Boekresensie: Marga & Henriëtte, in die skadu van skisofrenie deur Marga van Rooy en Henriëtte Boot

  • 4

Marga & Henriëtte. In die skadu van skisofrenie
Marga van Rooy en Henriëtte Boot
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799374988 

Ek was bevoorreg om onlangs tydens die US Woordfees in Stellenbosch ʼn verhoog te deel met Marga van Rooy en Douwleen Bredenhann. Madri Victor het ʼn bespreking met ons gevoer met die tema "My kind, my memoir".  

Om die gesprek te begin, het ons elkeen ʼn gedeelte uit ons boeke voorgelees. Douwleen uit ʼn Hemelhoë Hekkie, ek uit Bloedvreemd en toe begin Marga: "Op en af, op en af stap sy in die hospitaalkamer, van die een kant na die ander. ʼn Bybel styf teen haar bors gedruk. Ons pragtige blonde krulkopdogter." Die gehoor is tjoepstil terwyl ons na die geoefende akteurstem luister en vir ʼn oomblik hoor ek Ella vir Worsie sê: "Ek was vyf dae in kraam en toe jy gebore is, het die dokter jou een kyk gegee en mý geklap." Later in die boek lees ek hoe bekommerd sy oor haar kind was terwyl dié TV-reeks (waarin sy gespeel het) gemaak is. Die aktrise met haar eie wroeging terwyl sy ons laat lag, en ek verwonder my aan die sterk vrou wat ʼn beeld moes voorhou waarvan die toeskouers niks geweet het nie.

Dit is met hierdie akteurstem in my kop dat ek die boek lees wat deur Marga en haar dogter, Henriëtte geskryf is. Een storie, twee vertellers. Twee kante van dieselfde munt.

Ek lees van ouers se drome vir hul oudste dogter toe hulle haar by die universiteitskoshuis aflaai en hoopvol is haar universiteitsjare sal net so wonderlik soos hulle sʼn wees.

Aanvanklik lyk dit of alles reg uitwerk, alhoewel ʼn paar tekens misgekyk word om nie die hoop te versteur nie. Die oproep ʼn Vrydagoggend van die huismoeder om te sê hulle moet Henriëtte kom haal, sy tree vreemd op. Ek probeer my indink hoe ʼn ouer voel as jy by jou kind kom wat tydens die laaste besoek gelukkig en opgewonde was en "sy lyk verwilderd, haar hare is deurmekaar en sy praat aanmekaar". Boonop gebruik ʼn psigiater daarna uitdrukkings soos psigose en verlies aan kontak met realiteit. En, baie later, die diagnose: skisofrenie.

Marga vertel van die opname in ʼn psigiatriese hospitaal en hulle skok wanneer hul kind hallusineer en wanbeelde kry. Die verskrikking om te leer van ʼn psigiese siekte waarvan hulle geen kennis had nie. Die pyn wanneer jou kind vra: "Ma, sal ek gesond word?"

Met ontblotende eerlikheid vertel sy van verhoudings wat verander wanneer ʼn gesin met so ʼn werklikheid gekonfronteer word en die verwyte wat na haar geslinger word deur haar kind en ʼn familielid. Hoe sy oor haarself begin wonder: Is dit nie haar skuld dat haar kind siek geword het nie? Was sy nie te betrokke by haar beroep nie? Was sy ʼn slegte ma?

Soos ma’s doen, begin sy spoorsny en vind die rede, die oorsprong van die siekte in die familie se geskiedenis. Dan eers begin alles sin maak en kan die pad na herstel by almal in die gesin begin.

Maar dit is die jong Henriëtte se stem wat my die langste bybly. Vir haar hoor ek nog dae nadat ek die boek gelees het: "Ek wil deur die boek vir mense sê dat ʼn psigiatriese siekte nie ʼn doodsvonnis is nie. Dit maak nie van jou ʼn mindere mens nie."

