Boekresensie: Fragmente uit die Odusseia van Homeros, vertaal deur Cas Vos

  • 4

Fragmente uit die Odusseia van Homeros
Vertaal deur Cas Vos
Cordis Trust
ISBN: 9781485306054

Wanneer literatore ʼn kanon van Westerse literêre werke probeer saamstel, is daar altyd verskil van mening oor wat moet inkom en wat uitgelaat moet word. Maar oor twee werke is daar selde of nooit 'n verskil van mening nie – die Ilias  en die Odusseia, die twee grootse eposse wat aan die Griekse digter Homeros toegeskryf word, moet in wees.

Gelukkig het ons in Afrikaans twee vertalings van albei werke: ʼn brongetroue vertaling deur JPJ van Rensburg (1963) en ʼn vryer vertaling van fragmente uit die Ilias en die Odusseia deur Cas Vos. Laasgenoemde het onlangs verskyn.

Vos skryf ʼn uitvoerige en insiggewende inleiding in sy Fragmente uit die Odusseia  van Homeros waarin hy onder andere uitbrei oor sentrale temas in die Odusseia: eensaamheid, wanhoop, liefde, verraad, wraak en vernedering. Hy wys daarop dat ʼn stemming van heimwee onderliggend aan al die gebeure is, en toon dat gasvryheid en eerbaarheid kernwaardes in die epos is. Die reis van Odusseus, verklaar hy, is ʼn verhaal waarmee die moderne leser hom volledig kan vereenselwig: "Die reis met al sy bedreigings en gevare, ontnugtering en teenspoed, en die heimwee van Odusseus skuil ook in die hart van die hedendaagse mens" (p 12).

Die skrywer bespreek ook in die inleiding die enorme invloed wat Homeros se Odusseia op latere skrywers uitgeoefen het. Een so ʼn skrywer is James Joyce, wie se Ulysses deur baie gereken word as die invloedrykste literêre werk van die 20ste eeu. In hierdie roman word die verhaal van die Odusseia getransponeer na die hedendaagse Dublin, en die gebeure word gekonsentreer tot ʼn enkele dag.

Ook op die poësie het Homeros se epos sy neerslag gelaat. Vos haal enkele Afrikaanse gedigte oor Odusseus aan: "Ithaka" van Breyten Breytenbach,  "Odysseus ruik moer" van DJ Opperman en "Skottelgoed (sikloop)" van Adam Small. Verder word twee pragtige gedigte oor Odusseus mooi deur Vos vertaal: Konstantinos Kavafis se Griekse gedig "Itháké" en Alfred Tennyson se "Ulysses".

Ten slotte besin Cas Vos oor die probleme van die vertaler en motiveer hy die keuses wat hy gemaak het. Hy het die 24 boeke waarin die epos oorspronklik verdeel is, behou, maar elk van die boeke taamlik drasties verkort. Hy wou naamlik die spanningslyn versterk deur die weglating van dele wat volgens hom te omslagtig is en onnodige herhalings bevat. Omdat dit so moeilik is om die Homeriese versmaat in Afrikaans oor te sit, het hy besluit om die Afrikaanse vertaling in prosa weer te gee. Sy ideaal word as volg gestel: "Afrikaans is ʼn vasmeerplek waar die Griekse skip met sy Odusseia  aan boord 'n tuiste op Afrikaanse bodem vind" (p 46).

Tereg haal die vertaler die bekende spreuk aan: "traduttore, traditore" (vertaler, verraaier). Want dit is onmoontlik om in 'n vertaling die oorspronklike teks presies weer te gee, en elke keuse wat ʼn vertaler maak, mag wel winste oplewer, maar gaan onvermydelik met verliese gepaard. Dit is ook die geval met die keuses wat Vos gemaak het. Ek het sy vertaling van fragmente uit die Odusseia  met die volledige, brongetroue vertaling van JPJ van Rensburg vergelyk om die winste en verliese van die twee teenoorgestelde benaderings te probeer peil. Elkeen het sy voor- en nadele, maar Van Rensburg se vertaling kom myns insiens die beste af in hierdie vergelyking.

