Die onbekende Van Gogh – die lewe van Cornelis van Gogh, van Nederland tot Suid-Afrika
Chris Schoeman
Zebra Press
ISBN: 9781770227941
Die lewe van Cor van Gogh, die jongste van die drie Van Gogh-broers, is fassinerend: nie omdat dit per se interessant is nie, maar omdat hy lid was van ‘n familie met ikoniese status in Nederland en na Suid-Afrika geëmigreer het toe goud ontdek is, op die vooraand van die Anglo-Boereoorlog. Cor self is dus ‘n “kleine man, ‘n salesman” oor wie Arthur Miller ‘n toneelstuk sou kon skryf, maar wat geen van die talente van sy twee ouer broers, Vincent en Theo, gehad het nie. Hy skryf nie juis interessante briewe nie, het nie ‘n goeie verhouding met Vincent (in wie die leser éintlik belangstel) nie, het ‘n moeilike geaardheid volgens sommige bronne, en pleeg selfmoord sonder dat die presiese motief ooit bekend sal wees (was dit weens koors, was dit geneties, het die kommandolewe sy tol begin eis?).
Die biografiese gegewens oor Cor van Gogh is karig: hy sterf in 1900, lank voordat Vincent die kunstoneel begin oorheers. Daar was dus geen rede vir sy tydgenote om moeite te maak met die behoud van relevante dokumente nie. Verder speel die laaste jaar van sy lewe af teen die agtergrond van ‘n vernietigende oorlog waartydens die bywerk van rekords van minder belang was as om net te oorleef.
Waarom dan, sou die leser kon vra, ‘n biografie skryf (want dit is wat hierdie boek van 213 bladsye is) indien daar nie regtig nuwe ontdekkings oor die onderwerp gemaak is nie?
Schoeman se antwoord is ‘n fassinerende een vir lesers wat in Suid-Afrikaanse geskiedenis en in biografiese konteks belangstel: dit wat kort in die bronne oor Cor van Gogh, kan aangevul word uit die Van Gogh-familiegeskiedenis, uit beskrywings van die verskillende pastorieë waarin die gesin gewoon het, uit besonderhede oor die industriële revolusie waaraan Cor entoesiasties deelgeneem het, omstandighede in Suid-Afrika tydens die goudstormloop en die eerste paar maande van die Anglo-Boereoorlog. Schoeman bied aan die leser die mees gedetailleerde portret tot op datum van Cor van Gogh, en vertel parallel die verhaal van die goudsoekers en later van die buitelandse vrywilligers wat aan Boerekant geveg het. ‘n Waardevolle toevoeging is die twee foto-afdelings: historiese fotomateriaal (van Zundert, Helmond, Breda, Lincoln), die nuttige swart-wit foto’s van die drie broers (daar heers verwarring op die internet oor sekere foto’s van Vincent, Theo en Cor, maar hierdie foto’s dra die stempel van die gesaghebbende Van Gogh Museum in Amsterdam), kleurfoto’s van die kerke, pastorieë, markpleine en wewershuise, maar veral ook Schoeman se eie foto’s van die Brabantse landskap wat as gevolg van die invalshoek die tipe natuur wat in die eerste briewe tussen Vincent en Cor beskryf word, illustreer. Schoeman verskaf nuttige inligting vir die Van Gogh-entoesias en -toeris deur roetes aan te dui na plekke in die Brabantse landskap wat deur Vincent geskilder of geteken is (46). Die Afrikaanse leser word getref deur die feit dat so min in Nederland verander het en dat soveel moeite gedoen word om gedenkwaardige plekke vir die nageslag te bewaar.
Die seleksie van swart-wit foto’s vir die Suid-Afrikaanse periode is goed gekies om by die periodes van Cor se lewe waaroor daar wel inligting is, te pas: sommige is histories boeiend (soos Johannesburg rondom 1890, kaalvoet swart trekarbeiders op pad na die goudmyne, ‘n 46-tonner-lokomotief op Pretoria-stasie, Markstraat in Pretoria in 1890, ‘n groepfoto van Hollanders op kommando, Brandfort se sanderige hoofstraat in 1900, die jaar van Cor se dood); ander vestig die aandag op die eenvoudige lewensomstandighede wat Cor in Suid-Afrika aangetref het (soos die foto van ‘n poskantoor in vroeë Johannesburg, ‘n eenvoudige sinkgebou waarby klante egter nie ingegaan het nie – pos is sommer deur die venster aangegee). Probleme met die poskantoor was daar tóé reeds: die boekies en foto’s wat Cor se moeder gestuur het, ontvang hy nie (82).
