Boekresensie: Hitler, Verwoerd, Mandela and me deur Marianne Thamm

  • 0

9780624075202-marianne-front-coverHitler, Verwoerd, Mandela and me
Marianne Thamm

Uitgewer: NB-uitgewers
ISBN: 9780624075202

Mag ’n mens Marianne Thamm se boek ’n huldeblyk noem?

Twee mense – uiterstes en wie en wat hulle was, voor en na hulle mekaar ontmoet het – het tog vanselfsprekend ’n groot invloed gehad op hoe Thamm se lewe sou verloop. Die dogter wat Georg en Barbara later sou hê. Dit wat haar ouers – selfs nog voor hulle  mekaar ontmoet het – gevorm het, sou noodwendig ’n invloed op Thamm hê.

Tog interessant dat Thamm, joernalis en adjunkredakteur van The Daily Maverick, noem dat sy skryf moeilik vind – sy verwys spesifiek na die leë dokument op haar rekenaarskerm.

Dan weer vermoed ’n mens sy vermag juis dít met Hitler, Verwoerd, Mandela and meA memoir of sorts: om die moeilike maklik te laat lyk.

Hier is ’n (ware) storie wat vloei. Die karakters en verhaallyne is volop.

Skryf, dié skryf sy. Sy het ’n woordkeuse aan haar wat die (reeds sterk) storie besonder goed aanvul. 

Gewis, sy hét die lisensie om ’n biografie “soort van” te skryf.

En 303 bladsye later het sy my so geraak dat ek na dieselfde leë, wit papier voor my staar. Want hoe verwoord ’n mens ’n oorvertelling van ’n goeie boek, so goed vertel soos hare?

Thamm se ouers, Georg en Barbara, was, soos reeds gemeld, uiterstes in vele opsigte: hy Duits en sy Portugees. Die egpaar wat hulself en hul twee kinders, Albert en Marianne, in Suid-Afrika kom vestig het, in Pretoria, met Afrikaanse kinders volop.

En net soos wat hulle verskil het van die gemeenskap waarin hulle beland het, net so was die gesinslede teenpole.

’n Pa wat in Hitler se kamp geveg het, ’n ma ongeletterd, wat later nog haar stem ook sou verloor het weens ’n beroerte en ’n rolstoel. Die pa wat na die ma omsien. Thamm wat later ook dan na haar pa omsien.

Sy en haar pa het oor baie goed nie saamgestem nie, onder andere sy idee van ’n vrou se rol en plek. En hoekom wil sy dan nou gaan studeer?

Dan was daar ook haar homoseksualiteit, wat sekerlik nie haar pa se idee van sy dogter sou gewees het nie.

Maar haar pa was ook eintlik onvoorspelbaar, as ’n mens die verloop van hierdie storie volg. Die band wat  tussen hom en sy dogter se twee swart aangenome dogters ontstaan het, is een voorbeeld hiervan.

Die eerste twee hoofstukke in die boek gaan juis oor die einde van twee groot hoofstukke in haar lewe: eers haar ma se dood en toe haar pa s’n.

So ongewoon geskryf en baie beeldryk.

Dit is ’n storie wat net sowel ’n roman kon gewees het.

Natuurlik is sy nie die enigste persoon met ouers van verskillende nasionaliteite nie, maar tog is daar baie goed eie aan haar familiegeskiedenis. Ook hoe die geskiedenis betrekking op dié een gesin gehad het.

Die Belgiese skrywer Tom Lanoye, ’n goeie vriend van haar, wou juis jare gelede al haar storie vertel.  

Behalwe haar gesin, kan ’n mens dit byna beskryf as die verhaal van ’n land en die 20ste eeu (die eeu waarvan sy niks gehou het nie, maar tog haar ontdekking van Bob Marley deur sy musiek en die rook van dagga) netjies verweef in die storie van vier mense: Marianne en haar broer en hul ouers.

Kultuurskokke, gelowe – noem maar op. Daar was baie interaksies in haar lewe.

Vele mense maak byna soos kameekarakters verskynings in haar verhaal, maar dit stuur die storie na ’n volgende wending.

Sy noem byvoorbeeld dat sy ’n ateïs as gevolg van godsdiens is.  

Verwoerd was staatsleier in die 1960’s toe Thamm kind was.   

Daar is baie onthullings – noem dit verrassende wendings – in die boek wat ’n mens eintlik nie wil verklap nie.

Soveel humor word in die verhale ontgin. Net so is daar ook die werklik hartseer tye wat belig word. Daar is lieflike anekdotes oor haar ma, soos haar gekibbel om die prys van Thamm se matriekafskeidrok. 

’n Mens kry die indruk Thamm maak vrede met baie hoofstukke in haar lewe.

Daar is baie geskiedskrywing en dit het noodwendig betrekking op haar en haar ouers en haar broer. By tye voel dit soos die lees van die ’n historiese roman. Daar is so baie van die geskiedenis – maatskaplik en polities – wat ter sprake kom.

Sy vertel van die dag toe die aankondiging gemaak is dat Nelson Mandela vrygelaat sou word – 2 Februarie 1990. Sy was nie te ver van die parlement nie, in die Goue Akker, waar sy ’n rolprentvertoning moes bywoon waaroor sy ’n resensie moes skryf. Dinge het glo so anders gelyk en gevoel toe sy die strate invaar na die rolprentvertoning.

Daar is hoeveel soortgelyke vertellings en dit laat ’n mens anders na dinge kyk.

Deur die boek loop die draad van haar lewenspad, ook die ontmoeting met haar lewensmaat en hul twee dogters wat hulle aangeneem het.

Sy is eerlik en reguit en tog kom groot dele van die boek met egte deernis.

Sy voltooi oplaas 'n volledige sirkel en ’n mens wil glo sy vind klaarheid en vergifnis.

Hier word nie gepreek of lesse gegee nie; maar nadenke, dié sal jy vind.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top