Cas Vos se vertaling is moontlik meer leesbaar as Van Rensburg s'n, maar sy vrye omgang met die bronteks bring besliste verliese mee. Hy strewe daarna om die vertaling in ʼn toeganklike Afrikaans weer te gee, maar om tegelyk die verhewe Griekse sfeer te behou. Dit lei myns insiens soms tot stylbreuke. Aan die een kant kry ons die herhaalde verwysing na die "vroeggebore roosvinger Daeraad", byvoorbeeld op p 78, wat ʼn verhewe sfeer weergee, maar kort daarna lees ons van die "lae luise" (p 78). Dieselfde ongelyke register vind ons ook op p 114, waar die "gouetroon Daeraad" opdaag, maar waar daar "laat waai" word met die wyn.  Soms voeg die vertaler ʼn eie beeld by, wat nie altyd oorspronklik of geslaag is nie – byvoorbeeld "die son sak soos ʼn vuurbal" (p 89) en "my vaderland wag soos amandels in bloei" (p 91).

Om die ontwikkeling van die verhaal te versnel, word ʼn hele aantal gedeeltes verkort of uitgelaat; dit lewer sekere winste op, maar soms is daar ook ʼn verlies aan dramatiese krag. Die gevaarlike Skilla word so weergegee in Vos se vertaling:

"Skilla, ʼn ongetemde monster wat vuur spoeg, bly halflyf in die spelonk, maar sy hou haar koppe bo die afgrond om visse, dolfyne en sandhaaie te vang. Met elke kop het sy een van my manne uit die boegskip gepluk terwyl hulle skreeuend in wanhoop na my getas het. Dan het sy hulle spartelend nader aan die roste getrek waar sy hulle gulsig afgewurg het" (p 121).

Van Rensburg se vertaling beskryf Skilla so:

"Kyk, sy het mos altesaam twaalf swewende pote, en ses baie lang nekke, en op elkeen ʼn vreeswekkende kop, en drie rye tande, stewig en dig op mekaar, vol van die swart dood. Sy bly halflyf weggesak in die hol spelonk, maar hou haar koppe bo die vreeslike afgrond uit. En dáár rondom die rots loer sy en vang sy haar vis, dolfyne en sandhaaie en enige groter dierasie wat sy dalk kan vang van die tienduisende waarmee die luid kreunende Amphitrite boer. En nog nooit kon seemanne daarop roem dat hulle onbeskadig met ʼn skip by haar verbygevlug het nie: met elke kop gryp sy ʼn man uit die donkerblou boegskip en dra hom weg" (Odusseia 12, 90-100).

Van Rensburg se Skilla is darem vir my baie meer reëel, baie skrikwekkender as dié van Vos.

'n Veel groter probleem met die vertaling van Vos is dat verkorting van die bronteks dikwels lei tot onduidelikhede en onjuisthede. Ek gee 'n paar voorbeelde hiervan.

Na sy terugkeer in Ithaka is Odusseus gewikkel in ʼn werpskyf-kompetisie met die minnaars van Penelope (p 97):

"Odusseus gryp toe ʼn werpskyf en laat dit tol. Manne van aansien koes verwilderd. Odusseus skep moed en daag jongmanne uit. 'Kies,' sê Odusseus, 'ʼn vuisgeveg, stoei of ʼn wedloop.'"

Enigeen behalwe Laodomas. Hy is die gasheer en "uiters bedrewe met die pyl en boog."

Hier is twee foute. In die eerste plek word die heel belangrike punt uitgelaat dat Odusseus se werpskyf verder as al die ander deelnemers sʼn trek, tot daar waar die mense van aansien staan, in hul gewaande veiligheid. Hy is dus die beste werpskyfgooier van almal. Tweedens is die deel wat begin met "Enigeen behalwe Laodamas" deel van die dialoog van Odusseus en nie die begin van ʼn nuwe paragraaf nie.

'n Spannende moment in die epos kom voor wanneer Odusseus se skip die sirenes nader. Ons lees op p 120:  "Die skip het lig gevaar, so ver as wat ʼn roep getrek het." Maar volgens Van Rensburg se vertaling is die skip net so ver as wat ʼn skreeu kan trek, van die sirenes af – dus is die gevaar nou groot. Van Rensburg se vertaling maak sin, Vos s'n nie.