Terwyl Marga se verhaal die agtergrond van die storie vertel, trek Henriëtte die drade bymekaar. Die krag van die boek lê in die feite, geskryf deur iemand wat persoonlike ervaring het. Iemand wat self die pad moes stap van skisofreniese simptome, van verstaan tot aanvaarding tot herstel. Sy vertel van die effek van te veel dopamien in die brein en gedagtes wat soos ʼn droom voel en hoe haar spiere deur die siekte geaffekteer is.

Openlik vertel sy van ʼn grootheidswaan, veral wat godsdiens aanbetref. Hoe sy aanvanklik gevoel het sy het ʼn missie op aarde, amper soos ʼn vroulike Heilige Gees. En met brutale eerlikheid beskryf sy die pad wat sy en haar ma moes loop om hul verhouding te herstel nadat gevoelens waarmee sy jare lank geloop het, na die oppervlak gekom het. Ons hoor van haar behoefte om geliefd en geborge te voel.

Met psigiatriepasiënte is dit meestal ʼn opdraande pad om die regte medikasie te vind wat die simptome onder beheer hou. Henriëtte was nie die uitsondering nie en sy vat die leser saam op haar stryd om die regte medikasie en behandeling te vind wat haar weer van ʼn lewe van gehalte kan verseker. Dankie tog vir die nuwe dokter by Stikland wat ʼn middel voorgeskryf het wat steeds die simptome onder beheer hou. Dit was in 2000 met haar laaste opname in die hospitaal. Daarna het haar lewe gestabiliseer en kon sy haar voete vind. Na ʼn lang tyd van probleme op sosiale- en werksvlak, lei sy ʼn sinvolle en produktiewe lewe.

Vir ma en dogter wil ek dankie sê vir hul moed om ʼn psigiatriese siekte so oop te skryf ter wille van die afbreek van vooroordele en onkunde. Dankie vir die openhartigheid oor verhoudings wat verander wanneer ʼn krisis ʼn gesin tref en vir die hoop wat dit die leser gee om te sien niks sal daarna dieselfde wees nie, maar dit kan beter wees. Soos wat in hierdie gesin gebeur het.

Ek bewonder iemand wat soos Marga in almal se oog is en met openhartigheid haar eie kwesbaarheid op die verhoog van die lewe plaas om ander te help wat met hul storie identifiseer.

Ek kan nie anders nie as om ʼn bewondering vir Henriëtte te hê na die lees van die boek.  Haar innerlike krag staan uit soos ʼn baken van hoop vir elkeen wat ʼn psigiatriese siekte het.

Inderdaad Henriëtte, is jy nie ʼn mindere mens nie. Jy is ʼn warrior woman.

  • Juliana Coetzer, psigoterapeut en skrywer van Bloedvreemd.
  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Eurika O'Reilly

    Ek het ook die boek gelees verlede week en kan dit regtig aanbeveel. Dit is reguit, eerlik geskryfen baie insiggewend in 'n siekte waarvan ek bitter min geweet het. As 'n ma, omtrent so oud soos Marga se dogter, het ek my ingeleef in hulle albei se vertellings.

  • Ek was ook by die boekvoorstelling. Aangrypend.

    Selfs vir my, wat met 'n skisofreen getroud is en ook die draaie deur Stikland ken, was daar baie insigte. Dinge waarvan ek ook nie geweet het nie. Maar, ek weet dat dit nie 'n maklike pad is nie, daarom te meer het ek aan Marga se lippe gehang.

    Ek wens vir haar en Henriëtte net die beste toe vir die toekoms.

  • Liewe anoniem, nou na Marga se afsterwe kom ek op jou vraag af. Die antwoord is JA. Kry psigiatriese hulp vir jou seun. Daar is wonderlike medikasies beskikbaar. Maak vandag vir hom 'n afspraak. Jy kan tot drie maande moet wag om ’n private dokter te sien. Daar is ook psigiatriese staatshospitale waar jy kan gaan aanklop vir hulp. Sterkte.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top