Boekresensie: Grave Murder deur Jana van der Merwe

  • 1

gravemurder250Grave Murder
Jana van der Merwe
Zebra Press
ISBN: 9781770227767

In 2011 is die stil en vreedsame gemeenskap van Welkom in die Vrystaat tot in sy fondasies geruk deur wat kenners beskryf as een van die grusaamste moorde in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Die oorskot van die 23-jarige Michael van Eck is een oggend deur werkers by die Welkom-bergafplaas in ’n vlak graf gevind. Sy kop, sowel as sy een arm was nie in die graf nie. Die polisie op Welkom se hare het gerys toe hulle ondersoek instel en op die donker en vreesaanjaende motiewe van die moordenaars en die wyse waarop Van Eck vermoor is, afkom.

In Jana van der Merwe, gesoute misdaadjoernalis van Rapport en Beeld, se eerste boek, Grave murder, ontleed en bespreek sy hierdie moord. Sy skryf met presiesheid oor die ontdekking van Van Eck se lyk sowel as die haarfyn beplanning van die moordenaars.

Chané van Heerden was ’n stil, ingetrokke jong meisie, skryf van der Merwe. Vir haar ouers was sy nog altyd stil. Vriendelik teenoor hulle. Min het hulle geweet dat sy idees koester om diere en mense te slag. Sy en haar verloofde, Maartens van der Merwe, was ’n bloedige kombinasie in hulle drang om te moor en te skend. Sy wou slag en hy wou moor, skryf Van der Merwe. Saam het hulle rituele wat grens aan heksery en satanisme beoefen.

Van der Merwe se joernalistieke vaardighede en kleurvolle skryfvaardighede gee aan die boek ’n boeiende element wat jou in die middel van die moordtoneel en die hofkamer plaas. Al wat neul is die feit dat sy nie op die toneel was op die oggend toe die lyk ontdek is nie. Dit wil lyk of sy gebeure laat grens aan fiksie, aangesien sy heel moontlik haar inligting van die dag op hoorsê gekry het.

Afgesien daarvan kry sy dit reg om die aanloop tot die moord sowel as die hofgebeure na die tyd goed in chronologiese volgorde te rangskik. Dit maak dit maklik leesbaar en verstaanbaar vir die algemene leser.

Die boek delf ook in die psige van beide Maartens en Chané en gee ’n goeie terugblik op hulle lewens om die motief sowel as die moordenaars te probeer verstaan.

Van der Merwe kry dit reg om die vermoorde Van Eck se lewe in perspektief te stel. Hoewel die familie glo nie gelukkig is met haar boek nie, kan dit ook as ’n huldeblyk aan sy kort maar tog ryk lewe gesien word. “Michael was the proverbial golden boy. As the only son in a family of four sisters, his life had been sheltered but free. He lived for his family – Michael was unquestionably the heart of the Van Eck home.”

Tydens die hofverrigtinge het Van Eck se ma, Henriëtte, ’n brief hardop gelees wat sy pa, Naas, aan Michael geskryf het. Volgens Van der Merwe was dit asof Michael uit die graf opgestaan het en self in die hof getuig het. “You thought that you would get away with murder, but those who cared about me and loved me searched for me and found me. My father knew me so well that, even though he was shocked by what he saw, he could still tell by my back and two severed legs that it was me.”

Die boek is bloedig en gevul met grusame besonderhede oor die slagting van Van Eck en dus nie vir sensitiewe lesers nie. Grave murder is op dieselfde trant as Hanlie Retief se Byleveld: Dossier van ’n baasspeurder geskryf. Indien jy ’n groot aanhanger van misdaad-niefiksie is, sal hierdie boek jou boei en terselfdertyd hoendervleis gee.

  • 1

Kommentaar

  • Waar kan ek hierdie boek bekom?
    Ek het al die winkels in Bloemfontein gevra, maar almal sê boek is uit druk uit. Sal bitter graag die boek wil lees.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top