Op p 146 gee Penelope ʼn opdrag aan Odusseus se varkoppasser Eumaios. In die volgende paragraaf is ʼn nuwe persoon aan die woord, maar die leser word nie ingelig dat dit Odusseus is wat nou praat nie, wat belangrik is vir die begryp van die toneel.

‘n Laaste voorbeeld. Odusseus is besig om finaal met Penelope se minnaars af te reken. Dan lees ons (p 160):

"Eurumachos is weer aan die woord. 'Laat ons maar veg. Tot die bitter einde!' Swaard in die hand storm hy skreeuend vorentoe. Terselfdertyd skiet Odusseus ʼn pyl na hom. Dodelik en dodend. Ook Amphinomos vreet grond."

Dit is baie verwarrend vir die leser – Odusseus skiet ʼn pyl na Eurumachos, en dan "vreet" Amphinomos "grond", byna asof Odusseus se pyl hom ook getref het. Wat gebeur het, volgens Van Rensburg se vertaling, is dat Odusseus se pyl Eurumachos gedood het, en dat Odusseus se seun Telemachos vir Amphinomos met die swaard deurboor het toe hy op Odusseus afstorm. Vos se vertaling is hier net te kripties.

Verder is daar enkele taal- of drukfoute in die vertaling. Ek het die volgende aangestip: "afpeil" ipv "afpyl" (71); "skrikgodinne" ipv "skikgodinne" (92); "vroegebore" ipv "vroeggebore" (103).

Samevattend: Die inleiding tot Casper Vos se vertaling is insiggewend, maar die vertaling self sou baie baat gevind het by ʼn groter noukeurigheid en ʼn groter respek vir die bronteks.

  • 4

Kommentaar

  • Chris, uitstekende resensie wat getuig van 'n noukeurige lees van die teks. So 'n teks moet 'n mens in sy volle meesterskap aanpak, anders doen jy jouself as leser in. Die van Rensburg vertaling kan gerus oorweeg word vir heruitgawe.

  • Louis Pienaar

    Chris van der Merwe se resensie verdien aandag. Sowel positief as negatief. Hy het baie moeite met sy resensie gedoen, veral oor die navorsing wat die vertaling voorafgaan. Sy vergelyking tussen Vos en Van Rensburg se vertalings is egter eensydig. Geen wins van Vos se vertaling word aangedui nie. Vos het duidelik oor Van Rensburg se vertaling geskryf. Naas waardering is sy kritiek dat die vertaling te letterlik is. Die partikels “mos, toe, dan, tog” is hinderlik. Hy moes dalk p.40-41 noukeuriger gelees het.
    Volgens my het Vos Van der Merwe se “skikgodinne” met “skrikgodinne” vervang. Dis mi ’n vonds en nie ’n misduiding, soos Van der Merwe, reken nie. Van der Merwe moes die Grieks in Hoofstuk VII, reël 197 noukeurig gelees het. Die Griekse Klothes hou verband met weefsters van die noodlot. En die noodlot is iets om voor te skrik! ’n Fyn aanvoeling van die vertaler.
    Nog ’n winspunt. Van der Merwe moes net die eerste tien reëls van hoofstuk 1 gelees het waar die vertalings van Van Rensburg en Vos langs mekaar geplaas word.
    Van der Merwe maak beswaar teen Vos se gebruik van “die rooivinger Daeraad.” Net soos “”die grysoog Athena” en ander digterlike seggings nie vermy mag word nie, geld dit ook hier. Digterlike taal kan en mag sekerlik in prosatekste gebruik word.
    In sy rekenskap verwys Vos ook na ’n voorbeeld van Homeros se lomp en uitgerekte taal. Het Van der Merwe nie Boek ll, reël 115-122 raakgesien nie?
    ’n Nederlandse klassikus reageer soos volg op Vos se vertaling: “Die inleidende gedeelte bied heelwat informasie waarin die invloed van die Odusseia op talle kunswerke afgedruk is. Benewens James Joyce, Sándor Márai, Frededico Garcia Lorca, Konstantinosn Kavafis, Giorgos Seferis, Alfred Tennyson het Homeros sy stempel ook op talle Afrikaanse digters soos byvoorbeeld NP van Wyk Louw, Sheila Cussons, DJ Opperman, Breyten Breytenbach, Petra Müller, Dolf van Niekerk, Marius Crous en Adam Small afgedruk.
    Cas Vos maak in sy vertaling van Fragmente uit die Odusseia keuses om die verhaalgang te laat vloei. In die vertaling sing die vertaling ’n eie lied met die Griekse teks wat oral eggo – oor die wynrooi see, berge, dale, grotte en diep slote. Afrikaans as ontvangtaal het sy eie musikaliteit, bekoring, verbeeldingsvlugte en metaforiese plofkrag.
    Saam met Odusseia word die leser uitgenooi om die reis opwindende en gevaarlike reis na Itaka mee te maak. Liefde, verlange, verraad, haat en ontrou kom aan die lig.
    Die teks vloei heerlik soos die golwe van die grys see waaroor Odusseus se swart skip vaar! Die taal is Afrikaans in vlees en bloed, hoewel dit geskryf is in 'n register wat selde in Afrikaans gehoor word. Hierdie vertaling is 'n skat vir Afrikaans en ’n bewys dat die taal nimmer sal sterf terwyl dit nog so geskryf kan word nie.”