Die biografie bevat egter ook inligting wat nie voorheen in publikasies gebruik is nie, soos Schoeman se onderhoud met Duncan MacGregor, die kleinseun van die suster van Anna Fuchs, Cor se kortstondige bruid, in Oos-Sussex in Engeland. Ander onderhoude, soos dié met mev Nora Wilson, Anna se niggie, is insgelyks boeiend. Schoeman se inligting oor Anna Fuchs is in baie gevalle nuut, in elk geval in hierdie konteks. Hoewel Anna blykbaar baie mooi was en vlot Nederlands kon praat, was sy ‘n streng praktiserende Katoliek, opvlieënd en veel later ‘n geheime aanhanger van Adolf Hitler (127). Die redes waarom die paartjie na net agt maande uitmekaar is, sal ons nooit weet nie. Schoeman lys alle moontlikhede (hul geaardhede; die feit dat sy nie swanger kon word nie; hul geloofsverskille; hul onderskeie familieskandes, soos Vincent se selfmoord en die tronkstraf van Anna se vader) – almal kon tot die mislukte huwelik bygedra het.
Daar het min briewe van Cor behoue gebly; hy het ook min geskryf, anders as Vincent en Theo (Vincent se korrespondensie bestaan uit 819 briewe, waarvan 651 aan Theo gestuur is; geen korrespondensie tussen Vincent en Cor het behoue gebly nie (xvi)). Cor het in elk geval baie beter met Theo oor die weg gekom as met Vincent, soos blyk uit ‘n bekende reël uit ‘n brief aan Theo: “jij bent eigentlijk mijn eenige broer” (xvi). Schoeman gebruik dus briewe van ander familielede, vriende en tydgenote wat oor soortgelyke onderwerpe skryf, en veral briewe van Vincent aan Theo en sy moeder waarin hy verneem hoe dit met Cor gaan (xvi). Dit is vir my ‘n pluspunt dat Schoeman die Hollandse aanhalings nie vertaal het nie; dit is grotendeels verstaanbaar vir die tipe leser wat geïnteresseerd is in hierdie soort publikasie, verleen ‘n groter outentisiteit aan die teks en plaas die leser in ‘n soortgelyke situasie as dié van Cor wat, soos die ander Nederlanders wat in die Transvaal werksaam was, dikwels nie Afrikaans goed kon verstaan nie; die leser moet ‘n bietjie meer moeite doen, maar word beloon deur ‘n reis in tyd en ruimte. ʼn Mens sou wel die vraag kon stel oor eenvormigheid wat betref die taal van die briewe: Vincent en Theo het soms vir mekaar in Frans geskryf. Schoeman vertaal hierdie aanhalings vermoedelik self uit Frans. Die Franse briewe word duidelik so aangedui in die nuttige stel notas agterin die boek wat elke hoofstuk vergesel, maar dit sal gepas wees in ‘n brongebaseerde teks soos hierdie een indien Schoeman by die eerste vertaling (slegs aangedui as “[vertaal uit Frans]” op bl 15) en elders die naam van die vertaler kon aandui. Die korrespondensie is dus in Afrikaans (brontaal Frans) of in Nederlands (briewe onvertaald). Die biografie is ook voorsien van ‘n nuttige alfabetiese indeks.
