Boekresensie: Jou Krugerwildtuin-gids met stories: verkyker, grondpad en kaart deur Frans Rautenbach

  • 0

krugerwildtuingids280Jou Krugerwildtuin-gids met stories: verkyker, grondpad en kaart
Frans Rautenbach
Tafelberg
ISBN: 9780624074311

Ek moet bieg, ek het ’n obsessie oor die Nasionale Krugerwildtuin. In my vormingsjare het my oom en tannie in die Skukuza-personeeldorp gewoon en ons het gereeld daar gaan kuier. Die dorp was, of so het dit vir my gevoel, in die middel van die veld en daar was geen grensdrade nie. Ek onthou goed hoe ek en my neef op die warm teer na die swembad geloop en koedoes, vlakvarke en rooibokke ons vergesel het. Een oggend kon hy nie met die fiets skool toe ry nie, want ’n trop leeus het ’n seekoei op sy roete platgetrek.

Daar is reeds baie boeke oor die wildtuin geskryf: gidsboeke, wetenskaplike boeke, koffietafelboeke, boeke oor die diere en voëls, kaarte wat soos boeke lyk, en boeke met die veldwagters se verhale (my persoonlike gunsteling), maar die nuutste geskrif oor hierdie aardparadys is vanuit ’n heel ander hoek.

Frans Rautenbach het hier, ná sy vyftigtal in besoekjare aan die wildtuin, ’n baie volledige gids vir die groentjiebesoeker saamgestel. Hoewel die boek nie vir die gesoute besoeker geskryf is nie, sal selfs diegene die raak sintuiglike beskrywings van die wildtuin geniet. Soseer dat jy sommer onmiddellik in jou kar wil spring en een van sy aanbevole roetes na die wildtuin toe wil vat.

Vir verskillende mense beteken die Kruger verskillende dinge, maar vir my gaan dit oor net een ding: die atmosfeer. Rautenbach se wildtuin en die een wat ek ken, is soos sy beskrywing van ’n tipiese wildtuinhut: “Net so was dit om by die hut in te loop ’n aanslag op die sintuie.” Hy kry dit reg om die vergete reuke en vroegoggendlig van my sewende verjaarsdag in die Skukuza-personeeldorpie in my gedagtes te herroep.

Rautenbach deel die boek baie slim op in ’n reeks afdelings met praktiese wenke, wat dit vir die beginner-besoeker maklik maak om die beste uit ’n wildtuinvakansie te haal. Hy het ’n plan en verduideliking vir elke voorkeur – willdkyk, natuurskoon, atmosfeer en tyd. Dit gee die besoeker ’n rustige inleiding van wat verwag kan word. Die persoonlike ervarings en foto’s, stories en sintuiglike beskrywings smelt lekker saam met die inligting om die lees op sigself ’n ervaring te maak. Op die ou end is dit mos ’n boek ook.

“Hoe om diere te kyk?” kom eerste aan die beurt en is sekerlik die belangrikste. Dit is een van die groot redes waarom besoekers na die wildtuin stroom. Hy dui die beste wildkykroetes aan – en moenie dink dit is almal in die suide nie: “... die Pafuri-vallei waardeur die Levuburivier loop. Hier is 75% van die biodiversiteit van die wildtuin gekonsentreer.” En: “Noord van Shingwedzi lê die gebied bekend as Vlakteplaas. Volgens statistiek het die gebied die meeste roofdiere en olifante van alle streke in die wildtuin.”

Die tweede afdeling is “Blyplek” en hier beskryf hy die kampe en die kamplewe breedvoerig. “As daar ooit ’n plek is wat klink soos dit lyk dan is dit Satara.” In “Blyplek” vang hy die atmosfeer van die wildtuin baie akkuraat vas en dit is duidelik dat die wildtuin dieselfde uitwerking op almal het – ’n gevoel van terug na die natuur wat met ons afgestompte sintuite lol. “Die Timbavati is een van daardie plekke in die wildtuin wat bevestig jy’s in Afrika se bos.”

Verder vertel hy presies hoe en waar om verblyf in die wildtuin te bespreek en die belangrike “Kos en kosmaak as deel van jou wildtuinroetine”. Indien die leser nie met die wildtuin vertroud is nie, weet hy of sy ná die lees van hierdie afdeling presies wanneer om die kampvuurtjie aan te steek en hoe laat om op te staan om ’n heerlike koppie koffie met beskuit te geniet en steeds betyds te wees vir die leeutrop wat buite die hekke lê en wag. Hy laat niks na nie en beskryf ook al die piekniekplekke. Rautenbach lê selfs ’n paar lekker eenvoudige resepte voor. Ek gaan volgende keer die mielieplaatkoekies êrens langs die Letabarivier vir my trop toeriste maak.

’n Kenmerk van die wildtuin is ’n hoop voertuie wat die pad toestaan nes jy oor ’n bultjie kom. Dan weet jy, hier moet ’n leeu of twee wees. Dalk selfs ’n luiperd. Rautenbach beskryf leeukyk so in die hoofstuk “Lekker dinge”: “Langs ons sit ’n oom en sy vrou in ’n bakkie wat haaks met die pad geparkeer is, kompleet soos ’n boer by ’n dorpsrugbywedstryd.”

Die laaste twee afdelings is verder baie prakties en gee wenke oor wat om in te pak en watter roetes jy kan volg om by een van die wildtuin se nege ingangshekke aan te klop.

Die boek is slapband en pas mooi in ‘n drasak saam met ‘n verkyker, tonteldoos, knipmes en Newman se vervellende voëlboek van 1991.

Rautenbach is duidelik baie bekend met die wildtuin, en hoe verder mens lees, hoe lekkerder raak dit. Hy som die wildtuinervaring perfek op en elke hardebaard-wildtuinganger sal die volgende beaam: “Die helfte van die plesier van die wildtuin is om buite met ’n glasie langs die vuur te sit (...) of in die nanag, wanneer die dou uitsak en jy in jou bed omdraai, ’n naguiltijie se hartseer-soet Good Lord, deliver us …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top