ek het só lekker gelees dat ek nog ’n paar hoofstukke sou wou sien nie - die boek eindig bloot stomp. Ná die diepte van die gevoelens van rou en weersin waarin die boek gedelf het, het ek die laaste paar bladsye afgejaag en oppervlakkig gevind.
As die doel is dat die boek die eerste hoofstuk van ’n reeks moet wees, sou ek dit graag vooraf wou weet. Dit sou dalk my houding jeens die einde verander het en ek sou kon uitsien na die opvolg.
Al hierdie kritiek egter ter syde, dis ’n heerlike opkrulboek wat jou gaan dwing om vir eers ander take opsy te skuif tot jy selfs die bibliografie gelees het.


Kommentaar
Ek het die boek baie geniet, effense moeilik gelees aan die Google Hollands. Maar my oupa het so gelees en gepraat.
Dankie vir die skrywe van Mispa. Ek soek nog. Ek geniet geskiedenis van Afrikaans regtig. Baie dankie.
Dis nou 'n lekker vloeiende boek om te lees ... dis min dat ek 'n boek in 'n dag deurlees ... maar dit is so onderhoudend geskryf. DANKIE.