Natuurlik lees ‘n mens nie net agter die feite aan nie – daar is ook styloorwegings. Ook hier stel Schoeman nie teleur nie; die volgende beskrywing herinner byvoorbeeld aan Rupert Brooke se The soldier (“If I should die, think only this of me: That there’s some corner of a foreign field that is for ever England”):
Dit is die dorpe wat die grense van Cor se leefwêreld gedurende sy jeugjare gevorm het. Hier kon hy hom in die omliggende landskap uitleef: ‘n groen, plat gebied wat deur baie strome en damme gevoed word en waar heide, dennebome, hoë berkebome en treurwilgers welig groei. Dit is in hierdie velde en woude waar sy wortels lê, waar hy gereeld rondgedwaal het. Ja, hy was ‘n Brabanter in murg en been. Maar hy sou uiteindelik duisende kilometers hiervandaan, op ‘n verre kontinent, sy laaste rusplek vind. (1)
Dit is ‘n verhaal wat die leser diep laat nadink oor identiteit, emigrasie en die sin van ‘n lewe, want van Cor se drome van ‘n nuwe lewe het daar uiteindelik niks oorgebly nie. Die Suid-Afrikaanse mynbedryf is gou deur groot maatskappye gemonopoliseer; sy werk by die NZASM (Nederlandsche-Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij) het uiteindelik net die Britte bevoordeel (met die anneksasie van Pretoria was daar geen opdrag om die werkswinkels te vernietig nie en het alle spoorwegmateriaal in Engelse hande beland); hy sterf uiteindelik op die jeugdige ouderdom van 31 in ‘n oorlog wat nie syne was nie. In hierdie opsig is die verhaal van hierdie “kleine man” vir my selfs meer tragies as dié van ‘n edelman soos Villebois-Mareuil: uit die beskrywings van die Brabantse landskap straal ‘n sereniteit en ‘n eenwording met die natuur wat die seuns (want dit is eintlik oor Vincent, Theo en Cor dat dit hier gaan, eerder as oor al ses die Van Gogh-kinders) nooit weer sou ondervind nie.
Indien hulle nooit Nederland verlaat het nie, sou die wêreld egter ook nooit van hulle geweet het nie. Hier is ‘n beskrywing deur Vincent aan Theo van ‘n wandeling in die Brabantse landskap saam met sy vader, ver verwyderd van Koringveld met kraaie: “Zie er zijn sommige oogenblikken in het leven dat alles, ook binnen in ons, vrede en stemming is en het gansche leven ons voorkomt als een weg door de hei te zijn, maar dat is niet altijd zoo” (12–3).
Schoeman doen moeite om die ouers van die ses Van Gogh-kinders in die gees van die leser te laat herleef. Die vader des huises, Theodorus, was blykbaar nie ‘n goeie prediker nie (maar buitengewoon aantreklik en bekend as die “mooi dominee” (4)), maar wel ‘n milde skenker aan die armes; dieselfde fanatieke pligsbesef sou later Vincent se prediker-periode kenmerk. Ten spyte van hul liefde en waardering vir hul predikant-vader (Cor het byvoorbeeld sy vader op plaasbesoeke vergesel (24)), het nie een van die drie seuns hul toevlug tot geloof geneem in tye van wanhoop nie. Wat interessant is vir ‘n Afrikaanse leser, is dat Theodorus se Protestantse gemeentes in oorwegend Katolieke gebiede naby die Belgiese grens was. Sy vrou, Anna, word beskryf as “dominerend, met ‘n opvlieënde humeur wat soms aan histerie gegrens het” (4), ‘n humeur wat Cor blykbaar geërf het en wat miskien gelei het tot sy egskeiding na slegs agt maande van getroude lewe. Benewens Theo, het Cor gedurende die laaste jare van sy kort lewe net met Williemien gekorrespondeer. As gevolg van sielkundige probleme is sy twee jaar na Cor se dood in ‘n psigiatriese inrigting opgeneem, waar sy geweier het om te eet en tot 1941 kunsmatig gevoed is (8). Hierdie besonderhede is noodsaaklik om die interaksie tussen die Van Gogh-kinders te verstaan en ‘n indruk van hul sielkundige profiel te kry, wat van hulle hoogs sensitiewe, kreatiewe, maar ook fragiele mense gemaak het.
Die meeste lesers ken Theo as die korrespondent van sy broer Vincent en as die persoon wat hom finansieel onderhou het en probeer het om sy kuns te verkoop. Die standvastige Theo het egter ook geld aan sy ouers gestuur wat gebruik is vir die opvoeding van die jonger kinders (24). Cor kon selfs klavierles geneem het (25). Dit het egter groot opofferings geverg, en elke sent is omgedraai. Die ironie is dat die hardwerkende, maar byna armlastige gesin gered sou word deur die een lid, Vincent, wat eintlik as ‘n skandemaker beskou is. Uit sekere bronne (sien bl 40) is dit duidelik dat die gesin probeer het om deur middel van sosiale konneksies uit hul armoede te ontsnap. Vincent hoop ook in die eerste plek om geld te maak uit sy kuns.
