Titel: Icons
Subtitel: Imaging the Unseen - On Beauty and Healing of Life, Body and Soul
Skrywer: Daniël Louw
Uitgewer: African Sun Media
ISBN: 1920689125
Daniël Louw se nuutste boek handel oor ikone en heet Icons. Imaging the Unseen. On beauty and healing of life, body and soul. (Stellenbosch: African Sun Media, 2014). Louw is ‘n deurwinterde en ervare teoloog, ‘n bekende skrywer en ‘n gerekende spesialis op sy terrein van die praktiese teologie.
Tog is die boek tekenend van ‘n ander boeiende nie-teologiese kant van sy loopbaan en lewe. Dit is ‘n boek wat om meer as een rede aandag trek: Louw skryf hierdie boek vanuit spiritualiteit as ‘n groeiende belangstellingsveld, maar hy doen dit ook aan die hand van die tema van ikone.
Dit is opmerklik - want ikone was nooit juis ‘n bekende of selfs gewilde onderwerp vir Afrikaanse gelowiges en vir Protestante nie. Trouens, ikone was vir die grootste deel van die Protestantse geskiedenis dikwels verdag. Daarom was dit ook opvallend toe John de Gruchy, ‘n ander bekende Protestantse (en gereformeerde) teoloog in ons land, ook ‘n boek oor dieselfde tema - Icons as a Means of Grace (Lux Verbi, 2011) - geskryf het. En ewe opmerklik was hoe ‘n jong teoloog-digter, Kobus van der Riet, onlangs sy debuutdigbundel met pragtige kontemporêre ikone verbind het.
Louw se boek wys op ‘n totaal nuwe waardering vir ikone. Dit toon verder hoe Protestante se geestelike visie aan die verbreed is, want die geskiedenis van onkunde of selfs afkeer in ikone as "beelde-afgodery" in hierdie tradisie is besig om inderdaad tot ‘n einde te kom.
Daarom tel ‘n mens die boek met meer as gewone belangstelling op: hoekom begewe ‘n gereformeerde teoloog hom op die terreine van ikone en wat skryf hy daaroor? Ikone is immers ‘n hoogs gesofistikeerde onderwerp wat vra dat ‘n mens deeglik moet kennis neem van eeue se tradisies en interpretasiegeskiedenis. Dit is ‘n dapper persoon wat hierdie onderwerp aanpak.
‘n Mens kan verstaan dat iemand soos Louw met sy aanvoeling vir die estetiese, hierdie boek skryf. Daar is beroemde ikone wat dadelik met kykers resoneer. ‘n Bekende voorbeeld is die onvergelykbare triniteitsikoon van die groot Russies-Ortodokse meester, Rublev (oor wie Tarkovsky ‘n aangrypende en mistieke film met die naam Andrei Rublev gemaak het wat deur sommige as die grootste film van alle tye beskou word). Louw bespreek hierdie ikoon op ‘n paar plekke in sy boek. In ‘n Suid-Afrikaanse konteks het Reimer oor Rublev en die triniteitsikoon ‘n boeiende artikel geskryf, terwyl die Switserse skrywer en Benediktynse priester, Gabriel Bunge, in 2007 ‘n wonderbaarlik-interessante boek daaroor vanuit die interpretasiegeskiedenis geskryf het (The Rublev Trinity; Crestwood, New York, St Vladimir’s Seminary Press). Vele ander ikone het op die manier aandag gekry.
Maar ikone resoneer nie altyd so onmiddellik nie. Louw vra daarom pertinent die vraag: wie wil nou, wanneer moderne mense die allermooiste visuele ervaringe op die internet kan opdiep, ‘n boek skryf oor werke wat ‘n mens aan muwwerige kloosters en afgeleefde askete sou kon laat dink (bl 17) – en boonop in ‘n tyd dat groot maatskaplike en sosiale tema’s eerder bespreek behoort te word?
Sy antwoord in hierdie boek kom met ‘n ompad, maar is heel konkreet: hy het gesien hoe mense in ‘n afgeleë Afrika-stat met uitbundige verwondering vir die eerste keer water uit ‘n tenk as ‘n gawe van God kon tap. Hierdie wonderskone ervaring het hom met nuwe oë na die waterkrane tuis laat kyk as ‘n sakrament van goddelike voorsiening. Deur ‘n gewone, alledaagse voorwerp kan ‘n mens se oë oopgaan vir ‘n dieper waarheid en jou lewe vir altyd omkeer. ‘n Watertenk word ‘n ikoon wat ‘n mens in die teenwoordigheid van die Ander bring.
Hierdie belangrike beeld van Louw illustreer twee kernwaarhede. Die eerste een is dat ikone nie bloot net op sigwaarde bekyk kan word nie, maar ervaar moet word vir die geestelike dinamika wat daarin broei. Tweedens brei Louw die begrip "ikoon" op ‘n deurslaggewende manier uit om te beskryf hoe ‘n mens deur konkrete eenvoud in ‘n geestelike reis ingetrek kan word.
