Boekresensie: Maestro deur Marié Heese

  • 10

maestro_280Maestro
Marié Heese
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798173919

Marié Heese het haarself sedert die publikasie van The Double Crown in 2009 gevestig as ’n baie produktiewe skrywer van historiese romans. Haar verhale nooi lesers om hulle te verdiep in die wêrelde van ’n verskeidenheid uiteenlopende figure uit die geskiedenis. Haar nuutste boek, Maestro: ’n Roman oor die vormingsjare van Gianlorenzo Bernini, speel af in 17de-eeuse Rome en is ’n soort Bildungsroman wat oor die lewe van dié bekende Italiaanse beeldhouer handel.

In sommige opsigte sluit Heese se roman aan by Karel Schoeman se Titaan: ’n Roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti (2009) deurdat dit die gegewens oor die lewe van ’n bekende figuur neem en dit gebruik as ankerpunte vir historiese fiksie waarin die biografiese blinde kolle kreatief ingekleur word. Haar werk sluit ook aan by ’n baie groter literêre tradisie. Hier dink ek byvoorbeeld aan die uitstekende Cicero-trilogie deur die Britse skrywer Robert Harris (Imperium, 2007; Lustrum, 2009; en Dictator, 2015) asook Hilary Mantel se romans oor Thomas Cromwell (Wolf Hall, 2009 en Bring up the bodies, 2012). Maestro bewys weer, soos Heese se ander onlangse romans, dat sy grondige navorsing doen wanneer sy ’n historiese roman aanpak.

Ofskoon historiese figure dikwels baie interessante lewens gelei het, kom die skrywer wat so ’n persoon se storie wil vertel, onvermydelik voor ’n aantal uitdagings te staan: Welke gebeure en ervarings sluit ’n mens in die storie in, en hoe besluit jy watter een dien as die klimaks in jou verhaal? Hoeveel karakters sluit jy in, en hoeveel diepte moet jy aan elkeen gee? In Maestro is hierdie uitdagings nie altyd versigtig en eweredig genoeg benader nie.

Die roman skop af in 1638 met ’n brief van Bernini se ma, Angelica, aan die kardinaal Francesco Barberini, waarin sy die kardinaal se hulp ontbied om ’n geskil te besleg tussen twee van haar seuns, Gianlorenzo en sy jonger broer, Luigi. Die oudste seun blyk die jonger een te wil vermoor. Die narratief spring dan terug na die jaar 1599, en volg Gianlorenzo se ontwikkeling van babadae tot jong en bedrewe kunstenaar in diens van die pous, Urbanus VIII.

Die roman vertel in vier dele (en soms in verskriklike besonderhede) van talle ervarings uit Gianlorenzo se lewe oor 40 jaar. Ons volg die kind se ontwikkeling deur uitvoerige beskrywings van sy opleiding onder sy pa, Pietro, wat self ’n gerespekteerde beeldhouer is, en onder amptenare in die Vatikaan, waardeur hierdie instansie se belangrike rol in die Renaissance-kunswêreld beklemtoon word. Ons word meermale onsubtiel daaraan herinner dat die jong Bernini briljant blyk te wees, en dat groot dinge op hom wag, soos wanneer die skilder Annibale Carracci Gianlorenzo en sy vader in die toe nog leë Sint-Pietersbasiliek ontmoet en met winkende oordaad die onvolledige staat van die basiliek bespreek (43):

“En tog,” sê Carracci, “is hierdie yslike binneruimte eintlik nog nie na behore afgerond nie. Eendag, menere, glo my goed, sal hier ’n groot kunstenaar kom wat die geheel waardig sal voltooi.”

“Die oop ruimte is beslis nog te groot en te leeg,” stem Pietro saam.

“Daar by die middelpunt, by die graf van sint Pieter, behoort die een of ander uitsonderlike struktuur opgerig te word,” beduie Carracci met sy stok. “En iets anders, ook manjifiek, aan dáárdie punt, om die geheel in balans te bring.”

Jammer genoeg word hierdie gesprek boonop voorafgegaan deur die beaming van Carracci se opmerkings oor die prag van die basiliek wat te veel herinner aan die lofprysing gerig aan die keiser in Bartho Smit se Die keiser (1977): “‘Uniek, uniek,’ beaam die een. ‘Allerpragtigs,’ sê ’n ander. ‘Die kroon van basilikas!’” (43). En enkele bladsye later sê die pous dan ook nogal: “Laat ons hoop dat [Gianlorenzo] die Michelangelo van hierdie eeu gaan word” (49). Met die sosiale stand van hierdie figure in gedagte is dit seker nie geheel onmoontlik om te dink dat hulle so sou praat nie. Maar as ek as leser later in die roman dan weer herinner word aan Carracci se aanvanklike mening oor die basilika (295), en dit in tandem gelees word met die voor die hand liggende voorspelling van Bernini se toekomstige grootsheid, voel ek nogal geïrriteer met die wantroue in my begripsvermoëns.