Cor was ‘n hardwerkende, suksesvolle leerling; indien hy nie verder studeer het nie, is dit omdat die geld ontbreek het. Hy volg dus in die eerste plek ‘n ambagsrigting as gevolg van finansiële oorwegings. Ook hiervoor het Theo hand in die sak gesteek. Beide Theo en Vincent het bewondering gehad vir hul jongste broer, wat besonder “mannelijk” (43) daar uitgesien het.
Ek herinner my ‘n gesprek met die fotograaf Paul Alberts in 2004 waartydens hy vertel het hoedat televisiespanne buite sy huis, die gerestoureerde Brandfort-hotel, uitgekamp het toe die gerug die ronde doen dat Cor van Gogh daar oorlede is en dat die kunswerke wat Vincent hom as trougeskenk gestuur het, waarskynlik iewers in die huis was. Die verhaal van die verlore Van Gogh-skilderye is, soos dié van die Krugerponde, deel van Suid-Afrika se kleurvolle geskiedenis.
Dat Cor wel kunswerke van sy broer besit het, is ongetwyfeld waar. Reeds op sy tiende verjaarsdag ontvang hy sy eerste litografie. Hy sou later die mure van sy kamer in Suid-Afrika daarmee versier (27). Theo gee ook vir hom foto’s van Parys mee as afskeidsgeskenk (65). In sy beskrywing van sy kamer aan die Rand verwys hy na die Parys-foto’s, maar nie na Vincent se kunswerke nie.
Waarskynlik een van die interessantste hoofstukke is die negende een, getiteld “Vincent en Theo”. Enersyds is dit die hoofstuk wat ooreenstem met die jaar van die twee broers se sterftes (1890); andersyds illustreer dit ook hoe Vincent en Cor se paaie uitmekaar gaan. Cor sou ongetwyfeld gereageer het op die nuus van Vincent se dood in ‘n brief aan sy moeder. Daar is egter geen spoor van so ‘n brief nie. Twee maande later skryf hy wel aan Theo en Jo Bonger, Theo se jong vrou (wat na haar man en swaer se dood Vincent se kuns aan die wêreld sou bekendstel), oor die gebeure, en simpatiseer met Theo asof Vincent nie ook sy broer was nie; hy meen dat die dood ‘n beter uiteinde was vir Vincent (93).
Cor se lewe vertel die verhaal van die uitdagings van ‘n industriële era en van die avontuurlike moontlikhede wat dit meebring. Wat Schoeman regkry, is om die perspektiewe om te draai: die fokus is op Cor, terwyl sy beroemde broer ‘n randfiguur is (ʼn benadering wat ook deur die regisseur Edgar Reitz in sy Heimat-reeks gevolg is). Cor die predikantseun skroom nie om Nederland vir Engeland te verruil en met ‘n getuigskrif van die Nederduits Hervormde Kerk (waar is die dae?) sy heil in Lincoln te gaan soek nie. Uit die korrespondensie tussen Cor en Theo kom interessante brokkies inligting na vore, wat Theo miskien spesiaal uitgesoek het om ‘n metaalwerker soos Cor te interesseer, soos dat Gustave Eiffel besig was om ‘n toring vir Parys te ontwerp. Schoeman wy verskeie bladsye aan ‘n beskrywing van die stad Lincoln, wat veel interessanter is as die korrespondensie wat Vincent en Theo op daardie stadium oor Cor voer: Cor ondervind las van ‘n ongespesifiseerde probleem; die broers hoop “dis niks ernstigs nie” (54), die tipe aanhaling wat nie gebruik sou word indien daar meer inligting oor die onderwerp beskikbaar was nie. Schoeman haal dan ook dikwels Cor se briewe volledig aan, in plaas daarvan om net die gedeeltes te gebruik wat van toepassing is. (Sien byvoorbeeld ble 56–7.)
Die keerkant van Cor se loopbaankeuse is dat hy volgens sy briewe altyd te moeg en te besig was om te skryf. Hy belowe om ‘n foto te laat neem en te stuur, asof dit meer sou sê as ’n beskrywing van hoe hy sy nuwe lewe ervaar. Die verskil tussen die metaalwerker en sy kunstenaar-broer word veral deur die foto versus die portret of skets onderstreep.