"Ikoon" beteken dus vir Louw veel meer as net ‘n kunsobjek of ‘n godsdienstige, visuele voorwerp uit die Christelike ortodokse tradisie. Dit handel baie breër oor bepaalde lewenskyk - ‘n gesig op die dieper, groter en belangriker dinge wat ‘n mens in alles om jou sou kon raaksien. Daarom gee Louw "Imaging the Unseen" aan as subtitel aan sy werk. Hoe word die onsienlike in en deur die sienlike ver-beeld?
Vandaar dat hierdie boek ‘n magdom van illustrasies en voorbeelde het.
Dit klink abstrak en kloosteragtig. Maar in werklikheid is sy benadering ‘n teken van presies dit wat ‘n magdom van mense in ons tyd in alledaagse omgang en gejaag begeer: die behoefte om verby die oppervlak en die oppervlakkige, verby die sigbare, maar ook in die eenvoud en eenvoudige, die gewone dinge van die lewe, dieper te kan sien en beleef. Uiteindelik gaan dit om die groot vraag na lewensvervulling en –vreugde: wat is die diepere wat die lewe uitmaak en wat lewe gee? En verder: Hoe word die dag se geraas tot musiek in die ore? Hoe kan ‘n mens by ander uitvind wat ikonies is?
Louw is iemand wat wel sinvol oor ikone kan praat. Hy ken boonop die kunswêreld goed. Hy skryf egter nie maar net as geestelike met ‘n by-belangstelling in kunswaardering nie. Hy ken kunsteorie, maar skryf boonop daaroor op ‘n reflekterende, konseptuele wyse.
In die proses sprei hy sy vlerke wyd. Sy boek is ‘n ryke spel van insigte uit vele vakgebiede (bv die tegnologie, kwantum-fisika) en van vele mense (bv Plato, Thomas Aquinas, Shakespeare, Nietzsche, Hammerskjöld, Dali, Sartre, Cox, Caputo en vele ander), maar dit is veel meer as net ‘n akademiese oefening. Hy staan met albei sy voete stewig in die praktyk en soek gedurig, eg-spiritueel, na die verskil wat sy teoretiese insigte maak. Daarmee kom transformasie as ‘n kernwoord uit die spiritualiteit in sy werk tot sy reg.
Op boeiende wyse word die geestelike verbind met die gewone alledaagse tegnologiese wêreld waarin ons ons bevind: Steve Jobs, skryf hy byvoorbeeld op bladsy 5, is bekend dat hy sy rekenaars ontwerp het sodat hulle voorbeelde van skoonheid word. Die dikwels dorre, saai wêreld van masjiene en blikbreine word deur Jobs bewustelik gemaak tot ‘n ruimte waarin die estetiese ‘n hoë premie geniet. Jobs, skryf Louw, word dus ‘n voorbeeld van die krag van ver-beelding: in hom herken ‘n mens homo aestheticus – die mens as skepper van skoonheid, die mens wat dieper delf en worstel met die ideaal van skoonheid. Op die manier word ‘n rekenaar, ‘n muis en ‘n sleutelbord, daaglikse gebruiksinstrumente, ikone.
Wat Jobs doen is al eeue met ons. Louw skryf oor Japannese tuine wat heel bewustelik met bepaalde tegnieke uitgelê word. Die tegnieke word gedra deur ‘n kontemplatiewe instelling: ‘n tuin is ‘n ruimte wat ‘n mens te staan bring voor die transendente, wat méér en dieper kyk as die voorhandene, die sigbare, die alledaagse, die empiriese en die blindelingse sleurgang van die lewe. In so ‘n tuin waar die kontemplatiewe beleef word, is daar skoonheid, geluk, tevredenheid en eenvoud (6-7).
Hierdie voorbeelde gebruik Louw om te wys dat selfs en veral in die konteks van die onvolmaakte, ‘n ikoniese leefstyl nodig en moontlik is: so ‘n leefstyl volg waar ‘n mens die oneindige op ‘n skeppende manier met ‘n digterlike oog soek, raaksien en uitbeeld. Die lewe in al sy eindigheid kan verbygesteek en verbygedink word om by sin uit te kom. Ten spyte van, maar, paradoksaal, ook weens lewensverveeldheid, of danksy ‘n knaende gevoel van durende betekenisloosheid, van wanhoop, van die sluipende teenwoordigheid van die dood is daar wel plek vir ‘n ikoniese leefstyl. Louw se nugtere nadenke oor die belewing van betekenis te midde van ‘n betekenis-verduisterde wêreld, word byvoorbeeld met vier boeiende vyf aangrypende voorbeelde uitgespel en verduidelik (bll.14-15). Die meditatiewe skrywer staan op hierdie bladsye met albei voete stewig op vaste grond.