  • Ek kan nie anders nie. Ek moet reageer op Chris van der Merwe se resensie van my vertaling van die Odusseia. Ek doen dit nie soos Paul Auster aan JM Coetzee in hulle briefwisseling skryf nie. Al het ek simpatie met en begrip vir Auster se siening van sommige resensente. Ek reageer in die gees van NP van Wyk Louw se pleit vir die oop gesprek.
    My waardering vir ’n knap inleiding. Ook dat van der Merwe my vertaling van die Griekse gedig (Kavafis) en die Engelse gedig “mooi” noem.
    Die resensent stel ’n balansstaat van winste en verliese op. Terloops, ek het in my inleiding duidelik oor die winste en verliese van JPJ van Rensburg se letterlike vertaling geskryf. Ek het groot respek vir sy vertaling. Sy vertaling is egter veral vir opvoedkundige doeleindes gedoen. Die resensent se oogmerk is duidelik: hy wil my vertaling in ’n swak lig stel. Hy sien geen winste raak nie. Daar het die afgelope tyd vier uitstekende resensies van my vertaling verskyn. In al die gevalle word die vondste en winste van my vertaling duidelik uitgelig.
    Die resensent wys op stylbreuke. Dit kom keer op keer in die Homeriese Grieks voor. Poësie en prosa is nie vyande nie. Dit het ek opnuut weer by Homeros geleer. Net een voorbeeld: “Die son duik weg en die paaie word donker.” Pragtig, Homeros! Daar is talle studies oor die Homeriese vergelyking gemaak. Lees my inleiding in die verband.
    Die resensent vergelyk my vertaling op p 121 met JPJ van Rensburg se letterlike vertaling Die resensent moes die drie monsters se handelinge saamgelees het. Dan kom ’n ander prentjie as wat hy voorstel, aan die lig. Daar is altyd so iets as ’n groter konteks.
    Van der Merwe skryf oor die verkorting wat lei tot onduidelikhede en onjuisthede. Ek wil sy foutiewe lees toelig. Odusseus word geprys as “die baas van die roeibanke.” My vertaling lui: “manne van aansien koes verwilderd.” Die “manne van aansien” het meervoudige betekenismoontlikhede. Ek laat dit, gegewe die konteks, aan die leser oor. Ek stel Laodamus doelbewus in ’n nuwe paragraaf voor. My oogmerk is om hom as persoon uit te lig. Ek onthou steeds: vertaling is ook verraad. Daar is ’n hinderlike “mos” in Van Rensburg se vertaling (Boek 8, reël 160). Rodney Merrill se vertaling is hier veel beter as Van Rensburg s’n. Ek vra die leser om asb. my vertaling op p 97 waar Alkinoös aan die woord is te lees.
    Die resensent se onjuistheid wat hy op p 120 aandui, moet assebleif in konteks gelees word. Die leser moet die hele bladsy, en nie eklekties nie, lees. Alles word dan daglig.
    Dis is glashelder wie op p 146 aan die woord is. Die woord “vodde” is ’n belangrike kode. Dit maak duidelik dat dit Odusseus is.Die hele hoofstuk moet gelees word om te verstaan wat.hier gebeur.
    Daar is nie ’n onjuistheid op p 160 nie. Wie die geheel lees, sien duidelik dat Odusseus en Telemachos sy aan sy veg. Odusseus se pyl skiet Euromachos dood. Dan die volg die sin: “Ook Amphinomos vreet grond.” Die “ook” verklaar dat Amphinomos sneuwel. Die subjek word doelbewus verswyg. Dit kan Odusseus of Telemachos wees. Wat wel duidelik is, is dat pa en seun saamveg en die twee verslaan. Dis waarom die gedeelte handel.
    Die resensent wys op taal- of drukfoute. “afpyl” ipv “afpeil.” “Afpeil” kom nie op p 71, soos die resensent beweer, voor nie, maar wel op p 161. Ek het doelbewus “afpyl” gekies omdat ek die beeld van voëls wat soos ’n pyl trek in gedagte gehad het. Ek sal dit weer doen. Die leser kan gerus my vertaling op p 71 lees.
    ”Skrikgodinne” ipv “skikgodinne” op p 92. Hier gee JPJ van Rensburg se vertaling nie die deurslag nie, maar die Griekse teks. Die woord wat gebruik word is Κλωθες. Die woord se betekenis kan in enige goeie Griekse woordeboek nageslaan word. Al moet ek dit self sê: skrikgodinne is nogal ’n wins.
    U is reg. Dis vroeggebore. ’n Paar reëls boontoe staan die korrekte “vroeggebore.” Dis nie die redigeerder se skuld nie. Mea culpa.
    Ek het my vertaling aan twee klassici gestuur. Hier is een van hulle se veelseggende kommentaar:
    De afgelopen week las ik jouw Odusseia, een reisboek vol menselijke avonturen, dat deel uitmaakt van ons aller geschiedenis. Het inleidende hoofdstuk biedt heel veel informatie over dit geschrift, die je van alle kanten verzameld hebt. Ik denk dat je veel mensen met een klassieke achtergrond hiermee een groot plezier hebt gedaan en waar ook classici dankbaar uit kunnen putten. Het blijft een spannend verhaal, zeker ook om in het Afrikaans te lezen. Ik vind het heel knap zoals je in de vertaalde citaten het oorspronkelijke verhaaltrant, alhoewel verkort, van de Griekse tekst hebt weten te bewaren. Wij leerden op school het eerste stuk van de Odyssee in het Grieks uit ons hoofd. In deze cadans lees ik de tekst. Er zitten hele originele vondsten in jouw vertaling. De meest aangrijpende scéne – so voelde ik dat voelde ik dat mijn kennismaking met Homeros in klas 4 op het gymnasium (na die vreselijke Xenophon!) – blijft voor my Odusseus’ thuiskomst bij Penelope. ’Die nag van liefde loop ten einde toe die roosvinger Daeraad hulle wakker maak …’ Tranen in mijn ogen …
    Baie dankie vir die geleentheid om aan ’n oop gesprek te kon deelneem.

