Boekresensie: Die jaar toe Emma begin kook het deur Ilse de Korte

  • 0

diejaartoeemmabeginkookhet

Die jaar toe Emma begin kook het

Ilse de Korte

Tafelberg Uitgewers

ISBN: 9780624063957

Emma Lategan is op soek na werk ná sy haar pos as hoofsjef by die vyfster-Oranjedrif in haar tuisdorp Upington verloor. Volgens haar is sy weens ’n “meningsverskil” daar weg, maar dis sag gestel. Dink jou ’n rugbyspeler in, sy beterweterige, opgedolliede bruid, dié se ma, die Noord-Kaapse hitte, ‘n hoenderpastei en ’n sjef wat nie huiwer om haar baas met ’n mes te gooi nie in – dan word die volle omvang van Emma se rede om Oranjedrif vir die Chantilly-restaurant in Hermanus te verruil duidelik.

Emma se werksonderhoud geskied via Skype. Die eienaar van Chantilly kuier by sy huis in die suide van Frankryk. Vanweë swak ontvangs is daar geen beeld nie, maar die enigmatiese Greg van Heerden bekoor Emma onmiddellik met sy mooi stem. Hy toon ook duidelike belangstelling in haar nuutskeppings en kreatiewe disse. Tog maak sy afsydigheid en traagheid om direk met haar te praat, haar goed die josie in. Die interaksie tussen Emma en hierdie “blonde Adonis met donkerblou oë” dien as hoofkatalisator vir die gebeure in Ilse de Korte se debuutroman.

Emma se eerste jaar op Hermanus word chronologies per hoofstuk weergegee, met elke hoofstuktitel wat verband hou met die maand se kosmanewales. In hierdie opsig herinner dit aan Laura Esquivel se magies-realistiese Like water for chocolate – ’n roman waar kos en die menslike bestaan ten nouste verweef is.

Dit is verfrissend om ’n slag ’n onafhanklike, sterk vroulike protagonis in ’n chicklit-roman teë te kom. Emma baan haar eie weg om ’n sukses te maak van haar nuwe loopbaan, daag manlike gesagsfigure uit, en hef beide die restaurant en dié se personeel op deur geesdrif, harde werk en ’n “vattie k*kkie”-houding. Die taal is boonop baie hedendaags en lekker leesbaar, soos De Korte met moderne Afrikaans en Hermanus se streekstaal speel.

Dinge verloop nie klopdisselboom by Chantilly nie, besef Emma vinnig toe een van die kelners trots “Gister se sop, Mevrou. Die sous-sjef het dit gemaak. Hy maak ons souse en soppe. Sommer alles wat slap is” vir ’n geskokte restaurantganger aankondig. Die roman is propvol komiese oomblikke soos dié, en De Korte se duidelike sin vir humor kom deurgaans voor.

Emma skroom nie om te vloek of moedswillige klante op hul plek te sit nie. Haar humeur vlam vinnig op en geen voedselfilistyn word geduld nie. “Obviously weet hy nie wat ‘blou’ beteken nie en het hy hom net probeer fênsie hou. Hy wil die vleis seker rare hê. Gaan sê vir die simpel man sy steak kom nou. Rare,” is tipies Emma. Sy is nie op haar mond geval nie en het ‘n sterk persoonlikheid, wat ook tot onderonsies met Greg bydra.

De Korte behandel sensitiewe sake met deernis en insig, en takel kwessies wat nie beperk is tot dit wat gewoonlik ter sprake kom in argetipiese chicklit nie. Armoede, ongewenste swangerskappe, afwesige vaderfigure en bendegeweld speel deurlopend ’n rol in Emma in se personeellede se lewens, en sy dien as ’n steunpilaar en vertroueling vir die vrouens.

Alhoewel die roman wemel van interessante mense, poog De Korte om te veel karakters en storielyne bekend te stel, wat afbreuk doen aan die algehele narratief en nie genoeg spasie skep vir afsonderlike karakterontwikkeling nie. Sekere storielyne neem so lank om opgelos of ontwikkel te word dat mens daarvan vergeet en eers driekwartpad deur die boek weer daaraan herinner word. Party van die storielyne is voorspelbaar en toon duidelike invloede van meer soetsappige, Eurosentriese chicklitfilms en -boeke.

Hierdie is nóg Mills & Boon, nóg Fifty Shades of Grey, nóg Germaine Greer. Die jaar toe Emma begin kook het pas gerieflik in sy eie kategorie in: Afrikaanse chicklit vir enige Merlot-drinkende kosfundi en boekliefhebber op soek na spitsvondige en lekker vakansieleesstof. Emma is annie brand!

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top