Die kunstenaar se vroeë studiejare in die Vatikaan illustreer hoe sy fyn waarnemingsvermoë heelwat van sy latere kunswerke beïnvloed het. Ook die invloed van sy leermeesters (hier meestal Katolieke priesters) op sy wêreldbeskouing blyk duidelik. ’n Belangrike figuur onder hulle is kardinaal Scipio Borghese, wat in een toneel vir die jong Gianlorenzo ’n aantal verbanne sketse in die argief van die Vatikaan wys. Die toneel ontaard in ’n verontrustende ervaring waartydens Borghese die klein Gianlorenzo betas. Die roman skram dus nie daarvan weg om die Rooms-Katolieke Kerk se eeue lange menseregtevergrype aan te raak nie. Ek wil nie te veel van die romangebeure aan lesers verklap nie, maar Borghese word self in hierdie toneel deur ’n ander priester misbruik (en later daarvan beskuldig dat hy een van sy katelknape keelaf gesny het), wat tot gevolg het dat pedofilie en homoseksualiteit op ontstellende wyse saam uitgebeeld word. Aanvanklik het ek hierdie toneel nog gelees as ’n samevloeiing van enersyds die poging tot historiese akkuraatheid betreffende destydse houdings jeens seksualiteit, en andersyds die endemiese kindermolestering deur Katolieke gesagsfigure, maar die stereotiepe beeld van die vuil en perverse homoseksuele man wat ook in hierdie toneel ontplooi word – deurdat die ander priester se ontbloting van sy geslagsdele met die uitwalm van ’n “suur liggaamsreuk” gepaardgaan (97) – maak dit moeilik om so ’n lesing vol te hou.

In die roman is daar verskeie vroue wat ’n duidelike invloed op Gianlorenzo (en sy kuns) het. Dit is skynbaar veral die gelowigheid en deugsaamheid van sy ma, Angelica, en sy ouer suster, Agnese, wat by die hoofkarakter ’n beeld van die ideale vrou inprent. Ander vroue wat hom beïnvloed, is ’n reeks minnaresse, onder meer die verstandelik gestremde diensmeisie Isabella, met wie ’n tienderjarige Gianlorenzo ’n seksuele verhouding het, asook Laetitia Pamphili, wat byna deur hom verkrag word. Die bipolariteit van hierdie vroue (opeens met hul “helende moederlikheid” en “veilige geborgenheid”, maar dan skielik “honger, eisend en wild” met “kloue en tande” 233), en die eenvoudige karaktereienskappe van sy handlanger Zeppi se “byslape”, soos die lys van dramatis personae hierdie vroue noem (12), het tot gevolg dat die uitbeelding van vrouekarakters taamlik binêr en oppervlakkig is. Dit is spytig dat dié swak punt van die roman – Bernini se simplisties besitlike en neerbuigende ingesteldheid teenoor vroue – uiteindelik ook is wat tot die onderweldigende klimaks lei.

Hoewel die roman daarin slaag om iets weer te gee van die verterende drif van die beeldhouer se kunstenaarskap, word dit ontsier deur herhalende geykte opvattings oor die kuns, byvoorbeeld: “‘Dit,’ sê Gianlorenzo, ‘is die wonder van kuns. Dit is hoekom elke kunstenaar ’n kulkunstenaar is. Want hy omskep die lelike in skoonheid’” (214). Lesers wat nie hierdeur en deur die ensiklopediese beskrywings van sy kunswerke en tydgenote gesteur sal word nie, en wat besonder belangstel in die lewe van Bernini, mag Maestro dalk geniet. Die chronologiese en gedetailleerde struktuur van die roman leen dit egter daartoe dat talle karakters en gebeure deur melodrama verwen word. Van sterftes tot hoofpyne, van liefdesteleurstelling tot ’n onhandige kaphou met die beitel – alles in Bernini se lewe is tot die uiterste aandoenlik. Die ongefokuste aard van die plot, die soms absurde dialoog, en die teenstellende karakterisering het die roman vir my bederf.

Oor een van sy bekendste werke, Pluto en Proserpina, dink Bernini: “Dit vereis drama, en emosie. Beweging moet daar wees, maar so ook balans. En alles lewensgroot” (238). As roman doen Maestro ongelukkig nie aan so ’n onderneming gestand nie.