Hoewel hierdie ‘n brongebaseerde biografie is, neem Schoeman soms standpunt in, veral wat Cor se geleidelike kerkafvalligheid betref: omdat daar geen bronne daaroor bestaan nie, spekuleer die skrywer of Cor, “ver van sy ouerhuis en familie, al bietjie afvallig van die kerk geword het”; “of hy ooit die moeite gedoen het om kerkdienste daar by te woon – want sy korrespondensie dui beslis op die teenoorgestelde” (56). Schoeman neem ook aan dat dit vir Cor ‘n troos sou gewees het dat Lincolnshire hom aan sy moederland herinner (58), terwyl alles daarop dui dat Cor op soek was na die onbekende, die avontuurlike.
Vir Jo was Suid-Afrika ‘n bestemming soos die Wilde Weste, en sy stel haar Cor voor as ‘n “Transvaalse cowboy op ‘n perd” (61; dit sou Jo se siening van Cor bly: ‘n moedige, opgewekte, praktiese, onskuldige, manlike man met ‘n ferm wil (63)), terwyl Vincent met sy meer filosofiese aanslag sy broer indirek in ‘n brief aan Theo aanmoedig om die ou wêreld vir die nuwe te verruil, omdat eersgenoemde “so oud is dat dit lyk of alles verval en wankel op ineenstorting” (61).
Dat Cor ‘n man van min woorde was, val veral op wanneer ‘n mens sy indrukke lees van wat tog ‘n eerste lang seereis na ‘n indrukwekkende bestemming, Kaapstad, was: “De aankomst in Z[ui]d Afrika was mooi, heerlijk weer en ook heerlijk gezicht op de Tafelberg en Kaapstad” (69). Schoeman het nodig om hierdie yl beskrywing aan te vul, en hy doen dit met ‘n lang aanhaling uit ‘n 1900-publikasie van die koerantkorrespondent George Steevens (69–70). Vir die reis na Johannesburg deur die Karoo gaan steek Schoeman kers op by Winston Churchill (71), oor wie se reise Schoeman in ander publikasies geskryf het, of by James Bryce (111). Met sy aankoms in die toekomstige Goudstad sien Cor die ware gesig van die ontwikkelende, nuwe wêreld: droogte, vrekkende diere, ‘n dreigende hongersnood. Die kort briefies in Nederlands wat hy Europa toe stuur, is deurspek met Engelse en Duitse woorde. Cor se (kriptiese) briewe vanaf die Cornucopia-myn handel, soos die voriges, oor die weer en insidente by die werk, met Engelse woorde hier en daar: “Wij hebben een nieuwen Superintendent gekregen, de vorige hebben wij door een strike, die wij tegen hem hielden er tusschen uit gejaagd” (94). Die volgende beskrywing kan net sowel van toepassing wees op vandag: “Dit is ‘n taamlik wilde land, en ‘n mens moet heeldag met jou rewolwer rondloop. Daar is geen plantegroei daar nie, niks behalwe sand nie, behalwe in die plekke wat oases is” (76). Nêrens in sy briewe is daar enige verwysing na sy waardering vir die natuurskoon nie; sy beskrywings van sy onmiddellike omgewing plaas eerder die klem op die gebrek aan gerief en op die byna onuitstaanbare hitte en stof.
Die hoofstuk “Op die Goudvelde” bevat inligting oor mynbedrywighede aan die Rand aan die einde van die 19de eeu, maar Schoeman doen ook moeite om deur middel van sintuiglike beskrywings Cor se leefwêreld op te roep, veral die gebrek aan slaap en die oorverdowende lawaai van die stampmeul. Die skrywer wy ook verskeie paragrawe aan die teenwoordigheid van die swart werksmag en hul rol op die myne; Cor het ook ‘n swart bediende gehad. Bekende figure soos Eugène Marais maak hier in ‘n ander gedaante hulle verskyning: Marais naamlik as onverskrokke koerantredakteur wat met die Kruger-regering bots (83).
Reeds in Februarie 1890 oorweeg Cor dit om Suid-Afrika vir Suid-Amerika te verruil, maar kom nie tot ‘n besluit nie.