  • Nadat daar baie water in die see geloop het, wil ek nog 'n skepsel water byvoeg. Resensent Christiaan van der Merwe begaan 'n gruwelike fout. Eintlik is dit onvergeeflik vir 'n resensent.
    Ek moes weer vir ander doeleindes die Griekse teks van die Odusseia raadpleeg. Prof van der Merwe se groot beswaar teen my Fragmente uit die Odusseia is dat ek nie die bronteks voldoende gerespekteer het nie. Eintlik is die teendeel waar. Vir van der Merwe is J.P.J. van Rensburg se vertaling die bronteks. Nee! Die Griekse teks is die bronteks. Daaraan moet van Rensburg en my vertaling getoets word. Lees net die Griekse teks van Boek 2, 15 tot 18. en Boek 10, 46 tot 55. Van Rensburg se vertaling verskil van die Griekse teks veral ten opsigte van die versmaat, naamlik die daktiliese heksameter. Rodney Merrill se vertaling van die Griekse teks is 'n veel beter vertaling as die van Van Rensburg.
    Prof van der Merwe, as jy ooit weer 'n teks of gedig uit Grieks (of enige ander taal) resenseer, moet jy asseblief respek vir die grondteksl (bronteks) betoon. In hierdie resensie het jy klaaglik misluk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top