Louw kan uiteindelik om ‘n ander rede met goeie reg oor ikone skryf. Hy is immers self ook bekend as ‘n skeppende kunstenaar wat konseptualiserend skilder (sien bv sy eie skildery met die bespreking daarvan op bl11, maar die boek bevat heelwat illustrasies van sy werke). Ook hier is sy dieper dink opvallend, omdat dit steeds weer berekend ingestel is op die konkrete en omvormende. Kuns, soos blyk uit hierdie boek, verryk, omvorm en verdiep beide hulle wat kuns skep én hulle wat dit ervaar. Die transformatiewe krag van kuns het konkrete, voelbare en sigbare gevolge.
Die boek se bydrae is ten slotte ook te vind in die wyse waarop godsdiens en estetika daarin met mekaar vervleg word. Teenoor ‘n oppervlakkige en sentimentele godsdiens wat op goedkoop effek en mooi-doenerigheid ingestel is, word in die werk in gesprek getree met die groot denkers oor die geestelike impak en aard van skoonheid. Die estetiese word met sentrale lewenservaringe verbind wanneer die boek uitwys hoe die estetiese juis vanuit ‘n bewussyn van eie sterflikheid en die onvermydelikheid van die dood sterker waardeer en ervaar word. In die verbintenis van die estetiese en die aaklige, word lewensbetekenis ontdek: dit gebeur wanneer mense hul ervaring bewustelik bekyk en dan deur inbeelding omvorm en herbeleef.
Terselfdertyd wys die boek daarop hoe kreatief en nuut die proses van ver-beelding kan wees. Soms gebeur ver-beelding ten spyte van of selfs teenoor kerklike tradisies. Of nog meer aangrypend is sy radikale opmerking: in vele opsigte kan kerklike tradisies die bose versinnebeeld eerder as besweer. Wanneer ‘n mens die werklikheid op ‘n nuwe wyse ervaar en inbeeld, gebeur dit dan ondanks en ten koste van verslete godsdienstige dogmas en godsdienstige magsgrepe (15).
En selfs nog sterker is sy kritiese gesprek met die teologie: die herontdekking van die estetiese en ‘n ikoniese leefinstelling, lei tot ‘n nuwe ervaring van wie God is, anders as die verslete opvatting wat God in die verlede byvoorbeeld as magtig, wraakgierig, en straffend uitbeeld. So ‘n ikoniese visie bring hoop vir en uitbundige viering van die lewe en die skepping as goed, mooi en heilig.
Hy is duidelik ook hoogs onvergenoegd met ortodokse teoloë se ernstige beheptheid met sonde, skuld en bekering en hul obsessiewe verdediging van die regte leer. Vir hom moet die teologie, ook in die oorname en omhelsing van die estetiese, eerder fokus op viering van lewe in sy volheid en van goddelike vreugde wat daarmee verbind kan word (39).
Louw se boek bring ‘n deurslaggewende tema in die godsdienstige diskoers na vore. Te lank het die (Protestantse) teologie gevoed op ‘n honger-dieet van intellektualiteit en rasionaliteit. So ‘n erflating, gevorm deur die onbehoorlike invloed van die Verligting en die vloek van die ortodoksie, het te lank geslagte van gelowige mense verarm en godsdienstige ervaring tot niet gemaak. Uiteindelik is daar die hoop dat die estetiese wat in ons tyd oorvloediglik die openbare diskoers vorm en stuur, deur sy werk weer as sentrale tema van die (Protestantse) teologie tot sy reg kom.
‘n Lang lys van voorbeelde wys hoeveel werke en denkers hulle wel met die ikoniese karakter van die estetiese besig gehou het en hoe nodig dit is om in Protestantse godsdienstige kringe daaroor na te dink. Dink maar net byvoorbeeld aan Sheila Cussons se mistieke digkuns, geskryf oor die diepsinnge aard van die mees konkrete, alledaagse dinge, en dit boonop in Afrikaans toe min Afrikaanse teoloë geweet het wat die mistiek was. Kobus van der Riet se sonnette, gedig in aansluiting by Cussons en geïllustreer met unieke ikone, het reeds twee jaar gelede hierdie tendens nog verder ontwikkel.
Hoe sterk kom ook die ikoniese en godsdiens na vore in die tydlose werke van Velasquez, in Salvador Dali se vreemd-mistieke fase, in Kandinsky en in die geniale Chagall (met sy onvergeetlike vensters in die Protestantse katedraal in die Fraumunster in Zürich – een van my geliefde pelgrimsoorde).
Moderne Nederlandse en Duitse argitektuur het godsdiens en estetika op ‘n konkrete manier gekonseptualiseer en uitgedruk.
Die ongewone ontwerp vir die St Wuensdorf kerk in Berlyn wil die gebou met die omgewing laat saamsmelt en veral ‘n gebedsatmosfeer skep. Dit is argitektuur wat op ‘n ingrypende manier met die estetiese omgaan (sien verder hierdie artikel).
Hierdie opwindende boek bied aan ons ten einde laaste nou ‘n Suid-Afrikaanse bydrae tot die deurslaggewende rol wat die estetiese kan speel in geloofsvorming, teologie en godsdiens. Die hemel weet, tydiger kon hierdie werk nie op die toneel verskyn het nie. Daar is veel om in te haal en nog veel meer om te leer.