In die mynbedryf het die Britse kultuur oorheers; wanneer Cor deur die NZASM in diens geneem word, keer hy as’t ware terug na sy Nederlandse wortels. Die hoofstuk “‘n Spoorwegingenieur” vertel die verhaal van die Nederlandse spoorweë in Suid-Afrika waarin Cor van Gogh as metaalwerker en kenner van stoomenjins ‘n groot, maar byna anonieme rol gespeel het. Schoeman doen sy bes as geskiedkundige om sin te maak van die brokkies twyfelagtige inligting wat mekaar dikwels weerspreek (sien ble 99–100). Die skrywer se talent lê egter daarin om die gapings aan te vul met behulp van ander getuies uit dieselfde periode, veral wat betref ou Johannesburg en Pretoria, asook die Hollandse gemeenskap in Suid-Afrika ten tye van die Boereoorlog (‘n tema wat Schoeman ook in ‘n ander publikasie, Broers in die stryd: Hollanders in die Anglo-Boereoorlog, ontgin het). Die skrywer se beskrywings van die fisies uitmergelende toestande in die werkswinkels is die styl van ‘n Émile Zola (na wie daar elders in die boek verwys word) waardig.
Wanneer ‘n mens jou afvra hoe die Europeërs die Boere aan die einde van die 19de eeu gesien het, is daar ʼn deurlopende tema in die algemeen beskikbare tekste (soos die Oorlogsdagboek van Veggeneraal De Villebois-Mareuil, in Afrikaans vertaal deur Johann Rossouw, ʼn bron wat nie in die bibliografie gelys word nie) van teleurstelling en selfs ontgogeling. Die Hollanders “het die Transvalers beskou as oneerlik, skynheilig, lui en onsindelik” (107). Die Boere het natuurlik ook nie net goeie indrukke gehad van die Nederlanders (wat volgens hulle swak skuts en perderuiters was) nie. Cor kon egter perdry en het uit die aard van sy werk baie van vuurwapens af geweet.
In 1897 reis Cor na Nederland om sy familie te besoek, maar ook om ‘n vrou te vind wat saam met hom terug na Afrika sou reis. Hy keer onverrigter sake terug na Suid-Afrika. (“Dit sou in elk geval min vroue se begeerte gewees het om as die vrou van ‘n spoorwegamptenaar na ‘n vreemde, verre land in Afrika te verhuis” (122).)
Hoofstuk 11 (“Die vrede word bedreig – Pretoria”) bind ‘n boeiende blik op Pretoria aan die einde van die 19de eeu, en veral op die lewensomstandighede van die werknemers van die NZASM (113). Schoeman moet die gebrek aan inligting oor Cor aanvul, maar ook probeer raai wat sy indrukke van die dorp is. Hy doen dit deur middel van aanhalings uit die memoires van ‘n ander Nederlander, Jan de Veer (114). Schoeman beskryf die ou middestad in besonderhede, asook die noue verbintenis wat daar toe tussen die twee lande was, sodat selfs koningin Wilhelmina se verjaarsdag op Burgerspark gevier is. Daar maak in 1896 ‘n Nederlandse boekhandel in die dorp oop, en Schoeman neem aan dat Cor, “wat in ‘n sterk leeskultuur grootgeword het” (116), dit sou verwelkom het, hoewel Cor nie verwys na enige boeke wat hy besig is om te lees nie (terwyl Vincent en Theo dikwels in hul korrespondensie oor ‘n nuwe publikasie sou praat).
Toe die oorlog uitbreek, was daar vir Cor min opsies, omdat daar van die werknemers van die NZASM verwag is “om hul deel in tye van nood te doen” (117). Gedurende die Jameson-inval het Cor byvoorbeeld langs die paaie en spoorlyne van Pretoria en Johannesburg wagdiens gedoen.
Vanaf hoofstuk 13, “Oorlogswolke – Transvaal”, is Schoeman die historikus in sy element; die “kleine man” Cor word tydelik ‘n figurant terwyl die linies vir die laaste bedryf van sy lewe opgestel word (135). Cor se lewe as soldaat word in hoofstuk 14, “ʼn Vegter aan die front”, beskryf. Belangrike inligting word hier met die leser gedeel, veral wat betref die NZASM se betrokkenheid by die mobiliseringsfase van die oorlog, waarin Cor as voorman by die Centrale Werkplaats ʼn groot aandeel gehad het. Cor sou waarskynlik sy ontslag moes versoek het voordat hy kon aansluit (141). Die werklike rede vir sy toetrede tot ʼn oorlog wat nie syne was nie, sal ons nooit weet nie; die skrywer lys ʼn paar moontlikhede op ble 141–2. Schoeman ken hierdie deel van die geskiedenis deeglik en skryf onderhoudend oor George de Villebois-Mareuil. Hy verwys in hierdie konteks na die “Vreemdelegioen”, wat waarskynlik ʼn tikfout is (ook in Nederlands was dit bekend as die “Vreemdelingenlegioen”), soos die term “memoires”, aangesien De Villebois oorlede is voordat hy sy memoires kon skryf; hy het wel ʼn oorlogsdagboek gehou (sien bo).