  • 10

Kommentaar

  • Deborah Steinmair

    Ek stem glad nie saam met die resensent nie. Ek kritiseer nie graag kritici nie, maar dit wil lyk asof hy as leser swaar dra aan sy eie bagasie. Ek het my enduit verwonder aan die roman.

  • Reinhardt Fourie

    Ek en Deborah Steinmair voel verskillend oor hierdie roman. Dit blyk duidelik uit my resensie, en uit Steinmair se aanhaling wat op die agterplat van die roman verskyn.

    'n Mens kan van enige resensie verskil. 'n Resensie bly immers net 'n mening. Ek verstaan wel nie waarom die reaksie ad hominem moet wees nie. Waarom is daar sprake van my "bagasie"? (Wat dan nou ook al daarmee geïnsinueer word.) Dit is 'n moddergooiery waarin ek myself nie sal begewe nie.

  • Deborah Steinmair

    Liewe Reinhardt, geen modder is gegooi nie. Ek weet niks van jou nie. 'Bagasie' verwys na bestaande vooroordele en opinies, waarvan nie een van ons gevrywaar is nie. Jy is reg: ons het 'n meningsversil.Ek het, soos jy, bloot myne gelug. Vrede vir jou.

  • Linda Zollner

    Die resensie van Fourie oor Maestro doen nou presies wat 'n resensie nie moet doen nie. 'n Leeskring het my gevra om die boek met hulle te kom bespreek en ek het ja geantwoord alhoewel ek die boek nog nie gelees het nie. Ek gaan koop toe die boek en was op die punt om dit met groot verwagting te begin lees, toe sien ek die resensie en my lus en vreugde is skielik weg. Die boek is nou bietjie eenkant gesit tot ek alles wat ek in die resensie gelees het, vergeet het. Hopelik is ek dan in staat om 'n beter toespraak oor die boek te gee.

    • Wat nogal dink jy moet 'n resensie doen? Presies wat hierdie resensie doen. Hy skryf nie soos jy dit wil lees nie en hy motiveer sy menings. En hy is reg.

  • Essa van Blerk

    Dit was heerlik om Maestro te lees. Die besoek aan Rome en Sint Pieterskerk gedurende 1600 was 'n interessante ervaring. Ek kon elke bekende beeld saam met Bernini skep en hom ook persoonlk leer ken.

  • Ons leeskring lees Maestro hierdie maand en moet dit nog bespreek. Ek stem saam met Reinhardt Fourie se resensie oor die boek. Bernini se sg lewensverhaal en gebeurtenisse rondom die skepping van sy beeldhouwerk ens was vervelig en onnodig teatraal.

  • Marthie Labuschagne

    Gelukkig het ek nog geen resensie gelees toe ek Maestro gelees het! Moet dit nou ook voorberei vir Leeskring-bespreking en tweede keer lees. Natuurlik gaan ek nou anders daarna kyk - maar gelukkig het ek reeds my eie mening ... Ek moet sê dat ek die begin bietjie irriterend gevind het - dialoog en beskrywings was net te 'hard probeer'. Het die Marie Heese -aanslag gesoek ... soos in Die uurwerk kantel, byvoorbeeld. Maar toe het ek ingeklim in die rykheid van gegewens en uitbeelding van karakters en kon nie wag om te lees en te lees nie. Ek glo vir gewone leesgenot oor nog 'n interessante karakter en wêreld van kuns is Maestro aan te bevele.

  • Vir ons leeskring lees ek nou Maestro. Ek dink Reinhardt hou homself nog terug. Dis werklik 'n flop. Dialoog wat die verhaal voorspel; elke beeld wat so te sê persoonlik uitgekap word, hou vir hou. Die karakters is eendimensioneel en ironies is Bernini driedimensioneel. Lees liewers 'n biografie oor Bernini se lewe en beelde. Dit sê soveel meer in soveel minder woorde

  • Ek het bitter baie van die boek gehou, en dit in 'n warrelwind van opgewondenheid en entoesiasme verslind, en ek is 'n belese persoon.
    Dit is wonderlik dat historiese romans (en dit wil sê - soos die skrywer self erken - verbeeldingryke opspooksels oor die lewens, wense, verbeelde (en werklike!) realiteite, en alledaagse nukke en grille van die groot meesters in Afrikaans geskryf word, en dat daar gepoog word om deur 'n grootse poging van verbeeldingrykheid en die historiese roman-medium, hul lewens en alledaagse omgang te beskryf en kleur te gee.
    Behalwe vir Schoeman se Titaan weet ek nie van ander historiese romans met die groot meesters se lewens as temas in Afrikaans nie - literatuur in ons geliefde tongval wat JUIS soveel te meer moet verskyn en gekoester moet word.
    Welgedaan Mev Heese, welgedaan! En welgedaan ook met jou taalgebruik en -afwerking!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top