Cor se lewe eindig in Brandfort, wat deur ʼn bron beskryf word as “a dismal-looking place, consisting of a collection of small, squat houses, a store or two, and a small hotel” (149). Die skoolgebou, waarin Cor sou sterf, is in 1900 in ʼn militêre hospitaal omskep, maar die toestande was chaoties: dit was oorvol, en die mannekrag en mediese voorraad het vinnig afgeneem. Schoeman laat Cor deur sy woordkeuse ʼn “mannelijke” dood sterf: “Maar Cor swig nie voor watter siekte hom ook al in die hospitaal laat beland het nie. In stede daarvan neem hy sy lot in sy eie hande en, soos sy broer Vincent ʼn dekade tevore, sterf Cor nadat hy homself skiet” (154).
Die presiese plek waar Cor begrawe is, is nie bekend nie, hoewel DNS-toetse op die enigste moontlike drie grafte uitgevoer sou kon word, ʼn inisiatief wat miskien dieselfde toeriste wat Bloemfontein besoek omdat Tolkien daar gebore is, na Brandfort sou kon lok.
Die biografie van Cor van Gogh is onontbeerlike leesstof vir lesers wat ‘n buitelandse perspektief op die Suid-Afrika van die laat 19de eeu wil hê. Voor sy vertrek uit Nederland na Suid-Afrika het Jo na sy manlikheid en avontuurlus verwys: “Wat hij zoo vóór heeft boven anderen is zijn eenvoud en onschuld aan den eenen kant en zijn fermen wil en mannelijkheid daartegenover – Ze zullen hem daar niet beet hebben, daar ben ik niet bang over” (xv). Cor was aangetrokke tot die Nuwe Wêreld, hetsy Suid-Afrika of Suid-Amerika. Die land wat vir die leser geskets word, is ‘n plek van geleenthede, waar rykmansdrome gedroom word, maar ook waar die lewensomstandighede liggaam en siel tot die uiterste beproef. Volgens Schoeman se inligting was Cor van onskatbare waarde vir die NZASM, omdat hy opleiding ontvang het en danksy sy verblyf in Lincoln reeds as ‘n ervare “ingenieur” in Suid-Afrika aangekom het.
En tog is Cor se laste uiteindelik meer as sy bates en beloop sy boedel maar ‘n skamele £13. Suid-Afrika het duidelik nie vir hom geluk gebring nie: hy kon nie oorleef as delwer nie, sy huwelik met Anna Fuchs verbrokkel na agt maande, en hy gee sy lewe vir mense wat neersien op Hollanders se skietvermoë en geen geduld met senuweetoestande het nie.
Indien die biografie verdere drukke beleef (die publikasie verdien dit: dit is wel die verhaal van Cor van Gogh, maar is ook indirek, tot ʼn sekere mate, die verhaal van alle hoopvolle immigrante wat na Suid-Afrika gekom het), sou die skrywer moontlik die volgende inligting kon byvoeg: volgens Schoeman is Cor se lewe grootliks ongedokumenteer, maar dit het neerslag gevind in Etienne van Heerden se bekroonde roman 30 nagte in Amsterdam. Die titel van die toneelstuk oor die lewe van Cor van Gogh waarna Schoeman op bl xiv verwys, is nie Moe nie huil nie, moe nie treur nie, maar wel Cor, die ander Van Gogh; die akteur JP du Plessis het groot lof in Suid-Afrika, België en Nederland ingeoes vir sy vertolking van Cor van Gogh. Die Afrikaanse teks sowel as ‘n goeie Nederlandse vertaling deur Georgi Verbeeck van die Universiteit Maastricht is na afloop van ‘n opvoering in Zuid-Afrika Huis, Amsterdam, aan die biblioteek van die NZAV (Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereeniging) geskenk.
Omdat Schoeman hier inderwaarheid drie biografieë skryf (van Cor, Vincent en Theo van Gogh), word ‘n hele paar biografieë van Vincent van Gogh in sy bibliografie gelys, hoewel nie die Engelse biografie wat allerweë as die mees gesaghebbend beskou word nie: Steven Naifeh en Gregory White Smith se monumentale 953 bladsy lange Van Gogh – the life (2011). Hierdie bepalende biografie is geskryf in samewerking met die Van Gogh Museum in Amsterdam en is die vrug van tien jaar se navorsing.
Kommentaar
Dit is een van die beste resensies wat ek gelees het.
Baie dankie vir die kompliment, ek hoop ek het u lus gemaak om die boek te lees, dit is werklik boeiend.
Baie dankie, Naomi, vir die baie volledige resensie, dit word opreg waardeer. Dit is hierdie soort bydrae wat 'n mens motiveer om aan te hou skryf en beter te wil skryf. Na aanleiding van haar waarnemings, net 'n paar opmerkings.
Ek verwelkom haar uitspraak, "Dit is vir my ‘n pluspunt dat Schoeman die Hollandse aanhalings nie vertaal het nie; dit is grotendeels verstaanbaar vir die tipe leser wat geïnteresseerd is in hierdie soort publikasie, verleen ’n groter outentisiteit aan die teks." 'n Ander resensent van die boek het gereken dat lesers dit dalk moeisaam kan vind, maar ons (ek en die redaksie by Penguin/Random House) het dit doelbewus so gedoen omdat ons aanvaar het dat die Afrikaanssprekende leser wel die Hollands sou verstaan. In die Engelse weergawe het ons wel deurgaans die oorspronklike teks na Engels vertaal. Kommentaar oor hierdie aspek sal verwelkom word.
Wat die briewe betref wat Vincent en Theo soms vir mekaar in Frans geskryf het: ekself is glad nie Frans magtig nie en ons het gevolglik die Van Gogh Museum se Engelse vertaling as basis gebruik vir die vertaling na Afrikaans.
Wat betref die gerug dat kunswerke wat Vincent as trougeskenk aan Cor gestuur het, waarskynlik iewers in die huis van Paul Alberts (die ou hotel) was:
Vincent is in 1890 oorlede en Cor is eers agt jaar later, in 1898, getroud met Anna Fuchs. Daar kan dus geen sprake wees van trougeskenke van Vincent aan Cor nie, in watter vorm ook al.
Dan die titel van die toneelstuk oor die lewe van Cor van Gogh waarna op bl xiv verwys word. Naomi is heeltemal korrek oor die titel "Cor, die ander Van Gogh". Soos sy opmerk is die Afrikaanse teks by die biblioteek van die NZAV (Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereeniging) in die Zuid-Afrika Huis beskikbaar. Sommige bronne het egter daarna verwys as "Moe nie huil nie, moe nie treur nie", (nl wikipedia.org; en schamper.ugent.be) en ek het dit dan ook so weergegee. Naomi was destyds egter baie nou betrokke by die opvoering deur Woordspel Produksies en ek aanvaar hul titel as die meer korrekte een.
Beste Chris, baie dankie vir die inligting, ek waardeer dit. Ek is besig met die opstel van ’n Ensiklopedie van literêre vertalings in die taalpaar Frans-Afrikaans en wou indirek ook seker maak dat ek jou nie oorslaan nie! Terwyl ek jou boek gelees het, het ek gedink dat dit ’n wonderlike dokumentêr sou maak, waarin die Nederlanders ook sou belangstel. Jou foto's is reeds ’n voorsmaak van hoe treffend dit visueel sou kon wees, sit daarby ’n klankbaan met musiek uit daardie tyd en Nederlandse en Afrikaanse stemkunstenaars wat bv uit die briewe voorlees, dit sou ’n manier wees om hierdie boeiende verhaal internasionale blootstelling te gee dmv onderskrifte. Ek kan dink dat die Franse ook sou belangstel, omdat hulle hou van geskiedenis en omdat hulle in Auvers-sur-Oise hul eie Van Gogh-'museum' het. Jy sou die draaiboek kon skryf en jou diepgaande kennis oor die ABO en die buitelandse vrywilligers kon gebruik. Die boek en die dokumentêr sou mekaar kon komplementeer. In elk geval, baie geluk met ’n uitstekende stuk werk, jy het absoluut alles gesê oor Cor van Gogh en ’n unieke biografie geskryf wat nie oortref sal kan word nie.